YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 3

3
Die nasies wat in Kanaän oorgebly het
1Die Here het hierdie nasies langer daar laat bly. Die Here wou die Israeliete wat nie aan die oorloë teen die Kanaäniete deelgeneem het nie, hiermee toets. 2Hy wou die geslag Israeliete wat nog geen ervaring van oorlog gehad het nie, leer hoe om oorlog te maak. 3Die nasies wat die Here laat aanbly het, was die Filistyne onder aanvoering van hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat by Libanonberg vanaf Baäl-Hermonberg tot by Lebo-Hamat gewoon het. 4Die Here het hulle almal daar laat bly om deur hulle agter te kom of die Israeliete bereid is om te luister na die gebooie van die Here wat Hy deur Moses vir hulle voorouers gegee het.
5Die Israeliete het tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gewoon. 6Die Israeliete het met hulle begin ondertrou en hulle gode aanbid. 7Wat die Israeliete gedoen het, was verkeerd vir die Here. Hulle het die Here hulle God uit hulle gedagtes geskuif en eerder die beelde van die Baäls en die gewyde pale van Asjera aanbid.
8Die Here was woedend vir die Israeliete. Hy het hulle aan koning Kusan-Risatajim van Aram-Naharajim#3:8 Of Mesopotamië. uitgelewer. Hulle was agt jaar lank sy onderdane.
Otniël lei Israel
9Die Israeliete het die Here begin smeek om hulle te help. Hy het toe vir hulle iemand gestuur om hulle te bevry. Sy naam was Otniël, die seun van Kaleb se jonger broer Kenas. 10Die Gees van die Here was in hom. Hy het Israel begin lei. Otniël het oorlog teen die Aramese koning Kusan-Risatajim gaan maak. Die Here het Otniël die oorhand laat kry en hy het Kusan-Risatajim verslaan. 11Daar was toe 40 jaar lank vrede in die land. Otniël, die seun van Kenas, is later dood.
Ehud reken af met Eglon
12Die Israeliete het toe weer dinge begin doen wat verkeerd is vir die Here. Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle gegee omdat hulle verkeerd gemaak het. 13Eglon het saam met die Ammoniete en die Amalekiete Israel aangeval en Jerigo#3:13 Of die Palmstad. verower. 14Die Israeliete was agtien jaar lank onderdane van Eglon, die Moabitiese koning.
15Hulle het weer by die Here begin pleit om hulle te verlos. Hy het Ehud, die seun van Gera, gestuur om hulle te bevry. Hy was ’n Benjaminiet. Ehud was links. Die Israeliete het hom met hulle belasting na koning Eglon van Moab gestuur. 16Ehud het vir hom ’n dolk gemaak van ’n halwe meter lank wat aan albei kante skerp was. Hy het dit onder sy klere weggesteek en dit aan sy regterkant vasgegespe. 17Hy het die belasting by koning Eglon van Moab afgelewer. Eglon was ’n baie vet man. 18Nadat Ehud die belasting afgegee het, het die koning die mense wat dit gedra het, weggestuur.
19Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “U Edele, ek het ’n geheime boodskap om vir u te gee.”
Eglon sê toe vir hom: “Net ’n oomblik.” Hy het al sy amptenare wat om hom was, uitgestuur. 20Ehud het nadergestaan aan die koning waar hy in sy private koel bovertrek gesit het. Ehud het vir hom gesê: “Ek het vir u ’n boodskap van God.” Die koning het van sy troon af opgestaan. 21Ehud het toe met sy linkerhand die dolk van sy regterheup af uitgepluk en dit in Eglon se maag ingedryf. 22Ehud kon dit nie weer uitkry nie. Die koning was so vet dat die handvatsel in sy maag weggeraak het. Die koning het homself vuilgemaak. 23Ehud het die deure van binne gesluit en by ’n syportaal uitgesluip.#3:23 Sommige vertaal Ehud het by die toilet afgeklim en deur die riool ontsnap.
24Nadat hy weg is, het Eglon se amptenare teruggekom. Hulle het gesien dat die deure van die vertrek gesluit is. Hulle het vir mekaar gesê: Die koning is seker besig om die toilet te gebruik. 25Hulle het baie lank gewag. Toe die koning nie die deure van sy bovertrek oopmaak nie, het hulle ’n sleutel gekry en dit oopgesluit. Daar kry hulle hulle koning dood op die vloer.
26Omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug. 27Toe hy die heuwels van Efraim bereik, het hy op die ramshoring geblaas om hulle op te roep vir oorlog. Die Israeliete het uit die heuwels agter hom aan gekom. 28“Volg my,” het hy vir hulle gesê. “Die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag.” Hulle het hom gevolg. Hulle het beheer oorgeneem oor die Jordaandriwwe na Moab toe sodat niemand daar kon deurgaan nie.
29Hulle het die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle sterk en goeie soldate doodgemaak. Niemand kon wegkom nie. 30Moab is daardie dag aan Israel onderwerp. Daar was 80 jaar lank vrede in die land.
Samgar bevry Israel
31Ná Ehud het Samgar, die seun van Anat, gekom. Hy het 600 Filistyne met ’n drywerstok doodgeslaan en Israel bevry.

Currently Selected:

RIGTERS 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy