YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 32

32
Die lied van Moses
1“Luister, hemele,
ek wil praat!
Luister, aarde,
na die woorde wat ek sê!
2Wat ek jou leer,
is soos reën op jou,
my woorde soos dou.
My woorde
is soos fyn reën op jong gras,
soos sagte reënbuie op plante.
3Ek wil die Naam verkondig
van die Here.
Prys die grootheid
van ons God!
4Hy is die Rots;
sy werk is volmaak.
Alles wat Hy doen, is reg.
Hy is ’n getroue God,
sonder enige onreg.
Hy is regverdig en betroubaar!
5“Maar hulle het teen Hom
skandelik opgetree.
Wie so maak,
is hulle nog sy kinders?
Hulle is ’n vals
en verdraaide geslag.
6Is dit hoe julle
die Here behandel,
julle dom en onwyse volk?
Is Hy nie jou Vader
wat jou geskep het nie?
Het Hy jou nie gemaak
en gevorm nie?
7Onthou die dae van ouds,
dink terug aan die vorige geslagte.
Vra jou pa uit
en hy sal jou vertel.
Vra vir die oumense
en hulle sal jou vertel.
8Toe die Allerhoogste
aan die nasies
grondgebied toegeken het,
het Hy die mensdom verdeel,
en grense van volke bepaal
volgens die aantal Israeliete.
9Want die volk Israel
behoort aan die Here;
Jakob is sy besondere eiendom.
10“Hy het hulle gevind
in ’n woestyn,
’n leë land vol onaardse geluide.
Hy het hulle omarm
en hulle opgepas.
Hy het hulle beskerm
as sy kosbaarste besitting#32:10 Of die appel van sy oog..
11Soos ’n arend
haar kuikens grootmaak
en bo-oor hulle sweef,
so sprei Hy sy vlerke
en vang
en dra hulle op sy vlerke.
12Net die Here bewaar hulle.
Hulle leef
sonder enige vreemde gode.
13Hy laat hulle ry
op die hooglande,
Hy voed hulle
met die opbrengs van die land.
Hy het uit die klowe
heuning aan hulle voorsien,
olyfolie uit klipharde rots.
14Hy voed hulle met dikmelk
van beeste en melk
van kleinvee;
saam met die vet van lammers
en bokke.
Hy gee aan hulle
die keur van die ramme
en bokke van Basan,
met die beste koring.
Julle het gedrink
van die beste wyn,
gemaak van keur druiwesap.
15Maar Israel#32:15 Of Jesurun. het vet
en opstandig geword,
die volk het swaar geword,
vet en opgestop!
Toe het hulle die God verlaat
wat hulle gemaak het,
en die Rots van hulle redding
verwerp.
16Hulle het Hom jaloers gemaak
met hulle aanbidding
van vreemde gode.
Met hulle veragtelike dade
het hulle Hom kwaad gemaak.
17Hulle het offers gebring
aan demone
wat nie gode was nie,
gode wat hulle nie geken het nie,
gode wat onlangs aangekom het,
gode wat hulle voorouers
nooit gedien het nie.
18Julle het die Rots verlaat
wat julle verwek het,
die God vergeet
wat julle voortgebring het.
19“Die Here het dit alles gesien
en hulle verwerp.
Sy eie seuns en dogters
het Hom kwaad gemaak.
20Hy het gesê:
‘Ek sal hulle verlaat.
Ek sien wat dan gebeur,
hoe hulle tot ’n einde kom!
Hulle is ’n verdraaide geslag,
kinders sonder integriteit.
21Deur hulle aanbidding
van gode wat nie bestaan nie,
het hulle My jaloers gemaak.
Met hulle nuttelose afgode
het hulle My kwaad gemaak.
Nou sal Ek hulle jaloers maak
deur ander nasies te seën.
Ek sal hulle kwaad maak
deur dwase heidene te seën.
22Want my woede is aangesteek
soos ’n vuur,
en dit brand tot in die dieptes
van die graf.
Dit verteer die aarde
en sy opbrengs,
die fondamente van die berge
steek dit aan die brand.
23Ek sal rampe op hulle ophoop
en hulle met my pyle afskiet.
24Ek stuur teen hulle
’n uitmergelende hongersnood,
’n vurige koors
en dodelike siekte.
Hulle sal geteister word
deur tande van wilde diere,
deur giftige slange
wat in die stof seil.
25Op straat bring die swaard
kinderloosheid,
en binnekant heers die angs.
Jong mans en vroue sal omkom,
babas en ook oumense.
26Ek het besluit
om hulle te verstrooi,
sodat selfs die gedagte aan hulle
sal verdwyn.
27Maar Ek was bevrees dat die vyand
My sou tart,
dat hulle teenstanders
kan misverstaan en sê:
Ons krag het gewen!
Dit was nie die Here
wat dit gedoen het nie!’
28“Israel is ’n nasie
sonder verstand.
Daar is geen begrip
onder hulle nie.
29Was hulle maar wys,
sou hulle verstaan
en sien wat hulle lot sal wees!
30Hoe kan een mens
duisend van hulle jaag,
en hoe kan twee mense
tienduisend laat vlug,
as hulle Rots
hulle nie verkoop het,
en die Here
hulle nie oorgelewer het nie?
31Maar die rots van ons vyande
is nie soos ons Rots nie,
soos selfs ons vyande
moet toegee.
32Hulle wingerdstok stam
uit die wingerdstok
van Sodom en Gomorra.
Hulle druiwe is giftig
en hulle trosse is bitter.
33Hulle wyn
is die gif van slange,
die dodelike gif van adders.
34“‘Ek het hierdie dinge gebêre,
verseël vir veilige bewaring.
35Ek sal wraak neem.
Dié wat dit verdien,
sal Ek terugbetaal.
Binnekort sal hulle voete gly.
Hulle dag van val sal kom
en hulle lot sal hulle oorval.’
36“Want die Here
sal sy volk oordeel
en Hy sal van gedagte verander#32:36 Of sal simpatie hê.
oor sy dienaars
wanneer Hy sien
dat hulle krag weg is
en dat daar niemand oor is nie,
nie slaaf of vryman nie.
37Dan sal Hy vra:
‘Waar is hulle gode,
waar is die rotse
waar hulle gaan skuil het?
38Waar is daardie gode nou
wat die vet van hulle offers geëet
en die wyn van hulle drankoffers
gedrink het?
Laat daardie gode opstaan
en jou help!
Laat hulle aan jou skuiling gee!
39Besef dit nou:
Ek, ja, Ek, is die Here!
Daar is geen ander god
as Ek nie.
Ek is die Een wat doodmaak
en wat lewe gee;
Ek is die Een wat verwond
en gesond maak.
Niemand kan uit my krag
gered word nie.
40My hand lig Ek nou op
na die hemel
en verklaar:
So seker as wat Ek lewe,
41wanneer Ek my blink swaard
skerp gemaak het
en begin met die uitoefening
van die reg,
dan sal Ek wraak neem
op my vyande
en sal Ek terugbetaal
dié wat My haat.
42Ek sal my pyle deurdrenk
met bloed
en my swaard sal vleis verslind:
die bloed van dié wat geslag is,
die gevangenes
en die koppe van die leiers
van die vyande.’
43“Juig, alle nasies, oor sy volk,
want Hy wreek die bloed
van sy dienaars.
Hy neem wraak op sy vyande
en doen boete
vir sy land en vir sy volk.”
44Moses het saam met Josua, die seun van Nun, gekom en al die woorde van hierdie lied aan die volk oorgedra. 45Toe Moses hierdie woorde klaar aan die volk geleer het, 46het hy bygevoeg: “Neem al die woorde ter harte wat ek vandag aan julle gee. Dra dit ook oor aan julle kinders as ’n bevel sodat hulle elke woord van hierdie gebooie sal gehoorsaam. 47Hierdie bepalings is nie sommer net woorde nie – dit is julle lewe! Deur gehoorsaam daaraan te wees, sal julle ’n lang lewe geniet in die land wat julle met die oorsteek van die Jordaanrivier in besit sal neem.”
Die Here stuur Moses na Nebo om daar te sterf
48Daardie selfde dag nog het die Here vir Moses gesê: 49“Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab oorkant Jerigo. Kyk uit oor die land Kanaän, die land wat Ek aan die volk Israel gaan gee as hulle eie besitting. 50Jy sal daar op die berg sterf en by jou voorouers aansluit, net soos jou broer Aäron op Horberg gesterf en by sy voorouers aangesluit het. 51Beide van julle was ontrou aan My voor die oë van die Israeliete by die water van Meriba, by Kades in die Sinwoestyn. Julle het nagelaat om my heiligheid onder die Israeliete te handhaaf. 52Jy sal dan die land regoor jou van ’n afstand af sien, maar jy self mag nie die land binnegaan wat Ek aan die volk Israel gee nie.”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 32: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy