YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 6

6
Sonder groot vertoon uitreik na mense in nood
1“Wees versigtig! Moenie julle praktiese godsdiens#6:1 Grondteks geregtigheid. Sommige manuskripte liefdadigheid. in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop.
2“Wanneer jy iemand in nood help#6:2 Of liefdadigheid beoefen., moenie ’n groot okkasie daarvan maak nie. Dis wat die skynheiliges in die sinagoges en op die strate doen om deur die mense opgehemel te word. Ek verseker julle, dis al beloning wat hulle ooit sal kry. 3Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. 4So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.”
Hoe julle moet bid
5“En nou wat die gebed betref: Moenie soos die skynheiliges wees wat daarvan hou om in die sinagoges en op die straathoeke te bid sodat die mense hulle kan sien nie. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. 6Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis#6:6a Grondteks die spens – die stilste vertrek in ’n destydse huis. en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid#6:6b Grondteks in die geheim. tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet#6:6c Grondteks wat alle geheime ken., sal jou beloon.
7“Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. 8Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! 9Bid dan soos volg:
Ons Vader in die hemel,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil hier op aarde
uitgevoer word soos in die hemel.
11Gee ons die porsie brood
wat ons vir vandag nodig het.
12En vergeef ons ons sondeskuld
soos ons ook óns skuldenaars
vergewe het.
13Bewaar ons sodat ons
nie aan verleiding sal toegee nie;
maar bevry ons van die greep
van die Bose.#6:13 ’n Aantal minder goeie manuskripte het ook nog want aan U behoort die koningskap en die krag en die heerlikheid vir altyd. Amen.
14“As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.
16“Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges ’n martelaarshouding aanneem nie. Hulle loop met lang gesigte rond sodat die mense duidelik kan sien dat hulle vas. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. 17Maar wanneer jy vas, versorg jou hare, was jou gesig. 18Dan sal niemand agterkom dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat alle geheime ken. En jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.”
Aardse skatte of kos en klere moenie prioriteit wees nie
19“Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. 20Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. 21Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
22“Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word. 23Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie!
24“Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ’n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. Om God én die geldgod#6:24 Grondteks Mammon. saam te dien, is onmoontlik.
25“Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie?
26“Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie?
27“Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek?
28“En wat klere betref – wat bekommer julle julle daaroor? Leer hierdie les van die veldlelies wat so pragtig in die blom staan. Hulle sloof hulle nie af om vir hulleself klere te maak nie. 29En tog sê Ek vir julle, selfs Salomo in al sy glorie was nie so pragtig aangetrek soos een van hulle nie.
30“As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein?
31“Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. 32Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
33“Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.
34“Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.”

Currently Selected:

MATTEUS 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy