Parallel
50
1Josef het op sy pa geval en gehuil terwyl hy hom soen. 2Daarna sê Josef vir sy dokters om die lyk te balsem. 3Hierdie proses het 40 dae geneem en was deel van die 70 dae waartydens die hele Egipte oor Jakob gerou het. 4Ná die routyd praat Josef met die farao se raadgewers en vra dat hulle namens hom met die farao sal praat. 5Hy sê vir hulle: “Sê vir die farao my pa het my ’n eed laat aflê. Hy het gesê: ‘Ek is op die punt om te sterf. Neem my liggaam terug na die land Kanaän toe en begrawe my in ons gesin se familiegraf.’ Ek wil nou opgaan soontoe en my pa gaan begrawe. Daarna sal ek terugkom.”
6Die farao het ingestem: “Gaan en begrawe jou pa soos jy belowe het.” 7Josef het toe gegaan en saam met hom al die amptenare van die farao, die raadgewers van sy paleis en al die senior beamptes van Egipte. 8Josef het ook sy broers en Jakob se hele huishouding saamgeneem. Hulle kinders, kleinvee en grootvee het hulle egter in die Gosenstreek agtergelaat. 9’n Groot stoet van waens en perderuiters het Josef vergesel.
10Toe hulle by die dorsvloer van Atad, oos van die Jordaan aankom, het hulle sewe dae lank daar oor hulle pa gerou en getreur. 11Die plaaslike Kanaäniete het gesien hoe hulle rou en het die plek toe Abel-Misrajim genoem, want hulle het gesê: “Dit is ’n plek van swaar rou vir hierdie Egiptenaars.”
12Jakob se seuns het dus gedoen soos hy hulle beveel het. 13Hulle het sy liggaam Kanaän toe geneem en dit in die grot van Makpela neergelê. Dit is die grot wat Abraham as ’n permanente begraafplek gekoop het op die grond van Efron die Hetiet, naby Mamre.
Josef vergewe sy broers
14Josef het saam met sy broers en almal wat hom na sy pa se begrafnis vergesel het, na Egipte toe teruggekeer. 15Ná hulle pa se dood het Josef se broers bang geword. “Nou gaan Josef ons terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het,” het hulle gesê. 16Daarom stuur hulle die volgende boodskap vir Josef: “Voordat jou pa gesterf het, het hy ons beveel 17om vir jou te sê: ‘Vergewe jou broers tog vir die groot onreg wat hulle jou aangedoen het.’ Vergeef ons tog nou, want ons dien ook die God van jou pa.” Toe Josef hierdie boodskap kry, het hy in trane uitgebars. 18Sy broers kom toe self en val voor hom neer. “Ons sal u slawe wees,” het hulle gesê.
19Maar Josef sê vir hulle: “Moenie vir my bang wees nie. Ek is nie in God se skoene om julle te straf nie. 20Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het deur my gesorg dat ’n groot volk oorleef. 21Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.”
Hy het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.
Josef se dood
22Josef en sy broers het in Egipte bly woon. Josef het 110 jaar oud geword. 23Hy het nog drie geslagte van sy afstammelinge gesien, dié van sy seun Efraim en die kinders van Manasse se seun Makir, wat hy soos sy eie kind behandel het.
24“Ek gaan binnekort sterf,” het Josef vir sy broers gesê. “God sal sekerlik vir julle sorg en julle weer uit hierdie land, Egipte, laat wegtrek. Hy sal julle terugneem na die land wat Hy met ’n eed belowe het aan die nageslag van Abraham, Isak en Jakob.”
25Toe laat Josef die seuns van Israel ’n eed aflê en hy sê: “Wanneer God julle na Kanaän toe teruglei, moet julle my liggaam saam met julle neem.” 26Josef het op die ouderdom van 110 jaar gesterf. Hulle het sy liggaam gebalsem en dit in Egipte in ’n doodskis neergelê.