YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 8

8
Die wyding van die priesters
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Bring vir Aäron en sy seuns, met die spesiale klere, die salfolie, die bul vir die sonde-offer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood 3na die ingang van die tent van ontmoeting#8:3, 4, 10 Of tabernakel.. Roep dan die hele gemeenskap van Israel bymekaar om jou daar te ontmoet.”
4Moses het die opdrag van die Here uitgevoer en so het die hele volk by die ingang van die tent van ontmoeting#8:3, 4, 10 Of tabernakel. bymekaargekom. 5Moses het die volgende aankondiging gemaak: “Die Here het my beveel om te doen wat ek nou gaan doen!”
6Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom en hulle met water gewas. 7Hy het toe vir Aäron priesterklere aangetrek en die ampserp om hom gebind. Hy het ook die priestermantel en die priesterlike skouerkleed vir hom aangetrek. Hy het die skouerkleed met die ampserp vasgemaak. 8Daarna het Moses ook die borssak aan Aäron vasgemaak en die Urim en Tummim daarin gesit. 9Hy het toe ook die tulband met die goue plaat voor op sy kop gesit, net soos die Here hom beveel het om te doen.
10Moses het toe die salfolie geneem en die tent van ontmoeting#8:3, 4, 10 Of tabernakel. en alles daarin gesalf om dit aan die Here op te dra. 11Hy het die altaar sewe keer besprinkel en sodoende die altaar, al die gereedskap en die waskom met sy staander gesalf en dit geheilig. 12Hy het toe ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi en hom gesalf en hom sodoende vir sy werk heilig gemaak. 13Moses het ook Aäron se seuns laat naderkom en vir hulle priesterklere, ampserpe en tulbande aangetrek, net soos die Here hom beveel het om te doen.
14Toe het Moses die bul vir die sonde-offer ingebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit. 15Moses het die bul geslag, van die bloed gevat en met sy vinger van die bloed op die vier horings van die altaar gesmeer om dit te reinig. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi. Op dié manier het hy die altaar geheilig sodat daarop versoening gedoen kan word. 16Hy het toe al die vet rondom die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere en hulle vet geneem en dit alles op die altaar verbrand. 17Die res van die bul met sy vel, vleis en mis is aan die buitekant van die kamp verbrand, net soos die Here hom beveel het om te doen.
18Moses het toe die ram as brandoffer vir die Here gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit. 19Moses het die ram geslag en van die bloed gevat en dit teen die kante van die altaar gesprinkel. 20Daarna het hy die ram in stukke gesny en die kop, sommige van die stukke vleis en die vet op die altaar verbrand. 21Nadat hy die binnegoed en die pote met water gewas het, het Moses die hele ram op die altaar as ’n brandoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Alles is gedoen net soos die Here vir Moses beveel het.
22Moses het toe ’n tweede ram gebring. Dit was die ram vir die wyding van die priesters. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit. 23Moses het die ram geslag en van die bloed geneem en dit aan die oorlel van Aäron se regteroor, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer. 24Hy het toe ook Aäron se seuns laat naderkom en van die bloed ook aan hulle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kante van die altaar gesprinkel.
25Toe het hy die vet geneem, die vet van die stert, die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere met hulle vet en ook die regterboud. 26Hy het toe ook ’n ongesuurde brood, ’n roosterkoek van ongesuurde brood wat in olyfolie gedoop is en ’n dun broodjie wat met olyfolie gesmeer was bo-op die vet en die regterboud gesit. Al die brood is geneem uit die mandjie met ongesuurde brood wat in die teenwoordigheid van die Here gestaan het. 27Hy het dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit vir die Here aan te bied deur dit na Hom uit te steek.
28Moses het toe die offers by hulle teruggevat en dit op die altaar bo-op die brandoffer as ’n wydingsoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. 29Moses het toe die bors geneem en dit opgelig voor die Here in sy teenwoordigheid. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, net soos die Here hom beveel het.
30Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed op die altaar geneem en dit op Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. Op dié manier het hy Aäron en sy seuns en hulle klere gewy.
31Toe het Moses vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting#8:31, 33, 35; 9:5, 23 Of tabernakel. en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat vir die wyding van die priesters gebruik is, net soos ek jou beveel. 32Enige vleis of brood wat oorbly, moet verbrand word. 33Vir sewe dae lank mag julle nie die ingang van die tent van ontmoeting#8:31, 33, 35; 9:5, 23 Of tabernakel. verlaat nie, want dit is hoe lank dit sal neem om die wydingseremonie te voltooi. 34Wat vandag gedoen is, is die bevel van die Here sodat daar versoening vir julle kan wees. 35Onthou, julle moet by die ingang van die tent van ontmoeting#8:31, 33, 35; 9:5, 23 Of tabernakel. bly vir sewe dae en sewe nagte en doen wat die Here vra. As julle dit nie doen nie, sal julle sterf. Dit is wat die Here sê.” 36Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here deur Moses beveel het.

Currently Selected:

LEVITIKUS 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy