YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 25

25
Die gevolge van afgodsdiens vir Baäl-Peor
1Terwyl Israel by Sittim gebly het, het die volk hulleself besoedel. Hulle het by Moabitiese vroue geslaap. 2Hierdie vroue het die volk uitgenooi om saam met hulle offers vir hulle gode te bring. Die volk het saam met hulle geëet en die gode van Moab aanbid. 3Hulle het begin om Baäl-Peor te aanbid. Die Here was baie kwaad vir Israel.
4Die Here het vir Moses opdrag gegee: “Kry al die leiers van die volk bymekaar. Hang hulle in die helder dag by die tabernakel op sodat die Here se woede kan bedaar.” 5Moses het die stamhoofde van Israel aangesê om elke persoon wat Baäl-Peor begin aanbid het, dood te maak.
6Terwyl Moses en die gemeenskap nog so by die ingang van die tabernakel gestaan en huil het, het ’n man uit Israel openlik daar aangekom met ’n vrou uit Midian. 7Toe die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, dit sien, het hy tussen die mense opgespring en ’n spies gegryp. 8Hy het die man agternagesit na sy tent toe. Hy het die spies dwarsdeur die Israeliet en deur die vrou se maag gegooi. Dit het die plaag wat oor Israel gekom het, laat ophou. 9Daar het 24 000 mense aan die plaag gesterf.
10Die Here sê toe vir Moses: 11“Die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, het my woede van die Israeliete af weggevat toe hy my eer onder hulle beskerm het. Dit het verhoed dat Ek die Israeliete ter wille van my Naam voor die voet uitgewis het. 12Sê vir hom dat Ek ’n onvernietigbare vredesverbond met hom sluit.
13“Volgens hierdie ooreenkoms sal hy en sy nageslag vir altyd my priesters wees. Omdat hy sy God se eer beskerm het, het hy versoening gebring vir die Israeliete.”
14Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, se naam was Simri, die seun van Salu. Hy was een van die leiers uit die stam van Simeon. 15Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, se naam was Kosbi, die dogter van Sur, een van die leiers van die Midianiete.
16Die Here het toe vir Moses gesê: 17“Val die Midianiete aan en roei hulle uit 18oor die optrede van Kosbi, die dogter van die Midianitiese leier. Dis sy wat doodgemaak is toe die plaag oor Peor julle getref het. Die Midianiete het julle mislei en onder valse voorwendsels oorreed om Baäl-Peor te aanbid.”

Currently Selected:

NUMERI 25: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy