Parallel
18
Die Here beloof vir Sara ’n seun
1Die Here het weer by die groot bome van Mamre aan Abraham verskyn. Terwyl Abraham so in die middel van die dag by die ingang van sy tent sit, 2sien hy skielik drie mans daar naby staan. Hy het opgestaan, vinnig na hulle toe gestap en hulle verwelkom deur diep te buig. 3“Menere,” het hy gesê, “doen my ’n guns en vertoef ’n bietjie hier. 4Rus eers in die skadu van hierdie boom terwyl ek water laat haal om u voete te was. 5Terwyl u my dan die eer aandoen om by my te vertoef sal ek ’n bietjie kos laat voorberei sodat u versterk kan word. Vertoef tog ’n rukkie voordat u verder reis.”
“Alte seker,” sê hulle. “Doen soos jy gesê het.”
6Abraham is vinnig terug tent toe en sê vir Sara: “Maak gou! Kry drie mate fynmeel, knie dit en bak roosterkoeke.” 7Daarna loop hy vinnig na die beestrop toe en kies ’n vet jaaroudkalf en beveel ’n dienskneg om dit gou te slag en voor te berei. 8Toe die kos gereed was, het hy botter en melk saam met die gaar vleis aan hulle voorgesit. Terwyl hulle eet, het Abraham by hulle onder die boom bly staan om hulle te bedien.
9“Waar is Sara, jou vrou?” vra hulle hom.
“In die tent,” antwoord Abraham.
10Toe sê een van hulle: “Omtrent hierdie tyd volgende jaar sal ek weer terugkom. Jou vrou Sara sal dan al ’n seun hê.”
Sara het by die ingang van die tent agter hom gestaan en afluister. 11Omdat sowel Abraham as Sara bejaard was en Sara reeds verby die ouderdom was dat sy kinders kon kry, 12het sy by haarself gelag. “Hoe kan ’n ou vrou soos ek nog sulke plesier ervaar?” het sy gedink. “En dit nogal met my man wat oud is!”
13Daarop sê die Here vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag? Hoekom het sy gesê: ‘Kan ’n bejaarde vrou soos ek regtig ’n kind in die wêreld bring?’ 14Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Ek sal oor ’n jaar terugkom en dan sal Sara ’n seun hê.” 15“Nee, ek het nie gelag nie!” antwoord sy, want sy was bang. Maar Hy sê: “Dit is nie waar nie. Jy hét gelag.”
Abraham pleit vir Sodom
16Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.
17“Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die Here. 18“Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word. 19Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om aan die Here gehoorsaam te wees deur te doen wat goed en reg is sodat Ek vir hom alles kan doen wat Ek hom belowe het.” 20Toe sê die Here vir Abraham: “Die boosheid van die mense van Sodom en Gomorra het rugbaar geword, want hulle doen alles wat sondig is. 21Ek wil afgaan om te gaan kyk of dit waar is of nie. Dan sal Ek vir seker weet.”
22Terwyl twee van die mans toe verder gaan in die rigting van Sodom, het die Here nog ’n rukkie by Abraham bly staan. 23Abraham het nadergekom en gevra: “Sal U die onskuldiges saam met die skuldiges uitroei? 24Sê nou daar is 50 onskuldige mense in die stad. Sal U nie die stad ter wille van hulle spaar nie? 25U sal tog sekerlik nie die onskuldiges saam met die skuldiges laat doodgaan nie! Hoekom sou U die onskuldiges en die skuldiges almal oor een kam skeer? U sal dit tog sekerlik nie doen nie! Moet die regter van die hele aarde dan nie doen wat reg is nie?”
26Die Here antwoord: “As Ek 50 onskuldige mense in Sodom kry, sal Ek ter wille van hulle die hele stad spaar.”
27Abraham het toe weer gepraat: “Aangesien ek gewaag het om met die Here te praat, al is ek maar net stof en as, laat my toe om weer te praat. 28Sê nou daar is 45? Sal U die stad verwoes net omdat daar vyf minder is?”
Die Here antwoord hom: “As Ek 45 kry, sal Ek dit nie verwoes nie.”
29Abraham het verder aangedring: “Veronderstel daar is net 40?”
Die Here antwoord: “Ek sal dit ter wille van 40 nie verwoes nie.”
30“Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, Here,” het Abraham gepleit. “Laat my toe om te praat. Wat daarvan as daar net 30 is?”
Die Here sê: “As Ek 30 daar vind, sal Ek dit nie verwoes nie.”
31Abraham het weer gevra: “Terwyl ek dit gewaag het om met U te praat, Here, laat my tog voortgaan. Wat as daar net twintig onskuldiges is?”
Die Here sê vir hom: “Ek sal dit nie verwoes as daar twintig is nie.”
32Uiteindelik sê Abraham: “Here, moet tog nie kwaad word nie. Ek sal net nog hierdie een keer praat. Sê nou daar is net tien?”
En die Here sê: “Ter wille van tien mense sal Ek dit nie verwoes nie.”
33Daarna het die Here sy gesprek met Abraham beëindig en weggegaan. Abraham het na sy tent toe teruggegaan.