YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 6

6
Die Here stuur Gideon
1Die Israeliete het weer begin doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het hulle sewe jaar lank aan die Midianiete onderwerp. 2Die Midianiete het die Israeliete so hard behandel dat hulle die berge in gevlug het. Daar het hulle vir hulle skuilplekke in grotte en ontoeganklike plekke teen die Midianiete gebou. 3Sodra hulle iets geplant het, het die Midianiete, Amalekiete en die ander mense uit die ooste op hulle toegesak en hulle aangeval. 4Hulle het daar kom kamp opslaan en alles wat in die grond was, vernietig, selfs so ver as tot by Gasa. Hulle het nie ’n ding agtergelaat waarvan Israel kon lewe nie, selfs nie eers ’n skaap of ’n bees of ’n donkie nie. 5Die hordes Midianiete het met hulle veetroppe gekom en soos ’n swerm sprinkane hulle tente oral opgeslaan. Hulle kamele kon nie eers getel word nie. Waar hulle ook al gekom het, het hulle die land kaalgestroop. 6As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die Here om hulp begin smeek.
7Toe die Israeliete vanweë die Midianiete so by die Here begin soebat om hulle te help, 8het Hy ’n profeet na hulle gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, vir julle sê: ‘Ek het julle uit Egipte laat trek. Ek het julle bevry van die slawerny in Egipte. 9Ek het julle gered uit die hand van Egipte en hulle wat julle onderdruk het. Ek het hulle voor julle uit verdryf en Ek het hulle land vir julle gegee. 10Ek het vir julle gesê: Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie. Maar julle wou nie na My luister nie.’”
11Die Engel van die Here het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip.
12Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
13“Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die Here het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die Here sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.”
14Die Here het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.”
15Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.”
16“Ek is dan saam met jou!” het die Here vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.”
17Gideon het vir Hom gesê: “As ek U nog net een ding kan vra: Gee tog vir my ’n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, Here, wat met my praat! 18Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek na U teruggekom het om my offer hier voor U te kom neersit nie.”
Die Here sê toe: “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.”
19Gideon is terug huis toe. Hy het ’n bokkie gaargemaak en uit sestien kilogram meel ’n ongesuurde brood gebak. Hy het die vleis in ’n mandjie gepak en die sous in ’n pot gegooi. Hy het daarmee teruggekom na die Engel onder die eikeboom en dit daar neergesit.
20God se Engel sê toe vir Gideon: “Vat die vleis en die brood en sit dit op hierdie rots neer. Gooi die sous daaroor uit.” Gideon het so gemaak. 21Die Engel van die Here het toe met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood geraak. Vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die brood weggebrand. Die Engel van die Here het toe verdwyn.
22Toe Gideon agterkom dat dit die Engel van die Here was, het hy hardop uitgeroep: “Ag tog, oppermagtige Here, ek het dan die Engel van die Here in die oë gekyk!”
23“Dit is alles in orde,” het die Here vir Gideon gesê. “Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”
24Gideon het net daar ’n altaar vir die Here gebou. Hy het dit genoem “Die Here is Vrede”. Die altaar is nog al die tyd daar in Ofra van die Abiësriete.
25Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Gaan vat jou pa se tweede beste bul, die een wat sewe jaar oud is.#6:25 Of Vat jou pa se groot bul en ook ’n tweede bul van sewe jaar oud. Breek jou pa se altaar vir Baäl af. Kap die gewyde paal vir Asjera daar langsaan af. 26Kom bou dan ’n stewige altaar vir die Here jou God hier by hierdie skans bo-op die heuwel. Offer die bul op die altaar as ’n brandoffer. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het.”
27Gideon het tien mans uit sy werkers gevat en gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy het dit gedurende die nag gedoen omdat hy te bang was vir sy eie huisgesin en vir die stad se mense om dit gedurende die dag te doen.
28Toe die mense van die stad vroeg die volgende môre opstaan, sien hulle dat Baäl se altaar afgebreek is en die gewyde paal daar langsaan afgekap is. Die tweede bul was ’n brandoffer op die nuutgeboude altaar. 29Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het oral gevra en na die persoon gesoek. Hulle het uitgevind dat dit Gideon, die seun van Joas, was wat dit gedoen het.
30“Laat jou seun uitkom,” het die stad se mense van Joas geëis. “Hy moet tereggestel word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die Asjerapaal daar langsaan afgekap.” 31Joas het vir die skare wat om hom saam gebondel het, geantwoord: “Moet julle nou Baäl se saak verdedig? Moet julle sy saak red? Die persoon wat dink hy moet vir Baäl instaan, moet sommer vanoggend nog tereggestel word. As Baäl ’n god is, kan hy mos vir sy eie saak veg. Dis tog sý altaar wat afgebreek is.” 32Van daardie dag af het hulle Gideon “Jerubbaäl” genoem. Dit beteken: “Laat Baäl self sy saak behartig.” Dit is Gideon wat Baäl se altaar afgebreek het.
33Kort daarna het al die magte van Midian, Amalek en die ander mense uit die ooste ’n alliansie teen Israel gevorm. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en gaan kamp opslaan in die Jisreëlvlakte. 34Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het op die ramshoring die oproep vir oorlog geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg. 35Hy het boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur. Hy het hulle ook opgeroep om hom te volg. Hulle het almal by hom aangesluit.
36Gideon het vir God gesê: “As dit regtig so is soos U gesê het dat U die Israeliete deur my gaan bevry, wys dit tog vir my. 37Ek sal vannag ’n stuk wol op die dorsvloer los. As daar dou op die wol kom, maar die grond rondom bly droog, sal ek weet dat U my wil gebruik om die Israeliete te bevry.” 38Dit het so gebeur. Gideon het die volgende môre vroeg opgestaan. Hy het die wol uitgedruk en ’n hele bak vol water daaruit gewring.
39Toe sê hy vir God: “Moenie ongeduldig met my word nie. Kan ek nog net een keer vra. Laat die wol hierdie keer droog wees, terwyl die grond rondom vol dou is.”
40God het dit daardie nag net so laat gebeur. Die wol was droog, maar die grond rondom was vol dou.

Currently Selected:

RIGTERS 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy