YouVersion Logo
Search Icon

HEBREËRS 12

12
Met die oog vasgenael op Jesus sal ons nie uitsak nie
1Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, 2ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! 3Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.
Onthou: swaarkry is deel van God se opvoedingsprogram
4Julle het in die geveg teen die sonde nog nie tot die dood toe teenstand gebied nie. 5Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:
“My kind, jy moet dit nie geringskat
as die Here jou dissiplineer nie.
Moenie ontmoedig word as Hy
jou aanspreek nie.
6Die Here dissiplineer juis
die mense vir wie Hy lief is;
Hy tug elkeen
wat Hy as sy kind aanneem.”#12:5-6 Spr 3:11-12.
7Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie? 8As God julle nie dissiplineer soos Hy met al sy kinders doen nie, is julle nie regtig sy kinders nie, maar buite-egtelik.
9Ons aardse vaders het ons gedissiplineer, en ons het hulle daarvoor gerespekteer. Sal ons ons dan nie nog veel eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en só waarlik lewe nie?
10Ons vaders het ons vir ’n kort tydjie gedissiplineer soos hulle dit goedgevind het, maar God doen dit beslis tot ons beswil, met die doel om ons te laat deel in sy heiligheid. 11Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ’n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gedissiplineer is, ’n vredevolle oes oplewer van ’n lewe volgens die wil van God.
12Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieë wat knak, 13en maak julle hardloopbane reguit. Dan sal die lam ledemate nie ingee nie, maar eerder beter word.
Maak erns met God se roepstem
14Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ’n toegewyde#12:14a Of heilige. lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie#12:14b Grondteks waarsonder niemand die Here sal sien nie..
15Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se genade#12:15 Of onverdiende goedheid. verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ’n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie. 16Sorg dat niemand onder julle seksueel sondig of goddeloos optree soos Esau wat sy eersgeboortereg vir ’n skamele ete verkwansel het nie. 17Julle weet hoe hy later, toe hy die seën wou hê, weggewys is. Dit was te laat vir egte berou. Selfs sy trane kon dit nie meer moontlik maak nie.
18Anders as die Israeliete by Sinaiberg het julle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind, 19trompetgeskal en ’n stem wat praat nie – met die gevolg dat dié wat dit gehoor het, gesmeek het dat God nie verder met hulle moes praat nie. 20God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak, doodgegooi moes word#12:20 Vgl Eks 19:13., kon hulle nie hanteer nie. 21Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!”#12:21 Deut 9:19.
22Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is, 23en by die gemeente van God se kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes wat nou volkomenheid bereik het. 24Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van ’n nuwe verbond en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van iets beters getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het.
25Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. As die Israeliete nie ongestraf kon wegkom toe hulle Hom wat sy stem op aarde laat hoor het, afgewys het nie, hoeveel minder sal ons kan wegkom as ons die stem uit die hemel afwys! 26Destyds het God se stem van Sinaiberg af die aarde geskud. Maar nou kondig Hy aan: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.”#12:26 Hag 2:6. 27Die “nog een keer” wys daarop dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, plek sal maak vir die onwankelbare, ewige dinge.
28Daarom moet ons wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang, dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien. 29Want daar staan ook: “Ons God is ’n verterende vuur.”#12:29 Deut 4:24; 9:3.

Currently Selected:

HEBREËRS 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy