YouVersion Logo
Search Icon

MARKUS 8

8
Jesus gee vir vierduisend mense kos
1Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde: 2“Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie. 3As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.”
4Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?”
5“Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord. 6Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel. 7Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word. 8Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. 9Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. 10Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta.
Jesus weier ’n versoek vir ’n wonderteken
11Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer.
Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken.
12Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.” 13Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.
Oppas vir die invloed van die Fariseërs en Herodes!
14Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad. 15Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.”
16Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.”
17Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte? 18Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie?#8:18 Vgl Jer 5:21. Onthou julle dan glad nie? 19Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”
Hulle antwoord Hom: “Twaalf.”
20“En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”
“Sewe,” het hulle geantwoord.
21“Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra.
Jesus maak ’n blinde man in Betsaida gesond
22Toe hulle in Betsaida aankom, het mense ’n blinde man na Jesus toe gebring en gesoebat dat Hy sy hand op hom moes sit en hom gesond maak. 23Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?”
24Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.”
25Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien. 26Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.”
Petrus bely dat Jesus die Messias is
27Jesus en sy dissipels het Galilea verlaat en na die dorpies van Sesarea-Filippi gegaan. Op pad vra Hy sy dissipels toe: “Wie, sê die mense, is Ek werklik?”
28“Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.”
29Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”
Petrus antwoord: “U is die Messias#8:29 Grondteks Christus..”
30Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie.
Jesus kondig sy komende dood vir die eerste keer aan
31Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan. 32Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf.
33Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan#8:33 Satan beteken teenstander of opponent.! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.”
34Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en sê vir hulle: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom. 35As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red. 36Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? 37Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. 38As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader.”

Currently Selected:

MARKUS 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy