YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 49

49
Jakob seën sy seuns
1Jakob roep toe al sy seuns bymekaar en sê: “Kom staan hier om my sodat ek julle kan vertel wat in die toekoms met julle sal gebeur.
2“Kom luister, seuns van Jakob;
luister na Israel, julle vader.
3“Ruben, jy is my oudste seun,
die kind van my kragtige jeug,
die vernaamste en die sterkste.
4Jy is onstuimig soos die golwe van die see,
maar jy sal nie langer
die belangrikste wees nie.
Want jy het by een van my vroue geslaap;
jy het my in my bed onteer.
5“Simeon en Levi is een en dieselfde,
mense van geweld en wapens.
6Ek wil ver van hulle af bly.
Ek wil nooit deel hê aan hulle bose
planne nie,
hulle wat in woede mense vermoor het,
diere vir die plesier vermink het.
7Vervloek is hulle woede, want dit is wreed.
Daarom sal hulle nageslag verstrooi word,
uitgestrooi oor die hele Israel heen.
8“Juda, jou broers sal jou prys.
Jy sal jou vyande onderwerp.
Jou broers sal voor jou buig.
9Juda is ’n jong leeu
wat pas sy prooi verslind het.
Soos ’n leeu rek hy uit en gaan lê,
soos ’n leeumannetjie, en wie sal hom steur?
10Die mag sal nie van Juda
weggeneem word nie,
ook nie die heerskappy van sy nasate nie,
totdat die een kom aan wie dit behoort#49:10 Of totdat die heerser kom, of totdat belasting aan hom betaal word; tradisioneel totdat Silo kom.,
die een vir wie die nasies sal gehoorsaam.
11Hy maak sy donkie vas aan ’n druiwestok,
die vul van sy donkie aan die beste wingerdstok.
Hy was sy klere in wyn,
sy kleed in druiwemos.
12Sy oë is donkerder as wyn
en sy tande witter as melk.
13“Sebulon sal hom vestig aan die kus by die see
en sal ’n hawe wees vir skepe.
Sy grense sal tot by Sidon strek.
14“Issaskar is ’n sterk pakdier
wat rus by die veekrale#49:14 Of saalsakke of vuurherde..
15Wanneer hy sien hoe goed die plek is,
hoe mooi die landstreek,
sal hy ’n las vrywillig dra
en hom aan dwangarbeid onderwerp.
16“Dan sal regspreek oor sy mense
as een van die stamme in Israel.
17Hy is ’n slang langs die pad,
’n giftige adder langs die voetpad
wat pik na die hakskeen van perde
en die ruiter agteroor laat val.
18Ek wag op u verlossing, o Here!
19“Gad sal deur rowerbendes geplunder word,
maar hy sal hulle aanval van agter af.
20“Aser sal voedsame kos produseer,
voedsel geskik vir ’n koning.
21“Naftali is ’n bok wat vrygelaat is
en pragtige lammers voortbring.
22“Josef is ’n vrugbare boom,
’n vrugbare boom by ’n fontein.
Sy takke strek oor die muur.
23Hy word aangeval deur boogskutters
wat na hom skiet en hom teister.
24Maar sy boog het sterk gebly,
sy arms het meer krag gekry
deur die Magtige Een van Jakob,
die Herder, die Rots van Israel.
25Mag die God van ons vaders jou help;
mag die Almagtige jou seën
met die seëninge uit die hemel daarbo,
seëninge van die aarde hieronder,
en seëninge van borste en moederskoot.
26Mag die seëninge van jou pa
meer wees as die seëninge van die ewige berge#49:26 Grondteks my voorvaders.,
as die oorvloed van die eeue oue heuwels.
Hierdie seëninge sal op die kop van Josef kom,
hy wat die leier is onder sy broers.
27“Benjamin is ’n wolf op soek na prooi.
Hy verslind sy prooi in die oggend
en in die aand verdeel hy die buit.”
28Dit is die twaalf stamme van Israel en dit is die seëninge waarmee Jakob#49:28 Grondteks Israel. sy twaalf seuns geseën het. Elkeen het ’n seën ontvang wat vir hom toepaslik was.
Jakob se dood en sy begrafnis
29Jakob het hulle opdrag gegee: “Ek gaan binnekort sterf. Begrawe my by my pa en oupa in die grot wat op die grond van Efron die Hetiet is. 30Dit is die grot van Makpela, naby Mamre in Kanaän, wat Abraham van Efron die Hetiet as ’n permanente begraafplek gekoop het. 31Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe. Daar is ook Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek vir Lea begrawe. 32Dit is die grot wat my oupa Abraham van die Hetiete gekoop het.”
33Toe Jakob klaar was met sy opdragte, het hy sy voete in sy bed opgetrek, sy laaste asem uitgeblaas en gesterf.

Currently Selected:

GENESIS 49: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy