YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 59

59
Waarskuwing teen sonde
1Die Here is nie te swak
om julle te red nie.
Hy is nie te doof
om julle te hoor nie.
2Julle probleem is
dat julle sondes
julle afgesny het van God.
Hy het weggedraai van julle.
Dit is weens julle sondes
dat Hy nie meer
na julle wil luister nie.
3Julle hande is vol bloed,
julle vingers is skuldig
van al die onreg.
Julle monde is vol liegstories.
Julle tonge fluister net onreg.
4Niemand stel sy saak
met opregtheid nie.
Geen uitspraak
is betroubaar nie.
Almal vertrou
op leë argumente
en praat leuens.
Hulle verwek slegte gedagtes
en gee dan geboorte aan onreg.
5Hulle broei slangeiers uit
en weef ’n spinnekopweb.
Dié wat van die eiers eet, sal sterf.
En as die eiers breek,
kom daar slange uit.
6Die spinnerakke is onbruikbaar
vir klere;
hulle kan hulleself nie daarmee
toemaak nie.
Hulle dade is vol boosheid
en hulle kenteken is geweld.
7Hulle voete hardloop
om kwaad te doen
en is haastig
om onskuldige bloed
te vergiet.
Hulle planne is bose planne.
Hulle kenmerk
is ondergang en verwoesting.
8Ware vrede ken hulle nie.
Op hulle paaie
is daar geen reg nie.
Dié wat daarop loop,
sal nie vrede ken nie.
9Daarom is redding ver van ons,
geregtigheid nie te vind nie.
Ons wag op lig,
maar alles bly donker om ons.
Ons wag vir helderheid,
maar dit is nog steeds donker.
10Soos blindes tas ons
teen die mure.
Ons tas rond
soos mense sonder oë.
Selfs helder oordag
struikel ons asof dit skemer is.
Geen wonder ons is soos lyke
tussen gesonde mense nie!
11Ons grom soos honger bere.
Ons kla soos tortelduiwe.
Want ons soek na reg,
maar dis nêrens te kry nie.
Ons soek na uitkoms,
maar dit bly ver van ons af.
12Ons oortredings teen U is baie.
Ons sondes getuig teen ons.
Ons opstandigheid is altyd voor ons,
ons is bewus van ons sondes:
13ons opstand en valsheid
teen die Here,
die ontrou teen ons God,
ons onreg en verdraaiing
van die reg.
Ons beplan en vertel leuens.
14Die reg is omgekeer,
die regverdige mense
moet op ’n afstand staan.
Die waarheid struikel
in die strate.
Eerlikheid kan nie daar
ingaan nie.
15Waarheid is nêrens te vind nie.
Elkeen wat ophou
om kwaad te doen,
word self vervolg.
Die Here het dit raakgesien,
en dit was vir Hom verkeerd
dat daar geen regverdigheid
in die regspraak meer was nie.
16Hy was verstom om te sien
dat niemand die verdruktes
help nie.
Daarom het Hy self gekom
om redding te bewerk
en geregtigheid te laat geskied.
17Hy trek regverdigheid aan
soos beskermende klere,
en sit die helm van redding
op sy kop.
Sy klere is wraak
en sy woede ’n mantel.
18Hy vergeld almal
volgens hulle verdienste:
sy woede straf sy vyande,
selfs hulle wat ver is.
19Van die westekant af
sal mense
die Naam van die Here eer,
van die oostekant af
sal hulle sy heerlikheid eer.
Hy kom soos ’n opgedamde vloed,
wat deur die Gees
van die Here
aangeblaas word.
20“Die Redder sal kom
na Sion,
Hy kom as Verlosser
vir almal in Jakob
wat hulle van hulle sondes bekeer,”
sê die Here.
21“Wat My betref,” sê die Here,
“dit is my verbond met hulle:
My Gees wat op jou is
en my woorde
wat Ek in jou mond lê,
sal nie uit jou mond
of uit die monde
van jou kinders,
of jou kindskinders
verdwyn nie,
van nou af en vir altyd.
Ek, die Here, het so gesê!”

Currently Selected:

JESAJA 59: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy