YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 7

7
Die einde
1Toe het hierdie boodskap van die Here na my toe gekom:
2“Mensekind,
die oppermagtige Here
sê vir Israel:
Die einde is hier!
Die einde kom
tot aan die uithoeke van die land.
3Nou het die einde aangebreek
oor jou,
want Ek laat my woede
teen jou losbars.
Ek gaan jou straf
vir wat jy aangevang het.
Ek roep jou tot verantwoording
oor jou afskuwelike gedrag.
4Ek sal wegkyk
en jou nie weer jammer kry nie.
Ek gaan jou ten volle laat betaal
vir al die afskuwelike dinge
wat jy aangevang het.
Dan sal jy weet en erken
dat Ek die Here is!
5“Die oppermagtige Here sê:
Ramp na ramp
bring Ek oor jou!
6Die einde het gekom!
Dit het aangebreek!
Jou finale vernietiging wag!
7Mense van Israel,
die dag van jou vernietiging
breek aan.
Die tyd het gekom.
Die dag van moeilikheid
is naby!
Daardie dag
sal daar verwarring wees,
nie vreugde nie.
8Binnekort stort Ek my woede
uit op jou.
Ek sal jou oordeel
oor jou optrede.
Dan straf Ek jou
vir jou afskuwelike gedrag.
9Ek sal jou nie verskoon en
jou nie jammer kry nie.
Ek sal jou straf oor jou gedrag
en al jou afskuwelike dade.
Dan sal jy weet dis Ek,
die Here,
wat jou geslaan het.
10“Die dag van oordeel is hier.
Jou vernietiging wag!
Die volk se afskuwelike dade
en trots
het ’n klimaks bereik.
11Geweld sal teen hulle losbreek
as straf
oor hulle afskuwelike optrede.
Van die trotse en bose mense
sal nie een oorleef nie.
Al hulle skatte
sal saam met hulle vergaan.
12Ja, die tyd het gekom!
Die dag is hier
dat die een wat koop,
nie bly moet wees nie,
en dié wat verkoop
nie spyt sal wees nie,
want my woede
rus op almal in die land.
13Sou enige handelaars oorleef,
sal hulle nooit weer
kan terugkeer
na hulle besigheid nie.#7:13 Grondteks Die verkoper sal nie die land terugkry wat hy verkoop het nie, hoe lank hulle ook al leef.
Want wat Hy gesê het,
geld vir almal.
Dit kan nie verander word nie!
Nie een mens se lewe
deur sonde verwring,
sal herstel nie.”
Vernietiging van Israel
14“Die trompette
roep Israel#7:14 Israel word in die grondteks geïmpliseer. se weermag op
om gereed te maak
vir die geveg,
maar niemand luister daarna nie.
My woede is teen hulle gerig.
15Enigiemand wat dit
buite die stadsmure waag,
sal deur die vyand
doodgemaak word.
En dié wat in die stad agterbly,
sal doodgaan van hongersnood
en pessiektes.
16Die enkeles wat wel ontsnap
en na die berge vlug,
sal soos duiwe kla.
Hulle sal huil oor hulle sondes.
17Almal se hande sal slap hang.
Hulle knieë sal so swak wees
soos water.#7:17 Grondteks water sal teen hulle knieë afloop.
18Hulle sal
begrafnisklere aantrek
en hulle aantrek met angs.
Skaamte sal geskryf staan
op hulle gesigte.
Hulle sal hulle koppe kaal skeer.
19“Hulle sal hulle geld weggooi
soos ’n mens
waardelose gemors weggooi.
Want geld
sal nie verlossing kan koop
op die dag wat die Here
sy woede afkoel nie.
Dit sal hulle nie kan bevredig
of hulle versadig nie.
Dit was juis hulle liefde vir geld
wat veroorsaak het
dat hulle gestruikel het.
20Hulle was so trots
op hulle goue juweliersware,
en het dit gebruik
om vir hulle walglike beelde
en afskuwelike afgode te maak.
Dis hoekom Ek hulle rykdom
afskuwelik vir hulle sal maak.
21Ek sal dit weggee as buit
vir vreemdelinge.
Die slegste van die nasies
sal dit onrein maak.
22Ek sal wegkyk
wanneer hierdie rowers
my kosbare land binneval
en dit vernietig.
23“Maak kettings gereed
vir my volk,
want die land is vol bloed
deur verskriklike misdade.
Jerusalem#7:23 Grondteks die stad. is vol geweld.
24Die wreedste nasies bring Ek
om hierdie mense se huise
vir hulleself te vat.
Ek beëindig die trotsheid
van die sterkes;
hulle heiligdomme
sal ontheilig word.
25My volk sal bewe van angs.
Hulle sal na vrede soek,
maar dit nêrens kry nie.
26Ramp sal volg op ramp
en gerug sal volg op gerug.
Verniet soek hulle na profete
wat ’n visioen kan bring.
Die priesters
sal hulle nie leer nie
en die leiers
sal hulle nie raad gee nie.
27Die koning en die leier
sal hulpeloos staan.
Hulle sal wanhopig huil,
en die mense se hande
sal bewe van vrees.
Ek sal die bose dag
oor hulle bring
wat hulle oor ander gebring het.
Hulle sal die straf ontvang
wat hulle so ryklik verdien.
Dan sal hulle weet
dat Ek die Here is!”

Currently Selected:

ESEGIËL 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy