YouVersion Logo
Search Icon

OPENBARING 11

11
Die twee getuies
1Toe is daar aan my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Gaan meet die tempel van God en die altaar en die mense wat in die tempel aanbid. 2Die voorhof wat buitekant die tempel geleë is, moet jy weglaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die nasies oorgegee is. Hulle sal die heilige stad 42 maande lank met die voete vertrap. 3En Ek sal aan my twee getuies, met sakklere aan#11:3 As teken van rou., opdrag gee om die wil van God vir 1 260 dae lank te verkondig.”
4Hulle is die twee olyfbome en ook die twee kandelare wat voor die Here van die hele aarde staan. 5As iemand hulle leed wil aandoen, kom daar vuurvlamme uit hulle monde wat hulle vyande verbrand. Elkeen wat hulle leed wil aandoen, moet só doodgemaak word. 6Hulle beskik oor die mag om die hemel te sluit sodat dit nie sal reën nie vir die volle tyd wat hulle die wil van God verkondig. Hulle beskik ook oor die mag om die waters in bloed te verander en om die aarde met elke moontlike plaag te tref, so dikwels as wat hulle dit nodig vind.
7Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die bodemlose put uit opgekom het, teen hulle oorlog maak en hy sal hulle oorwin en doodmaak. 8Hulle lyke sal langs die breë straat van die groot stad lê. Dit is die stad wat figuurlik Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook gekruisig is. 9Vir drie en ’n half dae lank sal mense vanuit al die volke, stamme, taalgroepe en nasies hulle lyke sien lê. En hulle sal nie toelaat dat die lyke in ’n grafkamer begrawe word nie.
10Die bewoners van die aarde sal juig oor hulle dood en hulle sal baie bly wees daaroor en aan mekaar geskenke stuur, omdat hierdie twee profete die bewoners van die aarde geteister het.
11Maar na drie en ’n half dae het die lewegewende Gees van God#11:11 Of die lewegewende asem wat van God kom. in hulle gekom. Toe hulle op hulle voete orent kom, het ’n groot skrik almal wat hulle gesien het, oorweldig. 12Hulle het ook ’n kragtige stem van die hemel af hoor sê: “Kom op hierheen!” Hulle het toe in ’n wolk na die hemel toe opgevaar terwyl hulle vyande toekyk.
13Op daardie selfde uur was daar ’n geweldige aardbewing en ’n tiende van die stad het inmekaargetuimel. In die aardbewing is 7 000 mense gedood en die oorblywende mense het beangs geword en aan die God van die hemel eer betoon.
14Die tweede verskrikking is verby. Kyk, die derde een kom spoedig.
Die koningsheerskappy behoort aan die Here en sy Christus
15Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. Daar was kragtige stemme in die hemel wat sê:
“Die koninklike heerskappy
oor die wêreld
behoort nou aan ons Here
en sy Christus,
en Hy sal as koning heers
vir altyd.”
16Die 24 ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het op hulle gesigte neergeval en God aanbid 17en gesê:
“Here God, Almagtige,
U wat is en wat was,
ons dank U
dat U nou u groot mag
opgeneem het
en as koning heers.
18Die nasies het baie kwaad geword,
maar nou het die tyd
van u oordeel aangebreek
om dié wat dood is, te oordeel;
om u diensknegte, die profete,
te beloon
en dié wat aan God
toegewy is#11:18 Grondteks en die heiliges.,
en dié wat ontsag het
vir u Naam,
klein en groot,
en dié wat die aarde vernietig,
óók te vernietig.”
19Toe is God se tempel in die hemel geopen, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar was toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ’n aardbewing en ’n hewige haelstorm.

Currently Selected:

OPENBARING 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy