YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 10

10
1Verwoesting wag vir die onregverdige regters, vir hulle wat onregverdige wette uitvaardig. 2Hulle ontneem die armes en verdruktes van regverdige regspraak. Ja, hulle besteel weduwees en weeskinders.
3Wat gaan julle doen die dag as Ek verwoesting uit ’n ver land na julle toe stuur? Na wie toe sal julle dan draai vir hulp? Waar sal julle skatte veilig wees? 4Dan sal Ek julle nie help nie! Julle sal soos gevangenes struikel, of tussen die dooies lê.
Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.
Oordeel teen Assirië
5“Verwoesting wag vir Assirië,
die sweep waarmee Ek straf.
Sy militêre krag
is ’n stok in my hand.
6Ek stuur Assirië teen hierdie
goddelose klomp mense.
Hy sal hulle namens My straf.
Hy sal hulle kom plunder,
hulle soos modder
onder sy voete vertrap.
7Maar die koning van Assirië
sal nie weet
dat Ek hom stuur nie.
Hy sal dink
dat hy die mense aanval
as deel van sy plan
om die hele wêreld
te verower.”
8Hy sal sê: “Elkeen van my prinse sal een van die dae ’n koning wees wat oor ’n verowerde land regeer. 9Ons sal Kalne net soos Karkemis verwoes. Hamat sal voor ons val soos Arpad. En ons sal Samaria vernietig net soos ons Damaskus vernietig het. 10Ja, ons het baie koninkryke verwoes wie se gode veel sterker is as Jerusalem en Samaria s’n. 11As ons Samaria en haar gode vernietig het, sal ons Jerusalem ook verwoes!”
12Nadat die Here die koning van Assirië gebruik het om sy doel in Jerusalem#10:12 Grondteks Sionsberg en Jerusalem. te bereik, sal Hy teen die koning van Assirië draai en hom straf, want hy is trots en arrogant.
13Hy spog: “Deur my eie krag en slimmigheid het ek hierdie oorloë gewen. Deur my eie krag het ek baie lande gevange geneem, hulle konings doodgemaak en hulle skatte weggedra. 14Omdat ek groot is, het ek hulle rykdomme geplunder soos eiers in ’n nes geplunder word. Ek het koninkryke bymekaargemaak soos ’n boer eiers bymekaarmaak. Niemand kan ’n vlerk teen my oplig of sy mond oopmaak om te probeer protesteer nie!”
15Kan die byl grootpraat dat hy sterker is as die een wat hom gebruik? Of is ’n saag groter as die een wat saag? Kan ’n sweep slaan sonder dat ’n hand dit beweeg? Kan ’n kierie op sy eie loop?
16Luister mooi, koning van Assirië! Omdat jy aanhou grootpraat, gaan die Here, die Almagtige, ’n plaag onder jou trotse soldate stuur. ’n Vuur sal jou heerlikheid aan die brand steek.
17Die Here, die Lig van Israel en die Heilige Een, sal die vuur wees wat hulle vernietig. In een nag sal Hy daardie dorings en dissels verbrand. 18Assirië se groot leër is soos ’n groot woud en vrugbare landerye, maar dit sal vernietig word. Die Here sal Assirië se soldate volledig verwoes, en hulle sal wegkwyn soos siek mense in ’n plaag. 19Net ’n paar van die groot leër sal oorleef, so min dat ’n kind hulle sal kan tel!
Hoop vir die Here se volk
20Ten einde laaste sal almal wat oor is in Israel en Juda#10:20 Grondteks en die huis van Jakob. die Here, die Heilige Een van Israel, vertrou. Hulle sal nie meer staatmaak op Assirië, wat hulle kan vernietig nie. 21’n Oorblyfsel van Israel#10:21a Grondteks Jakob. sal terugkom#10:21b Grondteks Sear-Jasub. Vgl 7:3. na die magtige God. 22Selfs al is die volk van Israel so baie soos die sand op die strand, sal slegs ’n klein groepie daardie tyd terugkom. Die Here het besluit om sy volk te vernietig en sy besluit is regverdig. 23Ja, die oppermagtige Here, die Almagtige, het klaar besluit om hulle te verdelg.
24Daarom, so sê die oppermagtige Here:
“My volk in Jerusalem#10:24 Grondteks Sion.,
moenie bang wees
vir die Assiriërs
wanneer hulle julle verdruk
soos die Egiptenaars
lank terug gedoen het nie.
25Dit sal nie lank aanhou nie.
Binnekort sal my woede
teen julle ophou,
en dan sal my woede
hulle vernietig.”
26Die Here, die Almagtige, sal hulle met sy sweep slaan, soos Hy gedoen het toe Gideon die Midianiete by die Orebrots verslaan het, of toe die Here sy kierie opgelig het en die Egiptiese leër laat verdrink het. 27In daardie dag sal die Here die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek.#10:27 Grondteks Die juk sal gebreek word, want julle het vet geword. Hier soos in Griekse vertaling.
28Kyk, die magtige leërs van Assirië kom! Hulle is nou by Aja, dan by Migron. Hulle bêre hulle voorrade by Mikmas. 29Hulle trek oor die pas en bly oornag by Geba. Angs tref die stad van Rama. Al die mense van Gibea, Saul se stad, hardloop vir hulle lewe. 30Ja, skreeu in angs, mense van Gallim! Waarsku die inwoners van Lajesa! Want die magtige leër kom. Arme Anatot! Watter lot wag vir jou. 31Daar vlug die inwoners van Madmena. Die inwoners van Gebim maak reg om te hardloop. 32Die vyand wag eers by Nob vir die res van die dag. Hy wys sy vuis vir Sionsberg in Jerusalem.
33Maar kyk! Die Here, die Almagtige, sal elke groot boom afkap! Hy vernietig die hele leër van Assirië, saam met sy offisiere en bevelvoerders. 34Die Magtige Een sal die vyand verslaan, soos ’n byl die groot bome van die Libanon afkap.

Currently Selected:

JESAJA 10: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy