YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 8

8
Die vrou wat op heterdaad betrap is
1Jesus het egter na die Olyfberg toe gegaan. 2Teen dagbreek die volgende oggend het Jesus weer na die tempel toe gekom en die hele volk het na Hom toe gestroom. Hy het toe gaan sit en hulle onderrig.
3Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op die daad van owerspel betrap is, en laat haar tussen hulle staan. 4Hulle sê vir Hom: “Leermeester, hierdie vrou is betrap terwyl sy besig was met ’n daad van owerspel. 5Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?” 6Dit het hulle net gesê om Hom te toets sodat hulle iets kon kry om Hom oor aan te kla. Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. 7Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.” 8Daarna het Jesus weer gehurk en op die grond geskryf.
9Nadat hulle dit gehoor het, het hulle een vir een begin weggaan, eerste die familiehoofde. Jesus is alleen agtergelaat terwyl die vrou nog in hulle midde staan. 10Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?”
11Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
Jesus is die lig vir ’n mensdom in duisternis
12Verder, by ’n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
13Die Fariseërs het toe vir Hom gesê: “Jy getuig oor jouself; daarom is jou getuienis nie geldig nie.”
14Jesus het reageer: “As Ek oor Myself getuig, is my getuienis geldig omdat Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan. Julle weet egter nie waarvandaan Ek kom of waarheen Ek gaan nie. 15Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. 16As Ek egter oordeel, is my oordeel geldig omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17In julle wet is dit opgeskryf dat die getuienis van twee persone geldig is. 18Dit is Ek wat oor Myself getuig, asook die Vader wat My gestuur het, wat oor My getuig.”
19Hulle het toe vir Hom gesê: “Waar is jou vader?”
Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” 20Jesus het hierdie stellings gemaak in die skatkamer van die tempel terwyl Hy besig was om in die tempel te onderrig. Niemand het Hom egter gearresteer nie omdat sy tyd nog nie aangebreek het nie.
Ongelowiges sterf in hulle sonde
21Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde doodgaan. Waarheen Ek gaan, kan julle nie nou kom nie.”
22Die Jode het reageer: “Hy gaan tog nie homself om die lewe bring nie – omdat hy sê: ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie’?”
23Toe het Hy vir hulle gesê: “Julle is van hieronder. Ek is van daarbo. Julle het julle oorsprong uit hierdie wêreld; Ek het my oorsprong nie uit hierdie wêreld nie. 24Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal sterf in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan.”
25Hulle vra Hom: “Wie is jy nou eintlik?”
Jesus se antwoord was: “Wat het Ek vir julle gesê van die heel begin af? 26Ek het baie oor julle te sê, en ’n oordeel oor julle uit te spreek, maar Hy wat My gestuur het, is eg en wat Ek by Hom gehoor het, dit deel Ek aan die wêreld mee.” 27Hulle het nie verstaan dat Hy besig was om die Vader met hulle te bespreek nie.
28Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het. 29Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.”
30Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo.
Ware afstamming van Abraham
31Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; 32en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.”
33Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?”
34Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. 35Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd. 36As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees. 37Ek is daarvan bewus dat julle die afstammelinge van Abraham is. En tog beywer julle julle om My dood te maak omdat julle nie my boodskap wil aanvaar nie. 38Ek praat oor wat Ek by mý Vader gesien het; en julle doen wat julle by júlle pa gehoor het.”
39Hulle het daarop reageer: “Abraham is ons pa.”
Jesus antwoord hulle: “As julle ware kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. 40En nou wil julle My doodmaak – die Een wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle kom meedeel. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. 41Julle doen net wat júlle pa gedoen het.”
Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net een Vader, en dit is God.”
42Jesus het geantwoord: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom en is nou hier. Ek het beslis ook nie uit my eie hierheen gekom nie, maar Hy het My gestuur. 43Waarom verstaan julle nie my boodskap nie? Omdat julle nie kan luister na my boodskap nie. 44Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is. 45Omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. 46Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie? 47Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.”
48Die Jode het teruggekap: “Het ons nie tereg gesê dat jy ’n Samaritaan en in die mag van ’n bose gees is#8:48 Of ’n Samaritaan is en ’n demoon het. nie?”
49Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n bose gees nie,#8:49 Of Ek het nie ’n demoon nie. en Ek eer my Vader, maar julle onteer My. 50Ek soek nie my eie eer nie; daar is Iemand wat my eer soek. Laat Hý hieroor beslis. 51Ek verseker julle, as iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.”
52Die Jode se reaksie was: “Nou weet ons verseker dat jy in die mag van ’n bose gees is#8:52 Of dat jy ’n demoon het.. Abraham en die profete het reeds gesterf; nietemin sê jy: ‘As iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.’ 53Jy is tog nie groter as ons vader Abraham wat reeds gesterf het nie? En die profete is ook reeds dood. As wie bied jy jouself aan?”
54Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, oor Wie julle sê: ‘Hy is ons God,’ 55maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom. As Ek sê: ‘Ek ken Hom nie,’ sal Ek net soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en Ek gehoorsaam sy woorde. 56Abraham, julle voorvader, het met uitbundige blydskap uitgesien na my dag; en hy het dit gesien en was verheug.”
57Die Jode het toe reageer: “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?”
58Jesus het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, nog voordat Abraham bestaan het, was Ek al wat Ek is.”
59Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee dood te gooi. Jesus het hulle egter ontwyk en uit die tempelgebied padgegee.

Currently Selected:

JOHANNES 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy