YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 24

24
1Bileam het toe begin insien dat die Here eerder vir Israel wil seën. Hy het nie aangegaan om soos gewoonlik na voorspellings te soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai. 2Daar het hy gesien hoe Israel volgens hulle stamme staan. Die Gees van God het toe oor hom gekom. 3Hy het die volgende boodskap gebring:
“So sê Bileam,
die seun van Beor.
Sy oë het oopgegaan.
4Hy het God se woorde gehoor.
Hy het ’n gesig
van die Allerhoogste gesien.
Hy val neer op die grond
met sy oë wawyd oop.
5Hoe pragtig is jou tente, Jakob!
Hoe mooi is die plek
waar jy bly, Israel!
6Dit is uitgestrek soos ’n vallei,
soos ’n tuin langs ’n stroom,
soos aalwyne
wat die Here geplant het,
soos sederbome langs die water.
7Water vloei uit sy houers,
sy nageslag
is by oorvloedige waters.
Sy koning is beroemder as Agag.
Sy koninkryk gaan
van krag tot krag.
8God het hom uit Egipte bevry
met die krag van ’n bul.
Nasies wat vyandig is teen hom,
dié verslind hy.
Hy vergruis hulle bene
en skiet sy pyle op hulle af.
9Hy buk en gaan lê
soos ’n leeumannetjie.
Hy is soos ’n leeu;
niemand kan hom
teenstaan nie.
Elkeen wat jou seën, is geseënd.
Elkeen wat jou vervloek,
is vervloek.”
10Balak het toe woedend geword vir Bileam. Hy het sy hande teen mekaar geklap en vir hom geskreeu: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek. Dit is nou al drie maal dat jy hulle geseën het. 11Maak dat jy wegkom na jou huis toe! Ek het wel gesê ek sal jou beloon, maar die Here het nou jou beloning weggevat!”
12Bileam het vir Balak gesê: “Onthou jy nie dat ek vir die boodskappers wat jy gestuur het, gesê het: 13‘Al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, ek kan nie enigiets anders sê as wat die Here vir my gee nie, of dit nou goed of kwaad is.’”
Bileam se vierde uitspraak
14“Ek gaan nou terug na my mense toe. Maar laat ek jou ’n bietjie inlig oor wat hierdie volk in die toekoms met jou volk gaan doen.”
15Hy het toe die volgende boodskap gebring:
“So sê Bileam,
die seun van Beor,
’n man wie se oë
oopgegaan het.
16Hy hoor die woorde van God
en weet
wat die Allerhoogste besluit het.
Hy sien die visioene
wat die Almagtige vir hom gee.
Hy val op die grond neer
met sy oë wawyd oop.
17Ek sien iets,
maar dis nie onmiddellik nie.
Ek sien hom,
maar hy is nog nie naby nie.
’n Ster kom uit Jakob.
’n Septer kom uit Israel.
Hy verpletter Moab se voorkop.
Hy verwoes sy opstandige
nageslag.
18Edom sal oorwin word.
Seïr sal oorlogsbuit word
vir sy vyande.
Israel sal met mag oorwin.
19Uit Jakob
sal ’n heerser opstaan.
Hy sal hulle
wat oorbly in die stad, vernietig.”
Bileam se ander uitsprake
20Bileam het na Amalek gekyk en hierdie boodskap oor hom gebring:
“Amalek was die grootste
onder die volke.
Sy einde is
om vernietig te word.”
21Hy het na die Keniete gekyk en die volgende boodskap gebring:
“Jou blyplek is veilig.
Jou skuiling
is tussen die rotse.
22Kain sal egter verwoes word
wanneer die Assiriërs kom
om jou gevange te neem.”
23Bileam het nog een boodskap gehad:
“Wie sal kan bly leef
wanneer God
dit alles laat gebeur?
24Skepe sal van Siprus#24:24a Of van die Kittiërs. af kom,
en sal Assirië en Eber#24:24b Of die Hebreërs.
onderwerp.
Teen die einde
sal hulle self verwoes word.”
25Bileam het toe huis toe gegaan. Balak het sy eie koers ingeslaan.

Currently Selected:

NUMERI 24: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy