YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 62

62
Jesaja se gebed vir Jerusalem
1Omdat ek Sion liefhet
en na Jerusalem verlang,
kan ek nie stilbly nie.
Ek sal nie ophou
om vir die stad te bid nie
totdat daar vir haar geregtigheid kom
soos ’n nuwe dag,
en haar redding soos ’n fakkel brand.
2Die nasies sal jou redding sien,
en die konings sal jou eer aanskou.
Jy sal ’n nuwe naam kry
wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n kroon
in sy hand hou,
’n koning se kroon in die hand
van jou God.
4Hulle sal jou nie meer
die Verstoteling noem nie
en jou land
nie meer die Verlatene nie.
Jy sal genoem word:
“Een wat Ek liefhet”
en jou land: “My Bruid.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos ’n jong man
met ’n meisie trou,
so sal jou kinders vir jou sorg.
En soos ’n bruidegom bly is
oor sy bruid,
so sal jou God bly wees oor jou.
6Ek het wagte
op jou mure gesit,
Jerusalem.
Hulle sal dag en nag bid.
Julle wat die Here herinner
aan sy beloftes,
moenie rus nie.
7Moenie die Here
met rus laat nie,
totdat Hy Jerusalem herstel het,
en die hele wêreld
die stad se lof besing.
8Die Here het vir Jerusalem
gesweer by sy eie mag:
“Ek sal nooit weer
jou koring as kos
vir jou vyande gee nie.
Nooit weer sal vreemde soldate
die wyn drink
waarvoor jy hard gewerk het nie.
9Dié wat die koring oes,
sal dit ook eet
en die Here loof.
Dié wat druiwe pluk,
sal self die wyn drink
in die voorhof
van my heiligdom.”
10Gaan uit, gaan uit deur die poorte,
maak die grootpad gereed
vir my volk wat terugkom!
Maak die pad reg!
Bou dit op! Bou die grootpad!
Rol weg die klippe!
Steek ’n vaandel in die lug
sodat al die volke dit kan sien!
11Die Here
maak ’n aankondiging
oor die hele aarde:
“Sê vir Sion:
Jou Redder kom!
Kyk, sy beloning is by Hom.”
12Hulle sal genoem word:
“Die heilige volk,
die volk wat deur die Here
gered is.”
Jerusalem, jy sal genoem word:
“Die begeerlike stad,
die stad wat nie meer verlate is nie.”

Currently Selected:

JESAJA 62: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy