YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 38

38
Hiskia se siekte en herstel
1Omtrent daardie selfde tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe vir die koning hierdie boodskap: “So sê die Here: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie.”
2Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai. Hy het tot die Here gebid: 3Here, onthou hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly. Ek het probeer doen wat goed is.” Toe het hy bitterlik gehuil.
4Toe het hierdie boodskap van die Here na Jesaja gekom: 5“Gaan terug na Hiskia toe en sê vir hom: Dis wat die Here, die God van jou voorouer Dawid sê: Ek het jou gebed verhoor. Ek het jou trane gesien. Ek voeg vyftien jaar by jou lewe. 6En Ek sal jou en hierdie stad uit die mag van die koning van Assirië red. Ek sal hierdie stad beskerm.
7“En dit sal die teken wees wat die Here vir jou gee om te bewys dat Hy sal doen wat Hy belowe het: 8Ek sal sorg dat die son se skaduwee tien trappe op Agas se sonwyser terugskuif!” Die skaduwee op die sonwyser het toe tien trappe teruggeskuif.
Hiskia se loflied
9Ná koning Hiskia herstel en gesond geword het, het hy hierdie gedig oor sy ervaring geskryf:
10Ek het gesê:
“Moet ek doodgaan
in die fleur van my lewe?
Moet my beste jare
gesteel word?”
11Ek het gesê:
“Ek sal nooit weer
die Here God sien
in die land van die lewendes nie.
Ek sal nooit weer
my vriende sien
wat in hierdie wêreld leef nie.
12My lewe is weggeblaas
soos ’n herder se tent in ’n storm.
Dis kortgeknip
soos wanneer ’n wewer
’n stuk materiaal afsny.
Skielik het U my lewe
laat verbygaan.
13Heelnag lank
het ek geduldig
op U gewag.
Maar ek is uitmekaargeskeur
soos deur leeus.
Skielik het U my lewe
laat verbygaan.
14Ek was deurmekaar
en het soos ’n voël geklink,
soos ’n duif wat kla.
My oë het moeg geword
soos ek opgekyk het
na die hemel toe vir hulp.
Ek is in die moeilikheid, Here.
Help my!”
15Maar wat kon ek sê?
Die Here het met my gepraat.
Hy het dit alles gedoen.
Nou sal ek my hele lewe lank
nederig wees
oor wat ek moes verduur het.
16Here, u dissipline is goed,
want dit lei tot lewe
en gesondheid.
U het my gesondheid teruggegee
en my toegelaat om te lewe!
17Ja, dit was vir my goed
om al hierdie angs te ervaar,
want U het my gered
van die dood.
U het al my sondes vergewe.
18Want in die graf
kan niemand U prys nie.
Dooies kan nie u lof
verkondig nie.
Dié wat gesterf het,
kan nie hoop op u trou nie.
19Net die lewendes kan U loof,
soos ek vandag doen.
Vaders moet hulle kinders
van u getrouheid vertel.
20Die Here is my redder!
Met musiekinstrumente
sal ons elke dag van ons lewe
u lof besing
in die tempel van die Here.
21Jesaja het toe gesê: “Bring ’n vyekoek, sit dit op die sweer, en hy sal gesond word.”
22Hiskia het gevra: “Watter teken sal bewys dat ek weer na die tempel van die Here toe sal gaan?”

Currently Selected:

JESAJA 38: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy