YouVersion Logo
Search Icon

HOOGLIED 4

4
Jong man:
1“Jy is mooi, my beminde,
so pragtig!
Jou oë agter jou sluier
is soos die oë van ’n duif.
Jou hare golf weg soos bokke
wat afstroom
teen die Gileadberge.
2Jou tande is so wit soos skape,
so pas geskeer en gewas.
Hulle is almal tweelinge
en nie een van hulle is alleen nie.
3Soos rooi, gevlegte lint
is jou lippe,
pragtig is jou mond.
Soos lieflike, geurige granate
is jou wange onder jou sluier.
4Jou nek is so sierlik
soos die Dawidstoring
wat versier is
met duisend skilde
van sy helde.
5Jou twee borste
is soos tweeling-takboklammers
wat tussen die lelies wei.
6Wanneer die dag aanbreek
en die skaduwees verdwyn,
wil ek na die berg van mirre toe gaan,
na die heuwel van wierook.
7My beminde, alles aan jou
is mooi.
Daar is geen fout aan jou nie.
8“My bruid, kom saam met my
van die Libanonberg af.
Kom kyk van die kruin
van Amana,
van bo van Senir en Hermon af,
waar die leeus bly
en die luiperds lê.
9Jy het my opgewonde gemaak,
my suster, my liewe bruid.
’n Skalkse kyk van jou oë,
een kyk na die halssnoer
om jou nek
het my in vervoering gebring.
10Om jou te liefkoos,
is wonderlik, my liewe bruid.
Dit is soveel beter as wyn.
Jou parfuum ruik lekkerder
as al die geurige kruie.
11Jou lippe proe soos heuning,
my bruid.
As jy praat, is dit so heerlik
soos heuning en melk.
Jou klere ruik so lekker
soos die Libanon.
12“My suster, my bruid,
is ’n tuin wat toegesluit is.
Sy is ’n fontein wat toegebou
en verseël is.
13Sy is ’n pragtige boord
van granaatbome,
met uitsoekvrugte,
hennastruike en nardus,
14nardus en saffraan,
kalmoes en kaneel
saam met
geurige kruie,
mirre en aalwyn,
saam met al die geurigste kruie.
15Sy is ’n fontein in my tuin,
’n put
met borrelende vars water
wat van die Libanon af stroom.”
Jong vrou:
16“Begin waai, noordewind,
kom, suidewind,
kom waai deur my tuin!
Waai sy geure aan
na my liefling
dat hy na sy tuin toe kan kom
om sy heerlike vrugte te eet.”

Currently Selected:

HOOGLIED 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy