YouVersion Logo
Search Icon

MARKUS 6

6
Sy eie dorp se mense wil niks van Jesus weet nie
1Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het. 2Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig? 3Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses#6:3 Om die naam van dié broer van Jesus met Matt 13:55 te laat ooreenstem, het sommige vertalings Josef., Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede.
4Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” 5Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. 6Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof.
Jesus stuur sy twaalf dissipels op ’n sending uit
Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig. 7Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. 8Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. 9Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. 10Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. 11Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.”
12Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. 13Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
Johannes die Doper word deur Herodes vermoor
14Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê#6:14 Baie manuskripte Hy het gesê.: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.”
15Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree. 16Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.”
17Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat. 18Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.” 19Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos. 20Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel.
21Herodias se kans het uiteindelik gekom toe Herodes op sy verjaarsdag ’n geselligheid vir sy amptenare en die weermagoffisiere en die hoëlui van Galilea gereël het. 22Sy dogter, wie se naam ook Herodias was#6:22 Sommige manuskripte Herodias se eie dogter., het in die feessaal ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en al die gaste gevind. “Vra my enigiets wat jy graag wil hê,” het Herodes vir die meisie gesê, “en ek sal dit vir jou gee.”
23Hy het herhaaldelik gesweer: “Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee, selfs tot die helfte van my koninkryk!”
24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gaan vra: “Waarvoor moet ek vra?” Daarna het haar ma gesê: “Vra vir die kop van Johannes die Doper!”
25Sy is dadelik na die koning toe en het hom gevra: “Ek wil dadelik die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord hê.”
26Die koning was baie ontsteld hieroor, maar omdat hy nie sy eed wou verbreek nie – dit boonop nog voor sulke belangrike gaste – wou hy die meisie nie weier nie. 27Hy het toe maar dadelik ’n soldaat gestuur met die opdrag om Johannes se kop te bring. Dié het Johannes toe in die tronk gaan onthoof 28en sy kop op ’n skinkbord gebring en vir die meisie kom gee. Sy het dit toe weer vir haar ma gegee.
29Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle sy liggaam kom haal en dit begrawe.
Jesus gee vir meer as vyfduisend mense kos
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: “Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.”
32Hulle het toe per skuit na ’n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag. 34Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig.
35Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. 36Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.”
37Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.”
Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag#6:37 Grondteks 200 denarii, ongeveer die gesamentlike dagloon van 200 arbeiders. kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”
38Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”
Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”
39Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. 40Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit.
41Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. 42Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. 43Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. 44’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!
Jesus loop op die water
45Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur. 46Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid.
47Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land. 48Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend#6:48 Grondteks teen die vierde nagwaak. Die nag was vanaf sesuur die aand in vier wagbeurte van drie uur elk verdeel. kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan. 49Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. 50Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”
51Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het. 52Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte.
53Hulle het die see oorgesteek en by Gennesaret geland en anker gegooi. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Jesus dadelik herken. 55Hulle het toe in die ganse omgewing rondgehardloop en die siekes op slaapmatte begin aandra oral waar hulle gehoor het dat Hy was.
56En waar Hy ook al gegaan het – in kleiner of groter dorpe, of op plase – het hulle die siekes by die bymekaarkomplekke neergesit en gesoebat om aan Hom te kon raak, al was dit maar net aan die rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.

Currently Selected:

MARKUS 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy