YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 37

37
’n Vallei met droë bene
1Die Here het my in besit geneem, en die Gees van die Here het my weggeneem na ’n vallei vol bene. 2Hy het my tussen die ou, droë bene wat op die valleivloer lê, rondgelei. Hulle het oral op die grond gelê. 3Toe vra Hy: “Mensekind, kan hierdie bene weer lewende mense word?”
“Oppermagtige Here, U alleen ken die antwoord,” het ek gesê.
4Hy sê toe vir my: “Profeteer vir hierdie bene en sê: ‘Droë bene, luister na die woord van die Here! 5So sê die oppermagtige Here: Kyk, Ek gaan in julle blaas en julle weer lewend maak! 6Ek sit vleis en spiere om julle en maak julle toe met vel. Ek sit asem in julle en julle sal lewend word. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.’”
7Ek het gesê soos Hy my beveel het. Skielik was daar ’n gedreun terwyl ek praat. Die bene van elke liggaam het bymekaargekom soos dit voorheen was. 8Terwyl ek gekyk het, het spiere en vleis oor die bene gevorm. Toe het vel die liggame toegemaak. Maar daar was nie lewe in hulle nie.
9Toe sê Hy vir my: “Praat met die wind en sê: ‘So sê die oppermagtige Here: Wind, kom vanuit die vier windrigtings! Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewend kan word!’”
10Ek het toe gesê soos ek beveel is, en die wind het in die liggame gekom en hulle het begin asemhaal. Hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan, ’n groot klomp mense.
11Toe sê Hy vir my: “Mensekind, hierdie bene is die mense van Israel. Hulle sê: ‘Ons het ou, droë bene geword. Daar is geen hoop vir ons oor nie!’ 12Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: My volk, Ek maak die grafte van ballingskap oop en laat julle opstaan. En Ek bring julle terug na die land Israel. 13My volk, wanneer dit gebeur en Ek julle uit julle grafte bring, dan sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sit my Gees in julle, en julle sal lewe en terugkeer huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Julle sal sien dat Ek presies gedoen het soos Ek belowe het. Ek, die Here, het so gesê!”
Israel en Juda word een
15Die Here het vir my gesê: 16“Mensekind, vat ’n stok en krap dié woorde daarop uit: ‘Hierdie stok is Juda en sy bondgenote.’ Vat nog ’n stok en krap daarop uit: ‘Hierdie stok is die noordelike stamme van Israel.’#37:16 Grondteks Hierdie stok is Efraim, dit is Josef en die hele huis van Israel. 17Hou nou die twee stokke soos een stok saam in jou hand. 18Wanneer jou mense vra wat beteken dít wat jy doen, 19sê vir hulle: ‘So sê die oppermagtige Here: Ek vat die noordelike stamme#37:19 Grondteks Josef, wat tot Efraim behoort. en voeg hulle by Juda. Ek maak hulle een stok in my hand.’ 20Hou dan die stokke vas waarop jy geskryf het sodat die mense kan sien. 21En sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Ek maak die mense van Israel bymekaar van tussen die nasies uit. En Ek bring hulle na hulle eie land toe uit die lande waarheen hulle verstrooi was. 22Ek verenig hulle tot een nasie in die land, op die berge van Israel. Een koning sal oor almal regeer. Hulle sal nie meer in twee nasies en twee koninkryke verdeel wees nie. 23Hulle sal ook nie meer hulleself met hulle afskuwelike afgode en sondes besoedel nie, want Ek sal hulle bevry uit die plekke waar hulle gesondig het, en hulle skoonmaak. Dan sal hulle my volk wees, en Ek sal hulle God wees.
24“My dienaar Dawid sal hulle koning wees, en hulle sal net een herder hê. Hulle sal my bepalings gehoorsaam en my bevele onderhou. 25Hulle sal in die land leef wat ek vir hulle voorouer Jakob gegee het, die land waar julle pa’s geleef het. Hulle en hulle kinders en hulle kleinkinders sal vir altyd daar leef. En my dienaar Dawid sal vir altyd hulle leier wees. 26Ek maak ’n ooreenkoms van vrede met hulle. Die ooreenkoms sal altyd geld. Ek gee hulle die land en maak hulle baie. Ek plaas my woonplek tussen hulle vir altyd. 27My blyplek sal tussen hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 28Dan, wanneer my blyplek tussen hulle is, sal die nasies besef dat Ek, die Here, Israel vir myself eenkant gesit het as ’n heilige volk.”

Currently Selected:

ESEGIËL 37: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy