Parallel
47
Josef se familie ontmoet die
farao
1Josef het na die farao toe gegaan en aan hom gerapporteer: “My pa en my broers is hier van Kanaän af. Hulle het met al hulle kleinvee en grootvee en ander besittings gekom en is nou in die Gosenstreek.”
2Josef het vyf van sy broers met hom saamgeneem en hulle aan die farao voorgestel. 3Die farao vra vir hulle: “Wat is julle beroep?”
Hulle antwoord hom: “Ons is veeboere soos ons voorouers. 4Ons het gekom om as vreemdelinge hier in Egipte te woon, want daar is in Kanaän geen weiding meer vir ons vee nie. Die hongersnood is daar baie swaar. Ons vra u toestemming om in die Gosenstreek te woon.”
5Die farao sê vir Josef: “Aangesien jou familie hulle nou by jou aangesluit het, 6kies gerus enige plek waar hulle kan woon. Gee hulle die beste van die land Egipte. Die Gosenstreek sal goed wees. As enigeen van hulle oor besondere vaardighede beskik, laat hulle ook oor my veeboerdery toesig hou.”
7Josef het ook vir Jakob, sy pa, gebring en hom aan die farao voorgestel. Jakob het die farao geseën.
8“Hoe oud is jy?” vra die farao.
9“Ek lewe al 130 jaar as ’n vreemdeling,” antwoord Jakob. “In vergelyking met my voorouers is my jare min, maar egter vol swaarkry.” 10Net voordat hy vertrek, het Jakob weer die farao met ’n seën gegroet.
11Josef het toe die beste deel van Egipte, die land van Rameses, aan sy pa en broers gegee om hulle daar te vestig, net soos die farao beveel het. 12Josef het ook volgens die getal afhanklikes aan sy pa en broers kos voorsien.
Josef se vernuftige optrede
tydens die hongersnood
13Intussen het die hongersnood al hoe erger geword. Die mense van Egipte en Kanaän het swaar daaronder gely. 14Josef het baie geld ingesamel in ruil vir graan. Hy het die geld na die farao se skatkamers gebring. 15Toe die geld van die mense van Egipte en Kanaän op was, het hulle kom pleit vir kos: “Ons geld is op,” het hulle gekla. “Gee ons asseblief kos om te eet. Hoekom moet ons dan sterf?”
16“Aangesien julle geld op is,” sê Josef, “moet julle vee gee in ruil vir kos.” 17Hulle het toe hulle vee gegee. In ruil vir hulle perde, kleinvee, grootvee en donkies kon hulle minstens genoeg kos kry vir daardie jaar.
18Die volgende jaar kom hulle weer en sê: “Ons kan dit nie vir u wegsteek nie: Ons geld is op en ons lewende hawe behoort nou ook aan u. Ons het niks meer oor nie as net onsself en ons landerye. 19Hoekom moet ons hier voor u oë doodgaan? Koop ons en ons landerye in ruil vir kos. Ons sal dan Farao se slawe word. Gee tog asseblief net vir ons saad sodat ons nie van honger doodgaan en die grond nie onbewerk lê nie.”
20Op hierdie manier het Josef die hele Egipte vir die farao gekoop. Al die Egiptenaars het hulle landerye verkoop as gevolg van die swaar hongersnood. Dit het die farao se eiendom geword. 21Die inwoners van Egipte, oor die lengte en breedte van die land, het na die stede toe verskuif. 22Die enigste landerye wat Josef nie opgekoop het nie, was dié van die priesters, want hulle het hulle kos van die farao gekry om van te leef sodat dit nie nodig was om hulle eiendom te verkoop nie.
23Josef sê toe vir die mense van die land: “Kyk, ek het julle en julle landerye vir Farao gekoop. Ek sal julle nou voorsien van saad sodat julle dit kan plant. 24Wanneer julle dan oes, sal een vyfde daarvan aan Farao behoort. Julle kan vier vyfdes vir julleself hou en dit gebruik vir saad vir volgende jaar en as kos vir julle, julle huismense en julle kinders.”
25“U het ons lewens gered!” sê hulle. “Laat dit wees soos u goeddink. Ons sal Farao se slawe wees.” 26Josef het toe vir die hele Egipte bepaal dat die farao een vyfde van die opbrengs op sy landerye moet kry. Dis ’n bepaling wat nog steeds geld. Omdat die farao nie die landerye van die priesters oorgeneem het nie, was hulle vrygestel van hierdie betaling.
Jakob se einde kom nader
27Die Israeliete het hulle in Egipte, in die Gosenstreek, gevestig. Hulle het eiendom daar verkry en hulle getalle het vinnig toegeneem. 28Jakob het nog sewentien jaar na sy aankoms in Egipte geleef. Hy het dus 147 jaar oud geword. 29Toe sy einde begin naderkom, laat roep hy vir Josef en sê vir hom: “Bewys my ’n laaste guns. Belowe my met ’n eed dat jy goed sal wees vir my en my nie in Egipte sal begrawe nie. 30Wanneer ek sterf, neem my liggaam uit Egipte weg en begrawe my by my voorouers.” Josef belowe toe dat hy dit sou doen.
31“Nee, lê ’n eed af dat jy dit sal doen,” dring Jakob daarop aan. Josef het hom toe met ’n eed beloof. Daarop het Jakob in aanbidding by die koppenent van die bed gebuig.