GENESIS 19
NLV
19
Sodom en Gomorra word
uitgewis
1Daardie aand het die twee engele by Sodom aangekom. Lot het juis in die poort van Sodom gesit. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan om hulle te ontmoet. Hy het hulle verwelkom en laag voor hulle gebuig. 2“Menere,” sê hy, “kom gerus saam na my huis toe. Daar kan u u voete was en my gaste vir die nag wees. Môre-oggend kan u weer vroeg op pad wees.”
“Nee, dankie,” antwoord hulle, “ons sal die nag sommer hier op die stadsplein deurbring.”
3Maar Lot het daarop aangedring sodat hulle uiteindelik ingewillig het om saam te gaan. Hy het ’n groot feesmaal voorgesit met ongesuurde brood en hulle het dit geëet. Ná die ete, 4toe hulle begin klaarmaak om te gaan slaap, het al die mans van Sodom, oud en jonk, van oor die hele stad saamgekom en die huis omsingel. 5Hulle skree vir Lot: “Waar is die mans wat die nag by jou deurbring? Bring hulle uit sodat ons seksueel met hulle kan verkeer!”
6Lot het uitgegaan, die deur agter hom toegemaak en met hulle gepraat. 7“Asseblief, my broers,” het hy gesoebat, “moenie so ’n bose ding doen nie. 8Kyk, ek het twee dogters, albei nog maagde. Ek sal hulle buitentoe bring. Doen met hulle wat julle wil, maar los hierdie mans uit, want hulle is onder my beskerming.”
9“Staan opsy!” het hulle geskree. “Jy het as vreemdeling tussen ons kom woon en nou wil jy vir ons kom sê wat óns moet doen! Ons sal jou nog slegter behandel as vir hulle.” Hulle het Lot begin vasdruk en nadergekom om die deur af te breek. 10Maar die twee engele het hulle arms uitgesteek, Lot ingetrek en die deur gegrendel. 11Toe het hulle al die mans van Sodom buite die huis verblind sodat hulle die deur nie kon kry nie.
12“Het jy enige ander bloedverwante hier in die stad?” vra die engele. “Kry hulle uit hierdie plek uit, of dit nou skoonseuns, seuns, dogters of wie ook al is. 13Ons gaan hierdie plek heeltemal verwoes omdat die mense so sondig is. Daarom het die Here ons gestuur om die plek te verwoes.”
14Lot is toe vinnig na sy dogters se aanstaande mans om hulle te vertel: “Maak gou, gaan uit die stad uit! Die Here gaan dit verwoes!” Maar die jong mans het gedink hy maak ’n grap.
15Teen dagbreek die volgende dag het die engele by hulle aangedring: “Maak gou! Neem jou vrou en twee dogters wat by jou is uit hierdie plek, anders sal die verwoesting van die stad julle ook tref.”
16Toe Lot nog talm, gryp die engele sy hand en dié van sy vrou en twee dogters, en lei hulle haastig uit die stad uit, want die Here was hulle genadig. 17Buite die stad waarsku een van die engele: “Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte gaan stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.”
18“Ag nee tog, Menere,” pleit Lot. 19“Julle was nou so goed om my lewe te red en het ook guns aan my betoon. Maar ek sal nie die berge haal nie. Die ramp sal my inhaal en ek sal doodgaan. 20Kyk, hier naby is ’n klein dorpie. Laat my asseblief tog daarheen vlug. Kyk net hoe klein is dit! Dan sal my lewe gespaar word.”
21“Goed,” sê die engel, “ek sal aan jou versoek voldoen. Ek sal die klein dorpie spaar. 22Maar maak gou om daar te kom, want ek kan niks doen voordat jy daar is nie.” Van toe af is die klein dorpie Soar genoem.
23Net toe die son opkom, het Lot by die dorpie aangekom. 24Toe het die Here vuur en brandende swael uit die hemel op Sodom en Gomorra laat neerreën. 25Hy het hierdie stede en hulle omgewing totaal verwoes met al hulle inwoners en die plante en die diere. 26Agter hom het Lot se vrou omgekyk en toe in ’n soutpilaar verander.
27Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die Here gestaan het. 28Hy het oor die vlakte uitgekyk in die rigting van Sodom en Gomorra. Daar sien hy net rookkolomme optrek oor die hele gebied, soos rook uit ’n steenoond. 29Maar God het Abraham se versoek onthou en Lot gered uit die verwoesting van die stede in die vlakte waar hy gewoon het.
30Na ’n tyd het Lot weggegaan uit Soar omdat hy bang was vir die inwoners. Hy gaan woon toe saam met sy dogters in ’n grot in die berge.
31Op ’n dag sê die ouer dogter vir haar suster: “Ons pa word nou oud. Daar is nêrens in hierdie omgewing ’n man met wie ons kan trou nie. 32Kom ons maak hom dronk met wyn en dan slaap ons by hom. Op so ’n manier kan ons deur ons pa ’n nageslag laat voortleef.”
33Hulle het toe so gemaak. Daardie aand het hulle hom met wyn dronk gemaak en die ouer dogter het by haar pa gaan slaap. Hy was onbewus daarvan dat sy kom lê het of dat sy opgestaan het.
34Die volgende oggend sê sy toe vir haar suster: “Ek het laas nag by ons pa geslaap. Kom ons maak hom vanaand weer dronk met wyn en dan gaan jy in om by hom te slaap. Op so ’n manier kan ons deur ons pa ’n nageslag laat voortleef.”
35Hulle het hom toe daardie aand weer dronk gemaak, en die jonger dogter het ingegaan en by hom gaan slaap. Soos die vorige keer, was hy onbewus daarvan dat sy kom lê het of dat sy opgestaan het. 36Op hierdie manier het albei dogters van Lot swanger geword by hulle pa.
37Toe die ouer dogter ’n seun in die wêreld bring, het sy hom Moab genoem. Hy het die stamvader geword van die volk wat nou as die Moabiete bekend staan.
38Toe die jonger dogter geboorte gee aan ’n seun, het sy hom Ben-Ammi genoem. Hy het die stamvader geword van die volk wat nou bekend is as die Ammoniete.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling