YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 6

6
Moses en Aäron moet weer teruggaan
1Toe sê die Here vir Moses: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.”
2Die Here het verder vir Moses gesê: “Ek is die Here. 3Ek het My aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as ‘God die Almagtige’. Hulle het My nie geken as ‘die Here’ nie. 4Ek het met hulle ’n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waarin hulle vir ’n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee. 5Jy kan verseker weet dat Ek gehoor het hoe die mense van Israel kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle.
6“Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade. 7Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het. 8Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die Here.’”
9Moses het dit alles net so aan die Israeliete oorgedra. Omdat hulle moedeloos was oor die harde werk, wou hulle nie na Moses luister nie.
10Die Here het toe vir Moses gesê: 11“Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.” 12“Maar, Here,” het Moses geprotesteer, “die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die farao dan na my luister? Ek struikel oor my woorde.”
13Die Here het nogtans vir Moses en Aäron die opdrag gegee om terug te gaan na die farao, die koning van Egipte, toe en die Israeliete uit Egipte weg te lei.
Moses en Aäron se nageslag
14Onder die nageslag van die stamme van Israel was daar die volgende: Die seuns van Ruben, die oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se nageslag.
15Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul (hy het ’n Kanaänitiese ma gehad). Hulle was die leiers van Simeon se nageslag.
16Onder Levi se nakomelinge, in die volgorde van hulle familiegroepe, was Gerson, Kehat en Merari. (Hulle pa, Levi, het 137 jaar oud geword.)
17Gerson se seuns was Libni en Simi. Elkeen was die hoof van ’n stam.
18Onder Kehat se nageslag was daar: Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. (Kehat het 133 jaar oud geword.)
19Merari se seuns was Magli en Musi.
Al hierdie mense, wat volgens hulle afstamming opgenoem is, het aan Levi se stam behoort.
20Amram het met sy tante Jogebed getrou. Hulle twee seuns was Aäron en Moses. (Amram het 137 jaar oud geword.)
21Jishar se seuns was Korag, Nefeg en Sikri.
22Ussiël se seuns was Misael, Elisafan en Sitri.
23Aäron het met Eliseba, ’n dogter van Amminadab, die suster van Nagson, getrou. Hulle seuns was Nadab en Abihu en Eleasar en Itamar.
24Korag se nageslag was Assir en Elkana en Abiasaf. Hulle is onder die afstammelinge van Korag ingedeel.
25Aäron se seun Eleasar het met een van Putiël se dogters getrou. Hulle seun was Pinehas.
Dit was dan die verskillende leiers uit die familie van Levi.
26Die Aäron en Moses wat in die lys genoem is, is dieselfde Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: “Julle moet al die Israeliete bymekaarmaak en hulle uit Egipte lei.” 27Dit was hulle wat na die farao toe gegaan het en met hom onderhandel het om die Israeliete uit Egipte te laat trek.
28Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het, 29het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir die farao, die koning van Egipte, presies wat Ek vir jou gesê het.” 30Moses het toe vir die Here gesê: “Ek kan dit nie doen nie, want ek stotter en stamel. Hoe sal die farao ooit doen wat ek vra?”

Currently Selected:

EKSODUS 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy