Parallel
9
Abimelek word leier in Sigem
1Jerubbaäl se seun Abimelek het een keer sy ma se familie in Sigem gaan besoek. Hy sê toe vir sy ma se mense: 2“Kom ons vind uit by die mense van Sigem of hulle verkies om deur al 70 seuns van Jerubbaäl regeer te word, of liewer deur net een persoon. Onthou ’n bietjie dat ek van dieselfde vleis en bloed is as julle.”
3Sy ma se familie het toe die keuse aan die mense van Sigem gestel. Hulle het op Abimelek besluit. Hulle het gesê: “Hy is mos een van ons.” 4Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Abimelek het vir hom daarmee ’n klomp roekelose niksnutte gehuur om hom te volg. 5Hy is met hulle terug na sy pa se huis in Ofra. Daar het hy al 70 sy pa se seuns op een klip laat vermoor. Jerubbaäl se jongste seun, Jotam, het egter weggekruip en die moord oorleef. 6Die mense van Sigem en Millo het bymekaargekom en vir Abimelek koning gemaak by die groot eikeboom langs die klippilaar van Sigem.
7Jotam het hiervan gehoor. Hy het toe op die top van Gerisimberg gaan staan. Van daar af het hy vir hulle geskreeu: “Luister na my, mense van Sigem, dat God na julle kan luister.
8“Eendag het die bome besluit om vir hulle ’n koning te salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Regeer oor ons!’ 9Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om die olyfolie te gee waarmee God en mens vereer word, net om oor die bome te regeer?’
10“Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom word jy koning oor ons!’ 11Maar die vyeboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my mooi soet vrugte te gee net om oor die bome te regeer?’
12“Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom word jy koning oor ons!’ 13Ook die wingerdstok het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my wyn te gee wat God en mense se harte bly maak net om oor die bome te regeer?’
14“Laaste vra al die bome toe vir die doringbos: ‘Kom jy, kom wees jy koning oor ons.’ 15En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my regtig wil salf as koning oor julle, moet julle in my skaduwee kom staan. As julle dit nie wil nie doen nie, sal daar vuur uit my dorings kom en die sederbome van die Libanon verteer.’
16“Dink ’n bietjie na of julle eerbaar en in goeie trou opgetree het toe julle vir Abimelek koning gemaak het. Het julle reg gemaak met Jerubbaäl en sy nageslag? Het julle hom die eer gegee wat hom toekom? 17My pa het ter wille van julle gaan oorlog maak. Hy het sy lewe vir julle gewaag. Hy het julle van die Midianiete bevry. 18Julle het vandag met sy nageslag swaarde gekruis. Julle het sy 70 seuns almal op een klip doodgemaak. Mense van Sigem, julle het sy slavin se seun Abimelek koning gaan maak, net omdat hy julle familie is. 19As julle vandag eerbaar en opreg teenoor Jerubbaäl en sy huis opgetree het, mag julle dan bly wees oor Abimelek en mag hy vreugde in julle vind. 20As dit nie die geval is nie, mag daar dan ’n vuur uit Abimelek kom wat die mense van Sigem en die mense van Millo verteer. Mag daar dan ook ’n vuur uit die mense van Sigem en die mense van Millo kom wat Abimelek verteer.”
21Jotam het toe gevlug en in Beër gaan bly. Hy was bang vir sy broer Abimelek.
22Abimelek het drie jaar lank oor Israel regeer.
Jotam se woorde word waar
23God het struweling tussen Abimelek en die mense van Sigem laat kom. Hulle het teen Abimelek in verset gekom. 24God het Abimelek vergeld vir die geweld wat hy sy broers, die 70 seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God het die mense van Sigem gestraf omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor. 25Die mense van Sigem het hinderlae vir Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Abimelek het hiervan gehoor.
26Gaäl, die seun van Ebed, het saam met sy familie na Sigem toe getrek. Hulle het die vertroue van die mense van Sigem gewen. 27Op ’n keer het hy en sy mense uitgegaan in die veld. Hulle het druiwe gepluk en dit gepars om fees te hou. Hulle het in hulle god se tempel ingegaan en begin eet en drink. Hulle het Abimelek begin slegsê. 28Ebed se seun Gaäl het gevra: “En wie is Abimelek nogal? Kom hy van Sigem dat ons na hom moet luister? Hy is maar net Jerubbaäl se seun. Sy generaal is maar net Sebul. Ons moet eerder na Sigem se ware afstammelinge in Gamor luister. Waarom moet ons ons aan Abimelek onderwerp? 29As ek hier in beheer was, sou ek Abimelek weggejaag het.”
Gaäl het vir Abimelek uitgedaag: “Kry jou leër bymekaar en kom veg teen my!”
30Sebul, die stad se aanvoerder, het gehoor wat Gaäl, die seun van Ebed, kwytgeraak het. Hy was woedend. 31Hy het boodskappers na Abimelek in Torma gestuur om vir hom te sê: “Gaäl, die seun van Ebed, en sy familie het in Sigem kom bly. Hulle is besig om die stad teen jou aan te hits. 32Jy en die mense saam met jou moet vannag kom en in die veld gaan wegkruip. 33As die son môre-oggend opkom, moet jy die stad bestorm. Wanneer hy en die mense by hom met jou kom veg, kan jy met Gaäl maak wat jy wil.”
34Abimelek het gedurende die nag op vier plekke rondom Sigem gaan wegkruip. 35Gaäl, die seun van Ebed, het uitgekom en by die stadspoort gaan staan. Abimelek en sy manne het uit hulle wegkruipplek gekom. 36Gaäl het die mense gesien. Hy het vir Sebul gesê: “Kyk, daar is mense wat besig is om van bo van die heuwels af te kom.”
Sebul sê toe vir hom: “Dis die skaduwees van die heuwels wat vir jou soos mense lyk.”
37Gaäl het toe weer vir hom gesê: “Nee, kyk mooi, daar is mense wat van die hoogste punt van die land af kom. ’n Ander groep is aan die kom uit die koers van die waarsêersboom.”
38Toe sê Sebul vir hom: “Waar is jou groot mond nou? Jy het mos gesê: ‘Wie is Abimelek dan dat ons na hom moet luister?’ Hulle wat daar aankom, is mos die mense oor wie jy soveel te sê gehad het. Trek nou uit en gaan veg teen hom!”
39Gaäl, met die mense uit Sigem agter hom, het uitgetrek om teen Abimelek te gaan veg. 40Abimelek het egter vir Gaäl laat terugval en hy het vir Abimelek gevlug. Baie mense is doodgemaak en het rondom die stadspoort gelê.
41Abimelek is terug na Aruma. Sebul het vir Gaäl en sy mense uit Sigem verdryf. Hulle kon nie langer daar woon nie.
42Die mense van Sigem het toe die volgende oggend uitgetrek om te gaan veg. Abimelek het daarvan gehoor. 43Hy het sy manskappe in drie groepe verdeel en in die veld gaan wegkruip. Toe hulle die mense uit die stad sien kom, het hulle uit hulle skuilplekke opgespring en die mense aangeval. 44Die groep by Abimelek het op die poort afgestorm en in die ingang van die stad gaan stelling inneem. Die ander twee groepe het die mense in die oop veld aangeval. 45Abimelek het daardie hele dag deur teen die stad geveg voor hy dit kon inneem. Hy het almal in die stad doodgemaak, dit met die grond gelyk gemaak en sout oor alles gestrooi.
46Toe die inwoners van Migdol-Sigem hoor wat gebeur het, het hulle in die tempel van El-Berit gaan skuil. 47Iemand het vir Abimelek kom vertel dat al die inwoners van Migdol-Sigem daar in die tempel skuil. 48Abimelek het toe met sy manskappe teen Salmonberg uitgeklim. Daar het hy ’n byl gevat en ’n boomtak afgekap. Hy het dit op sy skouer getel. Hy sê toe vir sy mense: “Julle het gesien wat ek gedoen het. Maak gou en doen dieselfde!” 49Elkeen van hulle het toe ook ’n tak afgekap. Hulle het vir Abimelek gevolg en die takke teen die mure van die tempel gaan opstapel. Hulle het dit aan die brand gesteek. Almal in Migdol-Sigem het doodgebrand. Daar was omtrent 1 000 mans en vroue.
50Abimelek is daarna Tebes toe. Hy het dit beleër en die stad ingeneem. 51Daar was ’n hoë toring in die middel van die stad. Al die mans en die vroue van Tebes het daarnatoe gevlug. Hulle het hulleself daarin toegesluit en opgeklim na die dak van die toring. 52Abimelek wou die toring bestorm. Hy het nadergegaan na die ingang van die toring om dit aan die brand te steek. 53’n Vrou het van bo af ’n maalklip afgegooi. Dit het hom op die kop getref en sy skedel vergruis. 54Hy roep toe dringend na sy wapendraer en sê vir hom: “Trek uit jou swaard! Maak my dood. Moenie toelaat dat hulle kan sê: ‘’n Vrou het hom doodgemaak’ nie!” Sy wapendraer het hom toe met sy swaard doodgemaak. 55Toe die Israeliete sien dat Abimelek dood is, het elkeen teruggegaan na sy huis toe.
56So het God die misdaad wat Abimelek teen sy pa begaan het om sy 70 broers te vermoor, gestraf. 57God het die kwaad van die mense van Sigem op hulle eie koppe laat afkom. Die vloek van Jerubbaäl se seun Jotam het hulle getref.