YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 22

22
Beskerming van eiendom
1“Iemand wat ’n bees of ’n skaap steel en dit dan slag of verkoop, moet daarvoor boete betaal. Hy moet vyf keer soveel betaal as wat die bees werd was. Vir die skaap moet hy vier keer soveel betaal.
2“As ’n dief op heterdaad betrap word terwyl hy besig is om in te breek en hy word noodlottig gewond, is die persoon wat hom doodgemaak het, onskuldig. 3As dit egter helder oordag gebeur, is die een wat hom doodmaak, skuldig aan moord.
“’n Dief wat gevang word, moet vir alles betaal wat gesteel is. As hy nie alles terugbetaal nie, moet hy self as ’n slaaf verkoop word om die skuld te betaal. 4As iemand ’n bees of ’n donkie of ’n skaap steel en dit word nog lewendig by hom gekry, moet hy dubbel terugbetaal van wat die dier werd is.
5“Iemand kan toelaat dat sy weiveld of sy wingerd oorbewei word en dan sy vee in ’n ander man se veld injaag om daar te gaan wei. Hy moet dan skadevergoeding betaal met die beste wat sy eie veld kan oplewer.
6“Wanneer iemand die veld brand en dit na iemand anders se veld toe versprei en sy graan afbrand wat geoes is en reeds in gerwe gepak is, moet die een wat die vuur laat weghol het ten volle vergoed vir die skade.
7“Dit kan gebeur dat iemand geld of goed vir ’n ander persoon gee om op te pas en dit word uit sy huis gesteel. As die dief gevang word, moet hy dubbel daarvoor vergoed. 8As die dief nie gevang word nie, moet daardie persoon onder eed voor God#22:8, 9 Of voor die regters. verklaar dat dit nie hy was wat dit gesteel het nie.
9“Elke geskil oor die regmatige eienaar van ’n bees of ’n donkie, ’n skaap, of klere of enigiets anders, moet voor God#22:8, 9 Of voor die regters. kom om daaroor te beslis. Die party wat verkeerd is, moet die een wat reg is dubbel vergoed.
10“Dit kan gebeur dat iemand sy donkie of sy bees of sy skaap of enige ander dier vir iemand gee om op te pas. Dit gaan dan dood of kry seer of verdwaal terwyl niemand by is om te sien wat gebeur het nie. 11Die man wat die diere moes oppas, moet dan ’n verklaring aflê voor die Here dat dit nie hy was wat die diere iets laat oorkom het nie. Die eienaar moet dan sy woord aanvaar. Die oppasser hoef nie daarvoor te vergoed nie. 12As ’n dief dit egter gesteel het terwyl dit in sy sorg was, moet hy daarvoor vergoed. 13As ’n roofdier dit verskeur het, moet hy bewys bring dat dit verskeur is. Hy hoef dan nie te vergoed nie.
14“Wanneer iemand ’n dier van iemand anders leen en dit kry seer of gaan dood en die eienaar was nie by nie, moet hy ten volle vergoed word. 15As die eienaar wel by was, hoef hy nie vergoed te word nie. Die huurgeld moet steeds betaal word om die skade te dek.”
Verantwoordelikheid teenoor mekaar
16“As iemand ’n meisie wat nog nie verloof is nie, oorhaal om saam met hom te slaap, moet hy aan haar pa die gewone bruidsprys betaal en met haar trou. 17As haar pa volstrek weier dat hy met haar kan trou, moet hy nogtans aan hom dieselfde bedrag betaal as wat ’n pa as bruidsprys vir sy dogter kan kry.
18“’n Vrou wat toorkunste beoefen, mag nie bly lewe nie.
19“Elkeen wat met ’n dier seks het, moet doodgemaak word.
20“Iemand wat aan enige ander god as die Here offer, moet uit die weg geruim word.
21“Moenie iemand wat van ’n ander land kom, verontreg nie. Julle mag hulle nie laat swaarkry nie, want julle was self vreemdelinge in Egipte.
22“Julle mag nie weduwees en weeskinders uitbuit nie. 23As julle hulle onregverdig behandel en hulle kom kla by My, sal Ek hulle kant vat. 24My woede sal teen julle losbreek en Ek sal julle in die oorlog laat omkom. Julle vroue sal dan ook weduwees word en julle kinders sonder ouers.
25“As julle geld uitleen aan die arm mense van die volk, moet julle nie maak soos die mense wat teen rente uitleen nie. 26As jy iemand se klere as ’n pand neem vir dit wat hy leen, moet jy dit vir hom teen sononder teruggee. 27Hy het dit nodig om in die nag daaronder te slaap. Wanneer hy na My roep om hulp, gaan Ek na hom luister. Ek gee om vir sulke mense.
28“Moenie lasterlik teen God optree#22:28 Of Moenie jou regters slegmaak. nie. Moenie die leiers van die volk vloek nie.
29“Moenie iets terughou van die deel van jou graan- en druiwe-oes wat jy vir My bring nie.
“Onthou dat jou oudste seun aan My behoort.
30“So ook die eerstelinge van beeste en kleinvee. Dit mag die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Maar op die agtste dag moet jy dit vir My gee.
31“Julle moet mense wees wat vir My afgesonder is. Julle mag nie iets eet wat in die veld verskeur is nie. Gee dit vir die honde om te vreet.”

Currently Selected:

EKSODUS 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy