YouVersion Logo
Search Icon

NEHEMIA 6

6
Verdere weerstand teen die bouwerk
1Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die ander vyande het gehoor dat ek die bouwerk aan die muur voltooi het. Daar was geen openinge meer in die muur nie. Hulle moes wel nog die deure in die poorte hang. 2Toe stuur Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap met die versoek dat ek hulle in een van die dorpies in die Onolaagte moes ontmoet. Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen. 3Ek het toe vir hulle ’n boodskap teruggestuur: “Ek is met ’n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.”
4Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. 5Die vyfde keer het Sanballat sy assistent na my gestuur met ’n oop brief in sy hand. 6In die brief het daar gestaan:
“Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ’n opstand beplan. Dit is hoekom julle die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om hulle koning te word. 7Hy vertel ook dat jy profete aangestel het om in Jerusalem oor jou te profeteer. Hulle sê glo: ‘Daar is nou ’n koning in Juda!’
“Die koning sal sonder enige twyfel van hierdie gerugte te hore kom. My voorstel is dat jy liewer kom en die saak met my kom bespreek.”
8Ek het toe die volgende antwoord vir hom gestuur: “Daar is nie ’n greintjie waarheid in jou storie nie. Dit is goed wat jy self uitgedink het.”
9Dit was bloot hulle manier om ons te intimideer. Hulle het gedink dit sou ons moedeloos maak en dat die werk tot stilstand sou kom. Ek het vir krag gebid dat die werk kon voortgaan.
10Semaja seun van Delaja en kleinseun van Mehetabel was in sy huis toegesluit. Ek het hom gaan besoek. Hy het gesê: “Kom ons ontmoet mekaar in die tempel van God en sluit die deure van die tempel. U vyande is op pad om u vannag te kom doodmaak.”
11Ek het hom geantwoord: “Behoort iemand soos ek vir gevaar weg te vlug? Behoort iemand soos ek in die tempel te skuil om my lewe te red? Nee, ek sal nie ingaan nie!”
12Ek het besef dat dit nie God is wat hom gestuur het nie. Dit was Tobija en Sanballat wat hom gehuur het om hierdie woorde vir my te profeteer. 13Hulle het hom gehuur met die hoop om my bang te maak en dan deur my verkeerde optrede te sondig. Dit sou dit vir hulle moontlik gemaak het om my naam sleg te maak en my te verneder.
14O, my God, onthou al die slegte dinge wat Tobija en Sanballat gedoen het. En vergeet ook nie van die profeet Noadja en al die ander profete soos sy wat my probeer afskrik het nie.
Die bouers voltooi die muur
15Op 2 Oktober#6:15 Grondteks die 25ste dag van die maand Elul, 445 vC. is die muur uiteindelik voltooi. Dit was net 52 dae vandat ons begin bou het. 16Toe die nuus ons vyande bereik en die volke in die omgewing sien wat gebeur het, was hulle uit die veld geslaan. Hulle het besef dat ons God ons met hierdie werk gehelp het.
17Gedurende hierdie 52 dae was daar baie briefwisseling tussen Tobija en die leiers van Juda. 18Baie van die mense in Juda het trou aan hom gesweer, want hy was die skoonseun van Sekanja, die seun van Arag. Verder was sy seun Joganan met die dogter van Mesullam seun van Berekja getroud. 19Hulle het ook voortdurend vir my vertel hoe ’n wonderlike man Tobija is. Hulle het ook vir hom alles oorvertel wat ek gesê het. En Tobija het baie briewe aan my gestuur om my te probeer bangmaak.

Currently Selected:

NEHEMIA 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy