YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 30

30
Juda se waardelose vennootskap met Egipte
1“Verwoesting staan vas
vir my opstandige kinders,”
sê die Here.
“Julle maak planne
wat nie van My kom nie.
Julle smee vennootskappe
wat nie deur My
geïnspireer is nie.
Julle stapel sonde op sonde.
2Sonder om My te raadpleeg
gaan julle Egipte toe
om hulp te soek.
Julle stel julle vertroue
in die farao.
Hy moet julle beskerm!
3Deur op die farao
te vertrou,
sal julle verneder word.
Egipte gaan julle
in die skande steek!
4Alhoewel sy mag strek
tot by Soan en Ganes,
5sal julle teleurgesteld staan.
Hy sal julle nie kan help nie.
Egipte bring net skande
en vernedering!”
6’n Aankondiging oor die diere
in die Negev:
Hulle bring skatte om te betaal
vir die hulp van Egipte.
Hulle donkies en kamele
is gelaai met geskenke.
Hulle reis deur ’n land
vol swaarkry en gevaar.
Hier kry jy leeus en slange
en vlieënde drake.
Hulle kom soek hulp
by ’n volk
wat nie kan help nie.
7Egipte se beloftes
is waardeloos!
Ek noem hom die draak
wat tot niks in staat is nie.
’n Waarskuwing vir opstandige Juda
8Gaan sit nou
en skryf hierdie woorde neer
oor Egipte.
Dit sal vir altyd vertel
van Israel se ongeloof.
9Hierdie mense
is koppige rebelle
wat weier om hulle te steur
aan die opdragte
van die Here.
10Hulle sê vir die sieners:
“Bly stil, ons wil niks meer hoor
van wat julle sien nie!”
En vir die profete sê hulle:
“Ons wil nie die waarheid
hoor nie!
Sê vir ons wat ons wil hoor,
dat goeie dinge
met ons gaan gebeur.
Vertel vir ons leuens!
11Vergeet van al die slegte dinge!
Ons het meer as genoeg gehoor
van die ‘Heilige van Israel’.
Ons is moeg om te hoor
wat Hy kwansuis
vir ons wil sê!”
12Daarom antwoord
die Heilige van Israel self:
“Julle het my waarskuwing
geïgnoreer,
en eerder vertrou
op leuens en bedrog.
13Daarom sal rampe
skielik oor julle kom.
Dit sal wees soos ’n muur
wat oorhang en dreig
om om te val.
En dan skielik, onverwags,
sal dit inmekaarstort.
14Julle sal soos ’n kleipot
stukkend breek.
Julle sal so fyn gebreek word
dat daar nie eers ’n stukkie
sal oorbly
wat groot genoeg is
dat ’n mens ’n kooltjie
daarop kan dra,
of water van die put
kan skep nie.”
15So sê die
oppermagtige Here,
die Heilige van Israel:
“Eers as julle na My draai
en tot rus kom,
sal julle gered word.
Deur stil te raak
en te vertrou,
sal julle sterk word.
Maar julle wou nie.
16Julle het gesê:
‘Nee, ons hulp kom
van Egipte.
Hulle gee ons vinnige perde
om mee te veg.’
Nou, dan sal julle vinnig ry.
Maar julle agtervolgers
sal vinniger wees!
17Een van hulle
sal duisend van julle jaag.
En vyf van hulle
sal julle almal laat wegvlug.
Julle sal bly staan
soos ’n enkele vlagpaal
op ’n berg,
soos ’n vaandel
op ’n heuwel.”
Seën vir die Here se volk
18Tog wag die Here gretig
dat julle terugkom
na Hom toe.
Hy wil genade aan julle bewys.
Die Here is ’n God
wat regverdig is.
Hy seën die mens
wat op Hom vertrou vir hulp.
19Volk van Sion,
wat in Jerusalem woon,
julle sal nie meer huil nie.
Hy sal genade
aan julle bewys
as julle Hom vra
om julle te help.
Hy sal dadelik reageer
as julle na Hom roep.
20Die Here het jou
brood van swaarkry laat eet
en water van lyding laat drink.
Maar Hy sal nog by jou wees
om jou te leer.
Jy sal Hom met jou eie oë sien,
die Een wat jou leer.
21Jy sal ’n stem hoor sê:
“Hier is die regte pad,
loop hierlangs.”
22Daardie dag sal jy
al jou silwer afgode
en goue beelde stukkend slaan.
Jy sal hulle weggooi
soos smerige klere.
“Aaklig!” sal jy sê.
“Weg daarmee!”
23Dan sal die Here jou seën.
Jy sal genoeg reën kry
wanneer jy plant.
Daar sal groot oeste wees
en baie weiveld vir jou vee.
24Die beeste en die donkies
wat die grond omploeg,
sal die beste graan vreet
wat met graaf en gaffel
gemeng is.
25Daardie dag sal jou vyande
vernietig word.
Hulle torings sal omgegooi word.
Daar sal strome waters wees
wat van elke berg en heuwel
af kom.
26Die maan sal so skerp wees
soos die son.
En die son sal sewe keer
helderder wees.
Dit sal lyk soos die son
van sewe dae.
So sal dit wees die dag
wanneer die Here sy volk
begin genees
en die seerplekke verbind
waar Hy hulle geslaan het.
27Kyk! Die Here kom
uit die verte.
Sy woede breek los,
omring deur donker wolke
soos rook.
Sy lippe is vol wraak.
Sy woorde verteer soos vuur.
28Sy woede kom
soos vloedwater oor sy vyand.
Hy voer hulle weg
en sif die trotse nasies.
Hy gaan ’n toom aan hulle sit
en hulle weglei
om hulle te vernietig.
29Maar julle sal sing,
van blydskap
soos wanneer julle feesvier.
Julle sal so bly wees
soos wanneer ’n fluitspeler
’n groep pelgrims begelei
na Jerusalem,
op pad na die berg van die Here,
na die Rots van Israel.
30En die Here sal roep
met ’n magtige stem.
Woedend sal Hy
sy vyande platslaan.
Hy sal hulle bykom
met verterende vlamme,
met ’n wolkbreuk,
met donderstorms
en reuse haelstene.
Hy sal hulle vernietig.
31Die stem van die Here
sal Assirië verpletter.
Met sy septer
sal Hy hulle platslaan.
32En wanneer Hy hulle slaan
met sy roede,
sal sy volk tydhou met musiek
van simbale en liere.
Die Here self sal teen hulle veg
met sy magtige arm.
33Die brandoond is lankal klaar
vir die Assiriese koning.
’n Groot hoop hout
is reggesit daarvoor.
Die asem van die Here
sal dit aan die brand steek
soos die vuur van ’n vulkaan.

Currently Selected:

JESAJA 30: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy