YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 11

11
Babel
1Daar was ’n tyd toe die hele wêreld net een taal gepraat het en dieselfde woorde gebruik het. 2Soos wat die mense se woongebied ooswaarts uitgebrei het, het hulle op ’n vlakte in die land Sinar#11:2 Of Babel. afgekom en daar gaan woon.
3Na ’n tyd het hulle vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene wat goed gebak is.”
Hulle gebruik toe stene in plaas van klippe en asfalt in plaas van klei.
4“Kom,” sê hulle, “laat ons vir onsself roem verwerf en ’n stad bou met ’n toring wat aan die hemel raak. Dit sal ons bymekaarhou en keer dat ons oor die hele aarde verstrooi word.”
5Die Here het toe afgekom om te kom kyk na die stad en sy toring wat die mense besig was om te bou. 6“Nou kyk,” sê Hy, “as hulle, omdat hulle een taal praat, reeds aan die begin sulke dinge kan regkry, dink net wat sal hulle later kan doen. Niks sal meer vir hulle onmoontlik wees nie! 7Kom, laat Ons afgaan en hulle verskillende tale laat praat sodat hulle mekaar nie kan verstaan nie.”
8Op hierdie manier het die Here hulle van daar af oor die aarde versprei.
Dit was ook die einde van hulle bouprojek van die stad. 9Dit is dan ook hoekom die stad Babel#11:9 Babel klink soos ’n Hebreeuse woord wat verwar beteken. genoem is, want dis waar die Here die mense se taal verwar het sodat hulle oor die aarde versprei het.
Vanaf Sem tot Abram
10Hier volg die lys van Sem se nageslag.
Toe Sem 100 jaar oud was, is sy seun Arpaksad gebore. Dit was twee jaar na die vloed. 11Ná die geboorte van Arpaksad het Sem nog 500 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
12Toe Arpaksad 35 jaar oud was, is sy seun Selag gebore. 13Ná die geboorte van Selag het Arpaksad nog 403 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
14Toe Selag 30 jaar oud was, is sy seun Heber gebore. 15Ná die geboorte van Heber het Selag nog 403 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
16Toe Heber 34 jaar oud was, is sy seun Peleg gebore. 17Ná die geboorte van Peleg het Heber nog 430 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
18Toe Peleg 30 jaar oud was, is sy seun Reü gebore. 19Ná die geboorte van Reü het Peleg nog 209 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
20Toe Reü 32 jaar oud was, is sy seun Serug gebore. 21Ná die geboorte van Serug het Reü nog 207 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
22Toe Serug 30 jaar oud was, is sy seun Nahor gebore. 23Ná die geboorte van Nahor het Serug nog 200 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
24Toe Nahor 29 jaar oud was, is sy seun Tera gebore. 25Ná die geboorte van Tera het Nahor nog 119 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.
26Toe Tera 70 jaar oud was, het hy die pa van Abram, Nahor en Haran geword.
Tera se gesin
27Wat volg, is die weergawe van Tera se familie. Tera was die pa van Abram, Nahor en Haran. Haran het ’n seun gehad met die naam Lot. 28Maar Haran het jonk gesterf in sy geboorteplek, Ur van die Galdeërs. Hy is oorleef deur sy pa Tera. 29Intussen het Abram met Sarai getrou en sy broer Nahor met Milka, die dogter van hulle broer Haran. (Milka het ook nog ’n suster met die naam Jiska gehad.) 30Sarai was onvrugbaar; sy het geen kinders gehad nie.
31Tera het sy seun Abram, sy skoondogter Sarai en sy kleinseun Lot (Haran se seun) geneem en uit Ur van die Galdeërs vertrek om na die land Kanaän toe te gaan. Maar hulle het in die dorp Haran oorgebly en hulle daar gevestig. 32Tera het 205 jaar gelewe en is dood terwyl hulle nog by Haran was.

Currently Selected:

GENESIS 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy