YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 15

15
’n Donkie se kakebeen
1Dit was die tyd toe die koring geoes is. Simson het ’n bokkie gevat om vir sy vrou te gee. Hy het vir homself gesê: “Ek wil by my vrou gaan slaap.”
Haar pa wou hom nie laat ingaan nie. 2“Ek het dan gedink jy haat haar,” het haar pa gesê. “Ek het jou strooijonker met haar laat trou. Maar haar jonger sussie is mooier as sy. Jy kan haar maar in haar suster se plek kry.”
3Simson sê toe vir hulle: “Ek is hierdie keer onskuldig vir wat ek nou met die Filistyne gaan aanvang.” 4Hy het 300 jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Tussen elke twee sterte het hy ’n fakkel vasgemaak. 5Hy het die fakkels toe aan die brand gesteek en die jakkalse in die graan van die Filistyne ingejaag. Hy het die gerwe en die miedens, alles laat afbrand. Hy het ook die wingerde en die olyfboorde vernietig.
6“Wie het dit gedoen?” het die Filistyne gevra. “Dit was Simson, die skoonseun van die man uit Timna. Hy het Simson se vrou vir sy strooijonker gegee,” het hulle gesê. Die Filistyne het toe gekom en haar en haar pa laat doodbrand.
7Simson het wraak gesweer: “Omdat julle dit gedoen het, gaan ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” 8Hy het hulle met geweld aangeval en ’n geweldige slagting onder hulle aangerig. Hy het daarna in ’n skeur by die rots van Etam gaan woon.
9Die Filistyne wou wraak neem en het in Juda kamp opgeslaan. Hulle het Legi geplunder. 10Die mense van Juda wou toe weet: “Waarom kom maak julle oorlog met ons?”
Die Filistyne het geantwoord: “Ons wil Simson vang. Ons wil hom terugbetaal vir wat hy aan ons gedoen het.”
11Uit Juda is toe 3 000 man af na die skeur by Etam. Hulle vra vir Simson: “Onthou jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?”
Hy het hulle geantwoord: “Ek doen maar net met die Filistyne wat hulle aan my gedoen het.”
12Die mense van Juda sê toe vir hom: “Ons het jou kom vang om jou aan die Filistyne uit te lewer.”
“Goed,” het Simson vir hulle gesê. “Beloof my net dat julle my nie sal doodmaak nie.”
13Hulle het hom belowe: “Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons gaan jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons sal jou regtig nie doodmaak nie.”
Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgemaak en hom weggeneem van die skeur af.
14Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne gejuig en op hom afgestorm. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Hy het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraadjies was wat wegbrand. Die toue waarmee hy geboei was, het van sy hande afgeval. 15Hy het die vars kakebeen van ’n donkie van die grond af opgeraap en daarmee het hy 1 000 Filistyne doodgeslaan.
16Hy sê toe:
“Met ’n donkie se kakebeen
het ek hulle opgestapel,
met die kakebeen van ’n donkie
1 000 man doodgeslaan.”
17Nadat hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggesmyt. Hulle het die plek toe Kakebeenshoogte genoem.
18Simson het toe baie dors geword. Hy het na die Here geroep: “U het vir u dienskneg hierdie groot oorwinning gegee. Moet ek nou van dors doodgaan en in die mag van heidene val?” 19Toe het God water uit ’n holte by Legi laat borrel. Simson het gedrink en sy krag het teruggekom. Hy het die fontein in Legi “Roepersfontein” genoem. Dit is vandag nog sy naam.
20In die twintig jaar wat die Filistyne oor hulle geheers het, was Simson die leier van Israel.

Currently Selected:

RIGTERS 15: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy