SPREUKE 27
NLV
27
1Moenie te veel praat
oor wat môre kan gebeur nie.
Jy weet glad nie
wat môre gaan oplewer nie.
2Moenie jouself
op die skouer klop nie.
Laat iemand anders jou
liewer prys.
3Dit is swaar
om klip en sand aan te dra,
dit is nog swaarder
om die ergernis te verdra
wat ’n dwaas jou veroorsaak.
4Woede kan wreed wees
en toorn ’n onstuitbare vloed,
maar teen jaloesie
is daar geen verweer nie.
5’n Openlike bestraffing
is beter as liefde
wat onsigbaar bly.
6Die wonde veroorsaak deur iemand
wat lief is vir jou
is baie beter as die baie soene
wat jou vyande jou wil gee.
7As jy genoeg geëet het,
is heuning
nie meer lekker nie.
Wanneer iemand honger is,
is selfs ’n bitter ding lekker.
8Iemand wat wegloop
van sy huis af,
is soos ’n voël
wat sy nes verlaat.
9Eerlike raad van ’n vriend
is so aangenaam soos parfuum
en so heerlik soos wierook.
10Moenie jou rug draai
op jou vriend
of op iemand
wat jou pa se vriend was nie.
Wanneer jy moeilikheid het,
hoef jy nie
na jou broer se huis te gaan nie.
’n Buurman wat naby is,
is baie meer werd
as ’n broer wat ver is.
11As jy wys is, my seun,
sal dit my gelukkig maak.
Dan sal ek kan terugantwoord
wanneer ek bespot word.
12’n Verstandige mens
sien onheil kom
en kruip daarvoor weg.
Onverstandige mense
loop oopoë daarin
en betaal die prys daarvoor.
13Vat iemand se klere
as hy borg staan
vir ’n vreemdeling.
Hou dit as pand
wanneer hy borg staan
vir ’n vreemde vrou.
14As iemand vroegoggend
sy buurman
luidrugtig môre-sê,
kan dit lyk
of hy hom eerder vervloek.
15’n Vrou wat aanhou neul,
is soos ’n aanhoudende gedrup
op ’n reëndag.
16Om haar te probeer stilkry,
is net so goed
as om die wind
te laat ophou waai
of olie te probeer vashou
met jou hande.
17Yster slyp yster
en so vorm vriende mekaar.
18Wie sy vyeboom versorg,
eet van sy vrugte.
Wie omsien na die belange
van sy werkgewer,
sal voordeel daaruit trek.
19Soos jou gesig weerkaats
in water,
so wys iemand se hart
wat in hom aangaan.
20Die doderyk
en die onderaardse diepte
word nooit vol
van dooie mense nie.
So kry ’n mens se begeertes
ook nooit ’n einde nie.
21’n Smeltkroes bepaal
die gehalte van silwer,
die vuuroond bepaal
die suiwerheid
van die goud.
’n Mens se waarde word bepaal
deur wat mense van hom sê.
22Al sit jy ’n dwaas
in ’n stampblok
en al maal jy hom
tussen die graankorrels
in die meule,
jy sal sy dwaasheid
nooit uit hom kry nie.
23Jy moet goed weet
hoe dit met
jou kleinvee gaan,
jy moet omsien
na jou veetroppe.
24Rykdom is nie vir altyd nie;
selfs ’n koning se kroon
hou nie geslagte lank nie.
25As daar van ou gras
hooi gemaak is,
die gras weer begin uitloop,
en die voer uit die berge
ingebring is,
26sal die skape weer wol gee
en die bokke verkoop word
vir die prys van ’n stuk grond.
27Daar sal genoeg bokmelk wees
om jou en jou gesin
en ook nog jou slavinne
te onderhou.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling