YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 23

23
1Wanneer jy aansit vir ete
saam met ’n regeerder,
kyk dan goed
na wat voor jou neergesit is.
2As jy ’n groot eter is,
sit ’n mes teen jou keel.
3Moenie al die lekker kos
begeer nie.
Jy kan jou met die kos misgis.
4Moenie jou afsloof
om ryk te word nie.
Wees verstandig genoeg
om binne perke te bly.
5As jy nog na jou rykdom kyk,
is dit eensklaps weg.
Dit sal vlerke kry soos ’n arend
en wegvlieg in die lug.
6Moenie eet
by ’n suinige mens nie.
Moenie sy lekker kos begeer nie.
7Hy sê: “Eet en drink gerus!”
Hy bedoel dit nie,
want hy sit en bereken
hoeveel dit hom sal kos.
8Jy sal naar word
van die bietjie wat jy eet,
jou komplimente sal jy moet sluk.
9Moenie ’n dwaas reghelp nie.
Jou goeie raad
behandel hy met minagting.
10Moenie die ou grense
van ’n stuk grond
verskuif nie.
Moenie weeskinders se grond
by hulle probeer afvat nie.
11Die Een wat hulle beskerm,
is magtig.
Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
12Onderwerp jou aan dissipline.
Luister goed
na wat ek jou leer.
13Moenie bang wees om jou kind
te dissiplineer nie.
Hy sal nie doodgaan
van ’n pak slae nie.
14As jy hom wil red van die dood,
moet jy hom juis lyfstraf gee.
15Ek sal baie bly wees, my kind,
as jy ook ’n wyse mens word.
16Ek sal in my hart juig
wanneer jy reg praat.
17Moenie jaloers word
op sondaars nie.
Behou altyd jou ontsag
vir die Here.
18Jy sal altyd ’n toekoms hê.
Jou hoop
sal nooit beskaam word nie.
19My kind, luister na my,
dat jy wys kan word.
Hou jou hart op die regte koers.
20Jy moenie jou tyd verspil
op suiplappe en vrate nie.
21Die dronklap en die vraat
maak hulleself arm.
Die roes van dronkenskap
laat hulle in vodde loop.
22Luister na jou pa
wat jou die lewe gegee het.
Moenie jou ma afskryf
omdat sy oud geword het nie.
23Verkry waarheid.
Moet nooit daarvan
afstand doen nie.
Hou vas aan wysheid,
selfbeheersing en insig.
24’n Pa van ’n kind wat reg doen,
het rede vir blydskap.
’n Wyse kind
verskaf sy ouers groot vreugde.
25Laat daar rede wees
vir jou pa en jou ma
om oor jou bly te wees.
Mag jou ma
wat jou in die lewe gebring het,
rede hê om oor jou te juig.
26My seun,
maak jou hart vir my oop
en volg my voorbeeld na.
27’n Sedelose vrou
is soos ’n diep waterkuil.
’n Verleidster is soos ’n put
waaruit jy nie kan kom nie.
28Sy sit en wag vir haar prooi
soos ’n rower.
Sy soek na iemand
om te oorreed
tot ontrouheid aan sy vrou.
29Wie het kopseer en lyfseer?
Wie maak rusie en kla?
Wie het onnodige kneusplekke?
Wie se oë is bloedbelope?
30Dis dié wat tot laat sit en drink
en allerlei mengsels proe.
31Moenie dat jy verlei word
deur die rooi glans van wyn,
die vonkel in die beker,
die gladde manier
waarop dit in jou keel
afloop nie.
32Nadat jy dit gedrink het,
pik dit soos ’n slang,
spoeg dit gif soos ’n kobra.
33Jy sien dan vreemde dinge
en jou gedagtes is verward.
34Dit voel of jy rondsteier
soos ’n matroos op see,
of op ’n seilboot rondslinger.
35Jy redeneer by jouself:
“Hulle het my geslaan
en ek het nie seergekry nie!
Ek weet nie eers
dat hulle my geslaan het nie.
Wanneer ek wakker word,
sal ek iets gaan soek
wat ek kan drink.”

Currently Selected:

SPREUKE 23: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy