YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 6

6
Meer as vyfduisend mense kry genoeg kos
1Hierna het Jesus na die oorkant van die Meer van Galilea vertrek, wat ook die Meer van Tiberias genoem word. 2’n Baie groot skare mense het Hom bly volg omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy gedoen het toe Hy die siekes genees het. 3Jesus het toe die berg uitgeklim en met sy dissipels op ’n plek daar gaan sit. 4Die Pasga was naby, dit is ’n fees van die Jode.
5Toe Jesus opkyk, sien Hy dat ’n baie groot skare mense na Hom toe aangestap kom. Hy sê daarop vir Filippus: “Waar moet ons brood gaan koop sodat die mense iets te ete kry?” 6Jesus het dit net gesê om hom te toets, want Hy het self geweet wat Hy sou doen.
7Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ’n klein fortuin#6:7 Grondteks 200 denarii; ’n denarius was die ekwivalent van een dag se arbeidersloon. kos om aan elkeen van hulle net ’n stukkie kos te gee.”
8Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Jesus: 9“Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir só baie mense?”
10Jesus het daarop reageer: “Reël dat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op die plek en die mense het gaan sit. Die mans was ongeveer 5 000. 11Jesus het toe die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê.
12Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.” 13Hulle het dit toe bymekaargemaak en twaalf mandjies vol gemaak met oorskietstukke van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.
14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hierdie man is regtig die profeet, die Een wat na die wêreld toe sou kom.” 15Jesus het egter agtergekom dat hulle op die punt staan om Hom te gryp om Hom koning te maak. Hy het toe weer die berg uitgeklim, net Hy alleen.
Jesus loop op die water
16Toe dit skemeraand geword het, het Jesus se dissipels na die meer toe gegaan, 17in ’n boot geklim en na die oorkant van die meer, na Kapernaum toe, begin vaar. Dit was al goed donker, maar Jesus het nog nie by hulle aangesluit nie. 18En die meer self het onstuimig gedein as gevolg van ’n sterk wind wat gewaai het. 19Toe hulle ongeveer vyf of ses kilometer weg geroei het, sien hulle Jesus op die water loop tot baie naby aan die boot, en hulle het vreesbevange geword. 20Jesus sê egter vir hulle: “Dit is Ek, hou op bang wees.” 21Hulle was gretig om Hom in die skuit te neem en die boot het onmiddellik by die oewer aangekom waarheen hulle gevaar het.
Jesus is die brood wat lewe gee
22Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. 23Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is. 24Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus. 25Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?”
26Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.”
28Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?”
29Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.”
30Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons? 31Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’#6:31 Vgl Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40.
32Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee.
33“Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.”
34Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.”
35Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. 36Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. 37Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. 38Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan.
40“Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.”
41Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?”
43Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek. 45In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’#6:45 Jes 54:13. Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien.
47“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. 50Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. 51Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.”
52Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?”
53Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. 55My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom.
57“Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe.
58“Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.”
59Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee.
Baie van Jesus se dissipels sien nie meer kans om Hom te volg nie
60Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?”
61Jesus het besef dat sy dissipels hieroor mor en Hy het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? 62Wat dan as julle vir My, die Seun van die Mens, sien opvaar na waar Ek vroeër was? 63Dit is die Gees wat lewend maak; die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe. 64En tog is daar sommige onder julle wat nie glo nie.” (Jesus het van die heel begin af geweet wie dit is wat nie glo nie en wie dit is wat Hom gaan verraai.) 65Daarop het Hy gesê: “Daarom het Ek aan julle gesê dat niemand in staat is om na My toe te kom as dit nie aan so ’n persoon gegun word deur die Vader nie.”
66Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan na hulle vroeëre lewe en nie meer saam met Hom die pad geloop nie. 67Toe sê Jesus vir die twaalf: “Wil júlle nie ook weggaan nie?”
68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69Ons is daarvan oortuig en weet dat U die Heilige van God is.”
70Jesus het daarop teenoor hulle reageer: “Het Ek dan nie self julle twaalf uitgesoek nie? Maar een van julle is ’n duiwel!” 71Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.

Currently Selected:

JOHANNES 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy