YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 11

11
Rein en onrein diere
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Gee die volgende instruksies vir die Israeliete: Die diere wat julle vir kos mag gebruik, 3sluit die diere in wat volledig gesplete hoewe het en herkou. 4Van die volgende diere wat hier genoem word, mag julle nie eet nie omdat hulle óf gesplete hoewe het óf herkou, maar nie albei nie. Die kameel mag nie geëet word nie, want al herkou die dier, het hy nie gesplete hoewe nie. 5Dit geld ook van die dassie 6en die haas. Hulle mag nooit geëet word nie. 7’n Vark mag ook nie geëet word nie, want al het dit gesplete hoewe, herkou ’n vark nie. 8Julle mag nie van die vleis van hierdie diere eet of aan hulle karkasse raak nie. Hulle is onrein vir julle.
9“Wat die seediere betref, mag julle alles eet wat vinne en skubbe het, of dit nou in vars water of in sout water voorkom. 10Seediere wat nie beide vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie. Julle moet hulle verafsku. 11Hulle sal altyd vir julle verbode wees. Julle mag nooit hulle vleis eet of selfs aan hulle dooie liggame raak nie. 12Ek herhaal, enige seedier wat nie beide vinne en skubbe het nie, is ten strengste verbode vir julle.
13“Dit is die voëls wat julle nooit mag eet nie omdat hulle afskuwelik is vir julle: die arend, die aasvoël, die visvalk, 14verskillende valksoorte, 15al die kraaisoorte, 16die volstruis, die nagvalk, die seemeeu en roofvoëls van verskillende soorte, 17die klein uil, die visvanger, die groot uil, 18die wit uil, die pelikaan, die aasvreter, 19die ooievaar, verskillende soorte reiers, die hoep-hoep en die vlermuis.
20“Alle insekte met vlerke wat op die grond kruip, is vir julle verbode. 21Julle mag wel dié met vlerke eet wat met hulle agterpote spring. 22Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke. Van hulle mag julle eet. 23Alle ander insekte met vlerke wat loop of kruip, is verbode vir julle.
24“Sommige diere maak julle onrein. As julle aan hulle karkasse raak, is julle tot die aand toe onrein. 25As jy die karkas van so ’n onrein dier moet verwyder, moet jy dadelik jou klere was en sal jy tot die aand toe onrein wees.
26“Die onrein diere is dié met ’n gesplete hoef, maar wat nie volledig gesplete is nie of wat nie herkou nie. As jy aan die karkas van so ’n dier raak, is jy onrein tot die aand toe. 27Alle viervoetige diere wat pote het, is onrein vir julle. As jy aan die karkas van so ’n dier raak, is jy onrein tot die aand toe. 28As jy so ’n karkas moet optel om te verwyder, moet jy dadelik jou klere was en is jy onrein tot die aand toe.
29“Van die klein diertjies wat op die grond skarrel of kruip, is die volgende onrein vir julle: die mol, die muis, al die akkedissoorte, 30die geitjie, die boomakkedis, die gewone akkedis, die sandakkedis en die verkleurmannetjie. 31Al hierdie klein diertjies is vir julle onrein. As jy aan so ’n diertjie raak as hy dood is, is jy onrein tot die aand toe. 32As so ’n dier vrek en op iets val, dan is dit ook onrein, ongeag waarvoor dit gebruik word. Dit geld vir enigiets wat van hout, lap, leer of growwe linne gemaak is. Dit moet in water ge-dompel word, en sal tot die aand toe onrein bly. Daarna is dit rein en mag dit weer gebruik word.
33“As so ’n diertjie vrek en in ’n kleipot val, is alles in die pot onrein en moet die pot gebreek word. 34As die water wat gebruik word om ’n onrein voorwerp skoon te maak, aan enige kos raak, is al daardie kos onrein. Enige vloeistof in so ’n onrein houer is ook onrein. 35Enigiets waarop so ’n dooie diertjie val, is onrein. As dit ’n kleioond of kookpot is, moet dit stukkend gebreek word. Dit het vir julle onrein geword.
36“As so ’n dooie diertjie egter in ’n fontein of opgaardam val, is die water nog steeds rein. Maar enige persoon wat die dooie diertjie wegvat, is onrein. 37As so ’n dooie diertjie op saad val wat geplant gaan word, is die saad nog steeds rein. 38As die saad egter nat is wanneer ’n dooie diertjie daarop val, is die saad onrein.
39“As ’n dier wat julle mag eet, vanself vrek en iemand raak aan sy karkas, is so iemand tot die aand toe onrein. 40As jy van sy vleis eet of die karkas wegdra, moet jy jou klere was. Dan sal jy onrein bly tot die aand toe.
41“Enige dier wat op die grond kruip, is vir julle verbode en mag nie geëet word nie. 42Dit sluit alle diere in wat op hulle pens seil, en ook vierpotige diere en ook diere met baie pote. Al hierdie soort diere is verwerplik vir julle. 43Moenie jouself onrein maak deur aan sulke diere te raak nie. 44Ek, die Here, is jou God. Julle moet heilig wees omdat Ek heilig is. Moenie jouself onrein maak deur aan enige van die kruipende diere te raak nie. 45Ek, die Here, is die Een wat jou uit Egipte laat trek het om jou God te wees. Jy moet daarom heilig wees omdat Ek heilig is.
46“Dit is die instruksies wat geld vir die diere op land, die voëls en al die lewende wesens wat in water lewe of wat op die grond kruip. 47So kan julle onderskei tussen dit wat onrein is en wat nie geëet mag word nie; en dit wat rein is en geëet mag word.”

Currently Selected:

LEVITIKUS 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy