YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 23

23
Jesus waarsku teen die godsdienstige leiers
1Daarop het Jesus die menigte en sy dissipels soos volg toegespreek: 2“Die skrifkenners en die Fariseërs is die amptelike vertolkers van die wet van Moses. 3Doen en gehoorsaam dus alles wat hulle julle beveel, maar hulle voorbeeld moet julle nie volg nie. Hulle preek, maar leef nie self daarvolgens nie. 4Hulle oorlaai die mense met absoluut onmoontlike godsdienstige verpligtings, maar verroer nie ’n vinger om dit self uit te voer nie.
5“Alles wat hulle doen, is vir die uiterlike vertoon. Daarvoor dra hulle op hulle arms en voorkoppe ekstra groot gebedsdosies#23:5a Vgl Eks 13:16; Deut 6:8; 11:18. met Skrifverse daarin en hulle maak die tossels#23:5b Vgl Num 15:38; Deut 22:12. aan hulle klere opvallend groot. 6En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke by feesmaaltye en in die sinagoges nie! 7Hulle geniet dit om spesiaal op straat gegroet te word en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. 8Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters#23:8 Grondteks broers.. 9En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’#23:9 Geëerde rabbi’s is aangespreek as vader. aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is. 10En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self. 11Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien. 12Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”
Jesus stel die skynheiligheid van die Joodse godsdienstige leiers aan die kaak
13“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle blokkeer die koninkryk van God vir die mense. Julle gaan self nie daar in nie en boonop verhinder julle dié wat wel probeer ingaan.#23:13 Sommige manuskripte het ook ’n vers 14 Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Julle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en dan doen julle vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ekstra swaar gestraf word. 15Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle trek rond oor see en land om één proseliet#23:15 Iemand uit ’n nie-Joodse nasie wat die Joodse geloof ten volle aangeneem het. te werf en dan maak julle van hom iemand wat op pad is hel toe, twee maal erger as jul-leself.
16“Ellende wag vir julle, julle blinde gidse wat beweer: ‘As iemand by die heiligdom#23:16 Die grondteks verwys na die hoofdeel van die tempel wat uit die Heilige en die Allerheiligste bestaan het. sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die goud van die tempel sweer, dan is dit bindend.’ 17Julle blinde dwase! Wat is die belangrikste, die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word? 18Verder sê julle: ‘As iemand by die altaar sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die offer bo-op die altaar sweer, is dit bindend.’ 19Hoe blind kan julle tog wees! Wat is immers belangriker, die offer of die altaar waardeur die offer geheilig word? 20Wanneer jy by die altaar sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by alles wat daarop is. 21En wanneer jy by die tempel sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by Hom wat daarin woon. 22Net so, wanneer jy sweer by die hemel, sweer jy ook by die troon van God en boonop by Hom wat op die troon sit.
23“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste#23:23 Grondteks julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander., maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie. 24Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af!
25“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug. 26Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word.
27“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid. 28So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet.
29“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes.
30“Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’ 31Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het. 32En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol! 33Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug? 34Let op, Ek sal vir julle profete en wyses en skrifkenners stuur. Julle sal sommige van hulle vermoor en kruisig en julle sal ander in julle sinagoges met swepe slaan en van die een dorp na die ander vervolg.
35“So sal julle skuldig word aan die moord op al die vromes, van die regverdige Abel af tot by Sagaria, die seun van Berekja, wat julle by die tempel, tussen die heiligdom#23:35 Die grondteks verwys na die hoofdeel van die tempel wat uit die Heilige en die Allerheiligste bestaan het. en die altaar vermoor het.
36“Ek verseker julle, al die opgehoopte oordeel sal losbars oor hierdie generasie.”
Jesus treur oor Jerusalem
37“O Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoeveel maal wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar jy wou My dit nie toelaat nie!
38“Julle moet besef, julle woning word vir julle verlate agtergelaat. 39Ek verseker julle, julle sal My van nou af nooit weer sien nie tot op die dag wanneer julle sal sê: ‘Geseënd is die Een wat kom in die Naam van die Here!’#23:39 Ps 118:26.

Currently Selected:

MATTEUS 23: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy