YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 27

27
Judas pleeg selfmoord
1Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk. 2Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.
3Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat 4met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer#27:4 Of verraai.!”
Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.” 5Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op. 6Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.” 7Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. 8Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word. 9Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle#27:9 Of Ek. het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is – 10en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.”#27:9-10 Vgl Sag 11:12-13; Jer 32:6-9.
Jesus deur Pilatus verhoor
11Jesus het voor Pilatus, die Romeinse goewerneur, verskyn. Die goewerneur het Hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?”
Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”
12Maar terwyl die priesterhoofde en die familiehoofde beskuldigings teen Hom inbring, het Hy niks geantwoord nie. 13“Hoor jy dan nie al die ernstige aanklagte teen jou nie?” het Pilatus Hom gevra. 14Maar tot die goewerneur se uiterste verbasing het Hy Hom op geen enkele punt verweer nie.
15Dit was gebruiklik dat die goewerneur tydens elke Paasfees een gevangene vir die skare vrylaat. Hulle kon self kies wie dit moes wees. 16Juis in hierdie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus#27:16, 17 Sommige manuskripte het slegs Barabbas. Barabbas. 17Terwyl die skare gevaarlik begin saamdrom, vra Pilatus hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: Jesus#27:16, 17 Sommige manuskripte het slegs Barabbas. Barabbas of Jesus, die sogenaamde Messias?” 18Hy het goed besef dat die Joodse leiers Jesus uit naywer aan hom uitgelewer het.
19Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: “Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ’n aaklige nagmerrie oor hom gehad.”
20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die skare oorreed om te vra dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus die doodstraf kry. 21Toe die goewerneur dus weer vir hulle vra: “Wie van hierdie twee moet ek vir julle vrylaat?” het hulle geskree: “Barabbas!”
22“Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,” het Pilatus hulle gevra, “wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?” Hulle roep almal: “Hy moet gekruisig word!”
23“Hoekom?” vra Pilatus. “Watter misdaad het hy dan begaan?”
Maar hulle het al hoe harder begin skree: “Hy moet gekruisig word!”
24Pilatus het gemerk dat dit hopeloos was, en dat daar ’n oproer aan die kom was. Gevolglik het hy ’n skottel water laat kom en sy hande ten aanskoue van die skare gewas met die woorde: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle rekening.”
25Die hele volk het teruggeskree: “Ons neem verantwoordelikheid vir sy dood – ons en ons nageslag#27:25 Grondteks laat sy bloed op ons en ons kinders kom..”
26Toe het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar hy het Jesus aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.
Die soldate gésel en bespot Jesus
27Die goewerneur se soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier geneem en die hele regiment teen Hom bymekaargemaak. 28Hulle stroop Hom toe van sy klere en hang vir Hom ’n pers mantel om. 29Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!” 30Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan. 31Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.
Jesus word gekruisig
32Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene#27:32 Sirene is geleë in Noord-Afrika. afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie. 34Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
35Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies. 36Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak. 37Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.”
38Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant. 39Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: 40“Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!”
41Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê: 42“Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo! 43Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red!#27:43 Vgl Ps 22:9. Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’” 44In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.
Jesus sterf
45Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag. 46Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”#27:46 Ps 22:2. 47Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia. 48Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink. 49Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.”#27:49 Sommige manuskripte het ook nog En ’n ander een het ’n spies geneem en in sy sy gesteek en daar het water en bloed uitgekom.
50Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. 51Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars. 52Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak. 53Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan#27:53 Of Hulle het ná Jesus se opstanding uit die grafte uitgegaan en die heilige stad Jerusalem binnegegaan. en aan baie mense verskyn.
54Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!”
55Baie vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het, het alles op ’n afstand dopgehou. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, en die vrou van Sebedeus, die ma van Jakobus en Johannes.
Jesus word in ’n rykmansgraf begrawe
57Laat daardie middag het Josef, ’n ryk man van Arimatea, daar opgedaag. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus. 58Hy het Pilatus genader en gevra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus het toe ’n bevel uitgereik dat dit aan hom oorhandig moes word.
59Josef het Jesus se liggaam toe in ontvangs geneem en dit in ’n nuwe stuk linne toegedraai. 60Hy het dit in sy eie, nuwe graf gelê wat hy in die rots laat uitkap het. En nadat hy ’n groot klip voor die ingang gerol het, het hy weggegaan.
61Intussen het Maria Magdalena en die ander Maria daar reg voor die graf se ingang bly sit.
Jesus se graf word bewaak
62Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat. 63Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’ 64Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.”
65Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.” 66Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.

Currently Selected:

MATTEUS 27: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy