Parallel
30
1Toe Ragel besef dat sy nie kinders kan kry nie, het sy jaloers geword op haar suster. “As jy my nie kinders gee nie, sal ek sterf!” sê sy vir Jakob.
2Jakob het baie kwaad geword vir Ragel. “Is ek dan God?” vra hy. “Hy verhoed dat jy kinders kry!”
3Ragel sê toe vir hom: “Gaan slaap by my slavin Bilha. Sy sal namens my vir jou ’n kind in die wêreld bring.” 4So het Ragel Bilha as vrou vir Jakob gegee en Jakob het by haar gaan slaap. 5Bilha het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun. 6Ragel het hom Dan genoem, want, het sy gesê: “God het in my guns uitspraak gelewer. Hy het my versoek gehoor en vir my ’n seun gegee.” 7Bilha het weer swanger geword en het aan ’n tweede seun geboorte gegee. 8Ragel het hom Naftali genoem, want sy het gesê: “Ek is in ’n hewige stryd met my suster gewikkel, maar nou begin ek wen!”
9Intussen het Lea besef dat sy nie meer swanger gaan word nie. Toe gee sy haar slavin Silpa as vrou vir Jakob. 10Daarna het Silpa ook geboorte gegee aan ’n seun vir Jakob. 11Lea het hom Gad genoem, want sy het gesê: “Hoe gelukkig is ek!” 12Daarna het Silpa geboorte gegee aan ’n tweede seun. 13Lea het hom Aser genoem, want sy het gesê: “Watter vreugde het my te beurt geval! Die ander vroue sal my sekerlik as gelukkig beskou!”
14Eendag het Ruben tydens die oestyd op liefdesappels in die veld afgekom. Hy het dit vir sy ma, Lea, gebring. Ragel pleit toe by Lea om daarvan vir haar te gee. 15Maar Lea het haar vererg en gesê: “Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog boonop my seun se liefdesappels ook vat?”
Ragel sê toe vir haar: “Hy kan vannag by jou slaap in ruil vir die liefdesappels.”
16Daardie aand, toe Jakob uit die veld tuiskom, gaan Lea hom tegemoet. “Jy moet vanaand by my slaap,” sê sy. “Ek het daarvoor betaal met die liefdesappels van my seun.” Jakob het toe by haar geslaap. 17God het haar gebede verhoor. Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n vyfde seun. 18Sy het hom Issaskar genoem, want sy het gesê: “God het my beloon omdat ek my slavin vir my man as vrou gegee het.” 19Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n sesde seun. 20Sy het hom Sebulon genoem, want sy het gesê: “God het ’n goeie geskenk vir my gegee. Nou sal my man by my kom bly, want ek het vir hom al ses seuns gegee.” 21Later het sy ook aan ’n dogter geboorte gegee en haar Dina genoem.
22Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar kinders te gee. 23Sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. “God het my skande weggeneem,” het sy gesê. 24Sy het hom Josef genoem, “want,” het sy gesê, “mag die Here my nog ’n seun gee.”
Jakob laat sy rykdom
vermeerder
25Kort nadat Josef gebore is, sê Jakob vir Laban: “Stel my vry, want ek wil na my geboorteland toe teruggaan. 26Laat my toe om met my vroue en kinders te vertrek. Pa weet dat ek ten volle vir hulle betaal het deur vir Pa te werk.”
27“Moenie nou al gaan nie,” sê Laban. “Ek het agtergekom dat die Here my geseën het omdat jy by my is. 28Hoeveel moet ek jou betaal vir jou dienste? Sê net, en ek sal dit betaal.”
29Jakob antwoord: “Pa weet hoe hard ek vir Pa gewerk het en hoe Pa se troppe vee groter geword het. 30Pa het maar min gehad toe ek hier gekom het, maar sedertdien het Pa se rykdom baie toegeneem. Die Here het Pa geseën in alles wat ek vir Pa onderneem het. Maar nou, wat van my? Wanneer kan ek vir my eie gesin voorsiening maak?”
31“Watter vergoeding wil jy hê?” vra Laban weer.
Jakob antwoord hom: “Moenie my iets betaal nie. As u my die volgende toelaat, sal ek nog steeds Pa se vee oppas. 32Gee my vandag al die skape en bokke wat bont of gevlek is saam met die swart gekleurde skape. 33Dít sal my beloning wees. Dit sal vir Pa maklik wees om te sien of ek eerlik is of nie. As Pa onder my vee enige skape of bokke kry wat nie bont is nie, sal Pa weet dat ek hulle van Pa gesteel het.”
34“Dis goed,” sê Laban. “Laat dit wees soos jy voorgestel het.” 35Daardie selfde dag nog het Laban veld toe gegaan en al die bokramme wat bont en gevlek is, al die ooie wat gevlek en bont is, alles met wit kolle en ook die swart skape uitgekeer. Hy het hierdie vee aan sy seuns gegee om op te pas. 36Hy het hulle wég van Jakob af verskuif, drie dae se trek ver. Jakob self het agtergebly en Laban se vee opgepas.
37Jakob het toe vars lote van populiere, amandels en plataanbome geneem en stroke van die bas afgetrek sodat daar wit strepe daarop was. 38Toe sit hy die lote wat hy afgestroop het in die waterbakke waar Laban se vee kom drink het. Wanneer die ooie op hitte was en hulle kom drink, is hulle voor die lote gedek. 39Wanneer hulle voor die wit-gestreepte lote gedek is, was al hulle lammers gestreep, bont en gevlek. 40Jakob het hierdie lammers uit Laban se kuddes uitgekeer. Wanneer die ander op hitte was, het hy hulle gedraai sodat die kuddes die gestreepte en swart ramme in Laban se kudde sien. Op hierdie manier het hy sy eie kudde uit Laban s’n opgebou. 41Wanneer die sterker ooie op hitte was, het Jakob die gestroopte lote voor hulle neergesit. 42Hy het dit egter nie met die swakker ooie gedoen nie. Die swakker lammers het dus aan Laban behoort en die sterker lammers aan Jakob. 43As gevolg hiervan het Jakob se kuddes vinnig vermeerder. Hy het al ryker geword, met baie slawe, kamele en donkies.