Parallel
8
Die vloedwaters sak
1Maar God het gedink aan Noag en al die mense en diere by hom in die ark. Hy het ’n sterk wind oor die water laat waai en die watervloed het begin afneem. 2Die onderaardse waterbronne het opgehou om uit te borrel en die stortreën het bedaar. 3Geleidelik het die vloedwaters gesak. Na 150 dae het die watervlak só gesak 4dat die ark op die Araratberge vasgesit het, vyf maande nadat dit begin reën het. 5Twee en ’n halwe maande later het ander bergspitse sigbaar geword namate die water gesak het.
640 dae later het Noag die venster wat hy in die ark gemaak het, oopgemaak 7en ’n kraai uitgelaat. Die kraai het heen en weer gevlieg totdat die aarde droog was. 8Daarna het hy ’n duif uitgelaat om te kyk of daar enige droë grond was. 9Maar die duif kon nêrens gaan sit nie omdat die water nog te hoog was. Daarom het dit na die ark toe teruggekom. Noag het sy hand uitgesteek, die duif gevang en dit weer in die ark ingebring. 10Sewe dae later het Noag weer die duif uitgelaat. 11Teen die aand was die duif weer daar met ’n vars olyfblaar in die bek. Noag het besef dat die water nou al heelwat gesak het. 12’n Week later het hy nog ’n keer die duif uitgelaat, maar hierdie keer het dit nie na hom toe teruggekom nie.
13Toe Noag 601 jaar oud was, tien en ’n half maande nadat die vloed begin het, het Noag die luik van die ark oopgemaak en gesien dat die aarde besig was om droog te word. 14Nog twee maande het verbygegaan en uiteindelik was die aarde droog genoeg. 15Toe sê God vir Noag: 16“Gaan nou uit die ark, jy en jou gesin. 17Laat al die diere en voëls uit sodat hulle kan vermeerder en oor die aarde versprei.”
18Noag en sy vrou, sy seuns en hulle vroue het toe uit die ark gegaan, 19asook al die verskillende soorte diere en voëls.
God se verbond met Noag
20Noag bou toe ’n altaar vir die Here en offer daarop van die diere en voëls wat vir hierdie doel bestem was. 21Die Here het die offer aanvaar en vir Homself gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek weens die mens se oortredings nie. Immers, die mens se gedagtes is boos van sy jeug af. Ek sal nooit weer al die lewende wesens so vernietig nie. 22So lank as die aarde bestaan, só lank sal saaityd en oestyd, koue en hitte, winter en somer, dag en nag bly voortbestaan.”