YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 37

37
Hiskia soek die Here se hulp
1Nadat koning Hiskia die verslag gehoor het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het na die tempel van die Here gegaan om te bid.
2Hy stuur toe Eljakim, die administrateur van die paleis, Sebna, die hof se sekretaris, en die leierpriesters na die profeet Jesaja seun van Amos. Hulle het almal rouklere aangehad. 3Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê koning Hiskia: Dit is ’n dag waarop ons in die moeilikheid is. Ons is beledig en verneder. Ons is soos wanneer ’n kind gebore moet word, maar die ma het nie die krag daarvoor nie. 4Miskien het die Here u God gehoor hoe die verteenwoordiger van die Assiriese koning die lewende God uitgetart het, en sal Hy hom straf oor sy woorde. Bid tog vir ons klein groepie wat nog oor is.”
5Nadat koning Hiskia se amptenare die koning se boodskap aan Jesaja oorgedra het, 6het die profeet geantwoord: “Sê vir julle meester: ‘So sê die Here: Moenie jou ontstel oor die godslasterlike woorde wat die Assiriese koning se boodskappers teen My geuiter het nie. 7Luister! Ek gaan seker maak dat die koning ’n gerug kry uit Assirië sodat hy huis toe moet gaan. En Ek sal maak dat hy huis toe wil gaan. Daar sal Ek hom met ’n swaard laat doodmaak.’”
8Intussen het die Assiriese verteenwoordiger Jerusalem verlaat en teruggegaan om by die koning te kom. Die koning is van Lakis af weg. Hy het Libna aangeval. 9Kort daarna het koning Sanherib gehoor dat koning Tirhaka van Etiopië ’n groot mag gelei het om die Assiriërs te kom aanval. Voor die koning van Assirië vertrek het om die aanval af te weer, het hy hierdie boodskap na Hiskia in Jerusalem gestuur:
10“Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou om die bos lei met beloftes dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie. 11Jy weet mos wat die konings van Assirië gedoen het in die een land na die ander. Hulle het almal platgeloop wat in hulle pad gestaan het. Sal jy dan gered word? 12Het die gode van ander nasies hulle gered, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Die vorige konings van Assirië het hulle almal uitgewis! 13En wat het met die koning van Hamat en die koning van Arpad gebeur? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14Nadat Hiskia die briewe ontvang het en dit gelees het, het hy na die tempel van die Here gegaan. Hy het die briewe voor die Here oopgesprei. 15Toe het hy hierdie gebed voor die Here gebid: 16Here, Almagtige, God van Israel, u troon is tussen die magtige gerubs! U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U alleen het die hemele en die aarde geskep. 17Hoor tog, Here, luister tog! Open u oë, Here, en kyk! Luister hoe Sanherib die lewende God uitgetart het.
18“Dit is so, Here, dat die konings van Assirië al hierdie nasies en hulle lande verwoes het, net soos die boodskap sê.
19“Hulle het inderdaad die gode van hierdie nasies in die vuur gegooi en dit verbrand. Natuurlik kon die Assiriërs dit vernietig! Want dis nie gode nie, slegs beelde van hout en steen wat mense se hande gemaak het!
20Here ons God, red ons tog uit sy hand. Dan sal al die koninkryke van die aarde weet dat U alleen, Here, God is.”
Jesaja voorspel Juda se uitkoms
21Jesaja seun van Amos het toe hierdie boodskap na Hiskia gestuur:
“So sê die Here, die God van Israel: Dis my antwoord op jou gebed oor koning Sanherib van Assirië. 22Dit is die boodskap wat die Here oor Sanherib sê:
“Die jong meisie van Sion
sien neer op jou.
Sy lag oor jou.
Die dogter van Jerusalem spot,
sy skud haar kop
as jy weghardloop.
23Vir wie dink jy het jy beledig
en bespot?
Teen wie het jy
jou stem verhef?
En na wie het jy ewe hoogmoedig
neerhalend verwys?
Dit was die Heilige van Israel!
24Deur jou boodskappers
het jy met die Here gespot.
Jy het gesê:
‘Met my baie strydwaens
het ek die hoogste berge
oorwin,
ja, selfs die hoogste pieke
van die Libanon.
Ek het sy hoogste seders
en sy mooiste sipresse
afgekap.
Ek het tot in die verste uithoeke
en die diepste woude gegaan.
25Ek het putte gegrawe
in talle veraf lande.
En ek het my verfris
met hulle water.
Ek het selfs die riviere
van Egipte
drooggelê sodat my soldate
daar kon deurtrek!’
26“Het jy dan nie geluister nie?
Dit was Ék, die Here,
wat so besluit het,
lank gelede al.
Lank terug het Ek beplan
wat Ek nou laat gebeur:
dat jy versterkte stede verwoes
en in puinhope verander.
27Dis hoekom hulle inwoners
so magteloos was.
Daarom was hulle
maklike prooi vir jou.
Hulle is so hulpeloos
soos die gras,
hulle vertrap so maklik
soos groen spruite.
Hulle is soos gras
op ’n huis se dak
wat maklik deur die son
verskroei word.
28“Ek ken jou baie goed.
Ek weet of jy sit
of gaan of kom.
Ek weet ook hoe jy
teen My tekere gegaan het.
29Oor jou arrogansie teen My,
wat Ek self gehoor het,
sit Ek ’n haak deur jou neus.
Ek sit ’n stang tussen jou tande.
Ek laat jou teruggaan
op die pad
waarlangs jy gekom het.
30“Hiskia, vir jou gee Ek
die volgende teken:
“Hier is die bewys
dat die Here
hierdie stad sal bewaar:
“Vanjaar sal julle eet
wat vanself opkom.
Volgende jaar sal julle eet
wat vanself opkom.
Maar in die derde jaar
sal julle saai en oes.
Julle sal wingerde bewerk
en druiwe eet.
31Dié in Juda
wat die beleg oorleef het,
sal weer wortelskiet
en vrugte dra.
32Want uit Jerusalem
sal ’n oorblyfsel kom
en uit Sionsberg
’n groep oorlewendes.
Die ywer van die Here,
die Almagtige,
sal daarvoor sorg.
33“So sê die Here
oor die koning van Assirië:
“‘Hy sal nie in hierdie stad inkom
om ’n pyl af te skiet nie.
Hy sal nie skilde
teen die stad gebruik
of beleëringswalle
daarteen opgooi nie.
34Met die pad
waarlangs hy gekom het,
sal hy teruggaan
en nie die stad binnekom nie.’
Dit sê die Here.
35‘Hierdie stad sal Ek beskerm
en dit red
ter wille van my eer
en ter wille van my dienaar Dawid.’”
36Daardie nag het die engel van die Here na die Assiriese kamp toe gegaan. Hy het 185 000 Assiriese soldate doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, was daar oral net lyke! 37Toe het koning Sanherib van Assirië kamp opgeslaan. Hy het teruggegaan na Nineve toe en daar gebly.
38Eendag terwyl hy in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sareser hom met hulle swaarde vermoor. Hulle het na Ararat toe gevlug. ’n Ander seun, Esarhaddon, het die volgende koning van Assirië geword.

Currently Selected:

JESAJA 37: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy