YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 22

22
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir Aäron en sy seuns om die heilige gawes wat die Israeliete vir My eenkant afsonder, met sorg te hanteer sodat hulle nie my Naam ontheilig nie. Ek is die Here.
3“Herinner hulle daaraan dat nie een van hulle afstammelinge die offer wat die Israeliete aan My opgedra het, mag bring terwyl hulle self onrein is nie. So ’n persoon mag nooit weer in my teenwoordigheid diens doen nie. Ek is die Here.
4“As enige priester uit die nageslag van Aäron ’n aansteeklike velsiekte het, of ’n afskeiding wat hom onrein maak, mag hulle nie van die heilige offers eet voordat hulle rein verklaar is nie. As enige priester onrein sou raak deur aan ’n lyk te raak of deur ’n saadstorting, 5of deur ’n kruipende dier aan te raak wat onrein is, of deur aan iemand te raak wat onrein is vir watter rede ook al, 6sal hy onrein bly tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige offers eet voordat hy sy liggaam met water gereinig het nie. 7As die son ondergaan, sal hy weer rein wees en mag hy van die heilige offers eet. Dit is immers hulle enigste kos.
8“Die priesters mag nooit vleis eet van ’n dier wat aan natuurlike oorsake gevrek het of wat deur wilde diere verskeur is nie, want dit sal hulle onrein maak. Ek is die Here.
9“Waarsku alle priesters om hierdie reëls noukeurig na te kom, anders sal hulle gestraf word en sterf omdat hulle oortree het. Ek is die Here wat hulle heilig maak.
10“Iemand wat nie aan die familie van ’n priester behoort nie, mag nooit van die heilige offers eet nie, selfs nie eers as die persoon in ’n priester se huis woon of een van sy gehuurde slawe is nie. 11As die priester egter self die slaaf gekoop het, mag hy van die offers eet. As die slaaf kinders het, mag hulle ook deel in die kos. 12As die dogter van ’n priester sou trou met iemand buite die priesterlike familie, mag sy nie langer van die heilige offers eet nie. 13As sy egter ’n weduwee word of geskei en nie enige kinders het nie, en sy kom bly weer in haar pa se huis, mag sy weer van haar pa se kos eet. Behalwe vir hierdie uitsonderings, word net die priesters se families toegelaat om van die heilige offers te eet.
14“Iemand wat van die heilige offers eet sonder om dit te besef, moet die priester daarvoor betaal plus ’n addisionele heffing van twintig persent. 15Niemand mag die heilige offers wat deur die Israeliete vir die Here gebring word, onrein maak 16deur toe te laat dat onbevoegde persone daarvan eet nie. So ’n nalatige priester bring skuld op die volk wat weer betaal moet word. Ek is die Here wat hulle heilig maak.”
Aanvaarbare en onaanvaarbare offers
17Die Here het vir Moses gesê: 18“Gee vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete hierdie instruksies. Dit is van toepassing op gebore Israeliete en op vreemdelinge wat tussen julle woon. As jy ’n brandoffer vir die Here offer, of dit nou is om ’n gelofte na te kom en of dit ’n vrywillige offer is, 19sal dit net aanvaar word as dit ’n manlike dier sonder enige liggaamsgebrek is. Dit mag ’n bul, ’n skaapram of ’n bokram wees. 20Moenie ’n dier met ’n liggaamsgebrek bring nie, want dit sal nie ter wille van jou aanvaar word nie.
21“As jy een van jou diere as ’n maaltydoffer vir die Here bring, of dit nou is om ’n gelofte na te kom en of dit ’n vrywillige offer is, moet jy ’n dier sonder enige liggaamsgebrek offer. 22’n Blinde, beseerde, ver-mink-te dier of een met ’n vergroeisel, ’n oop seer of ’n velkwaal mag nooit ’n vuuroffer op die altaar vir die Here wees nie. 23As ’n bul of ’n lam misvormd of klein is, mag dit as ’n vrywillige offer dien, maar dit mag nie geoffer word om ’n gelofte na te kom nie. 24’n Dier met beseerde testikels of wat gekastreer is, mag nooit vir die Here geoffer word nie. 25Verminkte of gebreklike diere van vreemdelinge mag ook nie as ’n offer aan julle God geoffer word nie. Sulke diere is onaanvaarbaar omdat hulle gebreklik is.”
26Die Here het ook vir Moses gesê: 27“Wanneer ’n bul of ’n skaapram of bokram gebore word, moet dit sewe dae lank by sy ma bly. Vanaf die agtste dag is dit aanvaarbaar as ’n vuuroffer vir die Here. 28Jy mag nie ’n vroulike dier en haar kalf of lam saam op dieselfde dag slag nie. 29Wanneer jy ’n dankoffer vir die Here bring, doen dit só dat dit ter wille van jou aanvaar sal word. 30Eet die hele offerdier op die dag waarop dit gebring is. Jy mag niks laat oorbly tot die volgende dag toe nie. Ek is die Here.
31“Julle moet al my gebooie getrou nakom en gehoorsaam daaraan wees, want Ek is die Here. 32Moenie my heilige Naam ontheilig nie. Die volk Israel moet My as die Heilige erken. Dit is Ek, die Here, wat julle heilig maak. 33Dit was Ek wat julle uit Egipte gered het sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here.”

Currently Selected:

LEVITIKUS 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy