YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 12

12
Mirjam en Aäron kom in opstand
1Mirjam en Aäron het begin om van Moses sleg te praat omdat hy met ’n Kussitiese vrou getrou het. 2Hulle het gesê: “Die Here praat beslis nie net deur Moses nie. Hy praat ook deur ons.” Die Here het gehoor wat hulle sê.
3Moses was buitengewoon nederig, meer as enige ander mens op aarde. 4Die Here het dringend met Moses, Aäron en Mirjam gepraat: “Julle drie moet na die tabernakel toe gaan.” Die drie is toe soontoe. 5Die Here het in ’n wolkmassa daarnatoe afgekom en by die ingang van die tabernakel gaan staan. Hy het Aäron en Mirjam nadergeroep. Die twee het nadergekom. 6Die Here het gesê: “Luister wat Ek sê! As daar ’n profeet onder julle is, maak Ek, die Here, My aan hom bekend deur gesigte en praat Ek met hom deur drome. 7Ek maak nie so met Moses my dienaar nie. Hy is die betroubaarste van al my mense. 8Ek praat direk met hom, van aangesig tot aangesig. Ek praat nie met hom op ’n raaiselagtige manier nie. Hy weet hoe die Here lyk. Moet julle dan nie baie versigtig oor my dienaar Moses praat nie?”
9Die Here was kwaad vir hulle en Hy het weggegaan. 10Toe die wolk weg van die tabernakel af beweeg het, was Mirjam skielik so wit soos sneeu oor haar hele lyf. Toe Aäron sien hoe wit Mirjam van die melaatsheid is#12:10 Of sien dat sy ’n aansteeklike velsiekte het., 11het hy vir Moses gesê: “Meneer, moet ons asseblief nie straf#12:11 Of moenie die oortreding teen ons hou. vir die dom ding wat ons gedoen het nie. 12Moenie toelaat dat sy soos een is wat doodgebore word en waarvan die liggaam alreeds ontbind is by geboorte nie.”
13Moses het hardop na die Here geroep: “O God, laat sy asseblief tog gesond word!”
14Die Here sê toe vir Moses: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou sy sewe dae lank die vernedering daarvan moes dra. Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom.”
15Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie.
16Die volk is daarna weg van Gaserot af. Hulle het in die Paranwoestyn gaan kamp opslaan.

Currently Selected:

NUMERI 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy