YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 1

1
1Hier is die visioene wat Jesaja seun van Amos oor Juda en Jerusalem gesien het. Dit was in die tyd dat Ussia, Jotam, Agas en Hiskia konings van Juda was.
’n Boodskap vir die opstandige Juda
2Luister, hemele!
Luister, aarde!
Dit is wat die Here sê:
“Die kinders
wat Ek grootgemaak
en versorg het,
het teen My gerebelleer.
3Selfs die bees ken sy eienaar
en die donkie
die krip van sy baas,
maar my volk Israel weet nie,
my volk verstaan niks.”
4Voorwaar, hulle is ’n sondige klomp,
met skuld belaai.
Hulle is mense
wat totaal en al korrup is.
Hulle het van die Here af
weggedraai.
Hulle het Israel se Heilige Een
geminag
en hulle rug op Hom gedraai.
5Hoekom wil julle
nog verder gestraf word?
Hoekom hou julle aan
om in opstand te kom?
Julle koppe is stukkend geslaan
en julle harte is siek.
6Julle is stukkend,
van kop tot tone –
vol kneusplekke,
hale en ontsteekte wonde!
Julle beserings is nie behandel
of verbind nie.
Daaraan is nie salf gesmeer nie.
7Julle land lê in puin
en julle stede is afgebrand.
Terwyl julle staan en kyk,
plunder vreemdelinge
julle velde
en vernietig alles wat voorkom.
Hulle los alles verlate agter.
8Sion in Jerusalem#1:8 Grondteks Die dogter van Sion. staan verlate
soos die opsigter se skerm
in ’n wingerd
of landery nadat die oes af is.
Die stad is hulpeloos
soos ’n stad onder beleg.
9As die Here, die Almagtige,
nie ’n handjievol van ons
gespaar het nie,
sou ons uitgewis gewees het
net soos Sodom en Gomorra.
10Luister na die woord van die Here,
julle regeerders van Sodom!
Luister na die bepalings
van ons God,
julle mense van Gomorra!
11“Ek is siek van julle baie offers,”
sê die Here.
“Moenie nog meer brandoffers
vir My bring nie!
Die vet van julle ramme
of ander diere
wil Ek nie hê nie.
Ek kry geen genot in die bloed
van julle bulle
én ramme én bokke nie.
12Wie het julle beveel
om voor My te verskyn,
om my voorhowe te vertrap?
13Hou op om huigelagtige offers
te bring.
Julle wierook
is vir My afstootlik.
Julle feesvierings op Nuwemaanfees
en Sabbatte,
julle spesiale vasdae,
ook julle vroomste byeenkomste
kan Ek nie verdra nie,
want dis vol boosheid!
14“Ek haat
julle Nuwemaanfeeste
en ander feeste.
Dit het ’n las
vir My geword
en Ek kan dit nie meer verdra nie!
15Ek sal nie meer kyk
wanneer julle julle hande
in gebed
na My toe uitsteek nie.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie.
Want julle hande is vol van die bloed
van onskuldige slagoffers.
16Was julleself en word skoon!
Moenie dat Ek verder sien
hoe boos julle optree nie.
Sien af van julle weë.
17Leer eers om goed te doen.
Sorg dat mense
regverdig behandel word.
Help mense wat verdruk word.
Verdedig die weeskind.
Pleit vir die regte
van die weduwee.
18“Kom nou,
laat ons die saak uitpraat,”
sê die Here.
“Maak nie saak
hoe diep die vlek
van julle sonde is nie,
Ek kan dit verwyder.
Ek kan julle so skoon maak
soos sneeu wat pas geval het.
Selfs al is die vlek so rooi
soos purper,
Ek kan julle wit maak soos wol.
19As julle gewillig is en My maar net
gehoorsaam,
sal julle die goeie gawes
van die aarde eet.
20Maar as julle weier
en rebelleer,
sal julle deur julle vyande
vernietig word.
Ek, die Here, sê so!”
Ontroue Jerusalem
21Jerusalem, voorheen so getrou,
het ’n prostituut geword!
Die stad,
eens op ’n tyd die tuiste
van reg en geregtigheid,
is nou vol moordenaars!
22Vroeër was jy soos silwer,
maar nou het jy
soos waardelose lood geword.
Jy was so suiwer,
maar nou is jy soos wyn
gemeng met water.
23Jou leiers is opstandelinge
en vriende van diewe.
Hulle vat almal omkoopgeld
en beskerm nie
die regte van weduwees en wese nie.
24Daarom sê die Een wat regeer,
die Here, die Almagtige,
die Sterk Een van Israel:
“Van my vyande
gaan Ek My bevry.
My woede gaan Ek uitstort,
op julle, my vyande!
25Ek draai teen julle.
Ek sal julle smelt
en die lood afskep.
Al julle onsuiwerhede
sal Ek verwyder.
26Daarna gee Ek aan julle
goeie regters
en wyse adviseurs
soos julle vroeër gehad het.
Dan sal Jerusalem weer
genoem word
die Stad van Geregtigheid,
die Getroue Stad.”
27Jerusalem#1:27 Grondteks Sion. sal gered word deur reg
en almal in die stad wat berou het,
deur geregtigheid.
28Maar opstandelinge
en sondaars
sal ten volle vernietig word,
want hulle weier
om terug te kom na die Here.
29Julle sal skaam wees
as julle terugdink aan die tyd
toe julle offers aan afgode
in julle tuine gebring het.
Julle sal bloos as julle dink
aan die sondes
wat julle gedoen het
in julle gewyde tuine.
30Julle sal verlep soos ’n eikeboom
of verdor soos ’n tuin sonder water.
31Die sterkste onder julle
sal wees
soos brandende strooi.
Julle bose dade is die vonk
wat strooi laat brand,
’n vuur wat niemand kan blus nie.

Currently Selected:

JESAJA 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy