YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 13

13
Simson word gebore
1Die Israeliete het weer voor die Here kwaad gedoen. Hy het hulle vir 40 jaar lank aan die Filistyne onderwerp.
2Daar was ’n man in Sora met die naam Manoag. Hy was uit die stam van Dan. Sy vrou kon nie kinders hê nie. 3Die engel van die Here het by haar gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie tot dusver kinders kry nie, maar jy sal binnekort verwag en ’n seun hê. 4Wees versigtig. Moenie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie. 5Jy gaan binnekort geboorte gee aan ’n seun. Jou seun se hare mag nooit geskeer word nie. Hy sal van geboorte af ’n nasireër van God#13:5 Grondteks nasireër. wees. Hy sal die Israeliete uit die hand van die Filistyne bevry.”
6Die vrou het vir haar man gaan vertel: “Daar het ’n man van God na my toe gekom. Dit was vreeslik. Hy het gelyk of hy ’n engel van God kan wees. Ek het nie vir hom gevra waar hy vandaan kom nie. Hy het ook nie vir my gesê wie hy is nie. 7Hy het vir my gesê: ‘Kyk, jy gaan verwag en ’n seun hê. Jy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie. Die seun sal van sy geboorte tot sy dood aan God gewy wees.’”
8Manoag het toe tot die Here gebid: “Here, laat asseblief tog die man van God wat U na ons gestuur het, weer na ons toe kom. Laat hy vir ons meer kom sê oor wat ons moet doen met die kind wat gebore gaan word.”
9God het Manoag se gebed verhoor. God se engel het weer na die vrou toe gekom. Sy was op daardie oomblik in die veld. Haar man, Manoag, was toe nie by haar nie. 10Sy hardloop toe gou terug na haar man toe en sê vir hom: “Die man wat nou die dag by my was, het nou weer gekom.”
11Manoag het saam met sy vrou teruggehardloop. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?”
Die man het geantwoord: “Dit was ek, ja.”
12Manoag het vir hom gevra: “Wanneer jou belofte waar word, hoe moet die kind lewe en wat moet hy doen?”
13Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Sorg dat jou vrou alles doen wat Ek vir haar gesê het. 14Sy mag nie iets eet wat van druiwe af kom nie. Sy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Sy mag niks eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”
15Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag ’n bietjie hier. Ek wil vir jou ’n bokkie gaan gaarmaak om te eet.”
16“Ek sal hier wag,” sê die Engel van die Here vir Manoag. “Maar Ek sal niks eet nie. Jy kan wel ’n brandoffer gereedmaak en dit vir die Here bring.”
Manoag het nie agtergekom dat dit die Engel van die Here was nie.
17Manoag vra toe vir die Engel: “Wie is jy? Wanneer dit gebeur soos jy gesê het, wil ons graag jou naam vereer.”
18Hy het vir Manoag geantwoord: “Hoekom wil jy weet wie Ek is? Dit is te groot vir jou.”
19Manoag het toe ’n bokkie gereed gekry en dit saam met ’n graanoffer op ’n klip vir die Here geoffer. Terwyl Manoag en sy vrou so staan en kyk, het iets wonderliks gebeur. 20Toe die vlamme uit die altaar opskiet die lug in, het die Engel van die Here in die vlamme opgestyg. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle vooroor met hulle gesigte teen die grond neergeval. 21Manoag en sy vrou kon die Engel nie meer sien nie. Manoag het toe besef dat dit eintlik die Engel van die Here was. 22Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan sekerlik nie bly leef nie. Ons het dan vir God gesien.”
23Sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie ons brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ook nie aan ons verskyn het en ons al hierdie wonderlike dinge vertel het nie.”
24Die vrou het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die Here het hom geseën. 25Die Gees van die Here het in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, in hom begin werk.

Currently Selected:

RIGTERS 13: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy