YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 25

25
Die Israeliete moet 'n tempel maak
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet met die Israeliete praat en sê hulle moet elkeen vir My 'n present bring. Elkeen moet self besluit wat hy vir My wil gee, en julle moet sy present aanvaar. 3Hier is 'n lys van presente wat die mense mag gee en wat julle mag aanvaar: goud, silwer, brons, 4blou, pers of rooi wol-materiaal of linne-materiaal of bokhaar-materiaal. 5Hulle mag ook skaapvelle bring wat hulle rooi gekleur het, velle wat hulle sag gemaak het, doringhout, 6olyf-olie vir die lampe, balsem vir die salf-olie en vir wierook, 7 oniks en ander edelstene om op die priester se skouer-kleed en borssak vas te sit.
8“Julle moet dan vir My 'n tempel bou sodat Ek tussen julle kan woon. 9Ek het vir jou gewys hoe julle die tempel-tent moet maak, en ook alles wat daarin moet wees. Julle moet dit presies maak soos Ek vir jou gewys het.”
Die kis
10Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet 'n kis van doringhout maak. Dit moet twee en 'n halwe el lank, een en 'n halwe el breed en een en 'n halwe el hoog wees. 11Julle moet dit oortrek met skoon goud, binne en buite, en julle moet dan 'n rand van goud rondom die kis se kante sit. 12Julle moet vier goue ringe maak en julle moet dit vassit aan die onderste vier hoeke van die kis. Daar moet twee ringe aan die een kant wees en twee ringe aan die ander kant. 13Julle moet doringhout neem en julle moet dra-pale maak om die kis te dra. Julle moet die dra-pale ook oortrek met goud. 14Julle moet die dra-pale deur die ringe steek wat aan die kante van die kis is. Dan moet julle die kis met die dra-pale dra. 15Die dra-pale moet altyd in die ringe van die kis bly. Julle mag die pale nooit uit die ringe uithaal nie. 16Ek sal vir julle die tien gebooie gee. Julle moet dit in die kis sit. 17Julle moet 'n deksel van skoon goud maak. Dit moet twee en 'n halwe el lank en een en 'n halwe el breed wees. 18Dan moet julle twee gerubs van goud maak. Julle moet die gerubs op die twee kante van die deksel sit. 19Die een gerub moet op die een kant van die deksel wees en die ander gerub op die ander kant. Die gerubs en die deksel moet een stuk goud wees. 20Die gerubs se vlerke moet oop wees sodat hulle vlerke die deksel toemaak. Hulle gesigte moet na mekaar toe wees en hulle moet na die deksel kyk. 21In die kis moet julle die tien gebooie sit wat Ek vir julle sal gee, en julle moet die deksel op die kis sit. 22As Ek vir jou iets wil sê, dan sal Ek hier aan jou verskyn. Ek sal bokant die deksel wees, tussen die twee gerubs wat op die kis is waarin die tien gebooie is. Ek sal daar met jou praat en vir jou alles sê wat jy vir die Israeliete moet sê.”
Die tafel
23Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet 'n tafel van doringhout maak. Dit moet twee el lank, een el breed en een en 'n halwe el hoog wees. 24Julle moet dit oortrek met skoon goud en julle moet ook nog 'n rand van goud rondom die tafel se kante sit. 25Julle moet 'n rand rondom die tafel vassit. Die rand moet so breed soos 'n hand wees, en aan die rand moet nog 'n rand van goud wees. 26Julle moet ook vier goue ringe maak en julle moet die ringe vassit onder aan die vier hoeke van die tafel, een ring by elke tafel-poot. 27Die ringe moet naby die rand wees sodat julle dra-pale daardeur kan steek om die tafel te dra. 28Julle moet die dra-pale van doringhout maak en julle moet dit oortrek met goud. Julle moet die tafel met die dra-pale dra. 29Julle moet ook skottels en panne en kanne en bakke maak. Julle moet die drank-offers daarmee op die altaar gooi. Julle moet dit alles van skoon goud maak. 30Julle moet altyd offer-brood vir My neersit op hierdie tafel.”
Die lampstaander
31Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet 'n lampstaander van skoon goud maak. Die lampstaander moet 'n voetstuk hê, 'n stam, blomme en blomknoppe. Dit moet alles een stuk goud wees. 32Daar moet ses arms aan die lampstaander wees: drie arms aan die een kant en drie arms aan die ander kant. 33Daar moet drie blomme aan elke arm wees. Hulle moet lyk soos die blomknoppe en blomme van amandelbome. 34Daar moet vier blomme aan die stam wees. Hulle moet ook lyk soos die blomknoppe en blomme van amandelbome. 35Waar twee arms van die lampstaander bymekaarkom, moet daar 'n blomknop wees. 36Die blomknoppe en die arms moet alles een stuk goud wees, skoon goud wat julle met 'n hamer geslaan en gevorm het. 37Julle moet sewe lampe maak en julle moet die lampe op die staander sit sodat die lig voor die lampstaander skyn. 38Julle moet die lampe van skoon goud maak, en ook die dekseltjies wat die lampe doodmaak. 39Julle moet 'n talent skoon goud neem om dit alles te maak. 40Julle moet dit maak presies soos Ek vir jou op die berg gewys het.”

Currently Selected:

Eksodus 25: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy