Parallel
9
God het Israel self uitgekies
1Voor Christus verklaar ek plegtig – ek vertel nie ’n leuen nie – en my gewete, bekragtig deur die Heilige Gees, bevestig dat wat ek nou gaan sê die waarheid is: 2Ek beleef ’n ontsaglike hartseer, ja, ek dra ’n permanente pyn in my om 3oor my broers en susters, my volksgenote. Ek sou selfs ter wille van hulle deur God vervloek wou wees – afgesny van Christus – as dit hulle kon red. 4Hulle is tog Israeliete, bevoorreg tot kindskap. God het sy heerlikheid aan hulle bekendgemaak. Hy het verbonde met hulle gesluit en sy wet vir hulle gegee. Hulle is bevoorreg om Hom te aanbid en Hy het wonderlike beloftes aan hulle gemaak. 5Hulle het eerbiedwaardige voorvaders gehad en uit hulle is Christus as mens gebore – Hy wat tegelyk God bo alles is en aan wie die lofprysing vir altyd en altyd toekom! Amen.
6Dit impliseer egter nie dat God se beloftes aan die Jode nou ongeldig geword het nie. Ons moet in gedagte hou dat nie almal wat uit ’n Israelitiese familie gebore word, ware Israeliete is nie. 7Die blote feit dat mense afstammelinge van Abraham is, maak hulle nog nie ware kinders van Abraham nie. Want die Skrif sê: “Isak is die seun uit wie jou nageslag sal kom.” 8Dit beteken dat Abraham se fisiese kinders nie noodwendig ook almal Gód se kinders is nie, maar dit is die kinders van die belofte wat Abraham se ware nageslag is. 9Want God het soos volg belowe: “Volgende jaar sal Ek terugkom, en dan sal Sara ’n seun hê.” Hierdie seun was ons voorvader Isak.
10Dis nie al nie. Rebekka was ook net een keer swanger. Sy het ’n tweeling by ons voorvader Isak gehad. 11Nog voordat hulle gebore is, ja, nog voordat hulle enigiets goeds of slegs gedoen het, het God reeds vir haar ’n boodskap gehad – wat bewys dat God volgens sy eie plan kies, 12nie volgens ons dade nie. Die boodskap aan haar was: “Die oudste kind sal die jongste een dien.” 13In die woorde van die Skrif: “Ek het vir Jakob liewer gehad as vir Esau.”
14Wat moet ons hierop sê? Dat God onbillik is? Beslis nie! 15Hy sê tog vir Moses:
“Ek sal My ontferm
oor wie Ek My wil ontferm,
en Ek sal barmhartigheid betoon
teenoor wie Ek dit wil doen.”
16Dit hang dus nie van ons af of ons God se belofte ontvang nie. Ons kan dit nie toe-eien deur dit te begeer of ons daarvoor in te span nie. Dit hang af van God se ontferming. 17Die Skrif verklaar mos dat God vir Farao gesê het: “Ek het jou juis hiervoor aangehits – Ek wil deur jou optrede my krag bekendmaak sodat my Naam oor die hele wêreld geroem sal word.”
18Dit is dus duidelik – God ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil.
19Jy sou nou kon vra: “Hoe kan God mense nog blameer as hulle nie luister nie? Hulle het tog maar net gedoen waartoe God hulle verplig het. Hulle kan tog nie teen sy besluit ingaan nie.” 20O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?” 21As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie? 22Net so het God ook die volste reg om die voorwerpe van sy oordeel, wat vir ondergang gereedgemaak is, nog met groot geduld te verdra sodat Hy uiteindelik sy oordeel en sy mag bekend kan maak. 23Net so het Hy die volste reg om sy oorvloedige heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy voorberei het om sy heerlikheid te ontvang. 24Ons is hierdie voorwerpe – ons vir wie Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Joodse nasies.
25Oor laasgenoemde sê God in die boek Hosea tereg:
“Hulle wat nie my volk was nie,
sal Ek nou mý volk noem.
En Ek sal haar liefhê
wat nie voorheen
my geliefde was nie.”
26En:
“Dáár waar vir hulle gesê is:
‘Julle is nie my volk nie,’
juis daar sal hulle kinders
van die lewende God
genoem word.”
27Maar wat Israel betref, roep Jesaja uit:
“Al was die Israeliete so baie
soos die sand op die seestrand,
sal net ’n handjievol oorblywendes
verlos word.
28Want die Here gaan sy saak hier
op aarde
eens en vir altyd finaliseer.”
29Jesaja het trouens al vroeër verklaar:
“As die Here, die Almagtige,
nie ’n paar van ons
laat oorbly het nie,
sou ons volledig uitgewis gewees het
net soos Sodom en Gomorra.”
Die Jode het hulle eie pad bo
God s’n gekies
30As ons hieroor nadink, wat is ons slotsom? Dit is dat nie-Joodse nasies die vryspraak deur die geloof verkry het, al het hulle hulle nie daarvoor beywer nie. 31Terselfdertyd het Israel, wat so hard probeer het om deur nakoming van die wet God se goedkeuring te verkry, nie daarin geslaag nie. 32Hoekom nie? Juis omdat hulle dit op grond van hulle werke probeer verkry het en nie deur die geloof nie. Dit was die klip waaroor hulle gestruikel het. 33God het hulle in die Skrif juis hierteen gewaarsku met die woorde:
“Let goed op! Ek sit in Jerusalem
’n klip waaroor mense kan
struikel,
’n rots wat hulle kan laat
val.
Maar enigeen wat in Hom glo,
sal nie beskaamd staan nie.”