YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 28

28
Klere vir die priester
1“Laat jou broer, Aäron, en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar naderkom. Hulle is anders as die res van die volk. Hulle is my priesters. Hulle sal vir My by die tent werk. 2Maak vir Aäron klere wat hom van die ander kan onderskei. Dit moet pas by sy werk. 3Gee opdrag vir die manne wat die bekwaamheid het om vir Aäron klere te maak waarin hy vir My kan werk. 4Hulle moet vir hom ’n borssak, ’n skouerkleed, ’n mantel, ’n geweefde kleed, ’n tulband en ’n gordel maak. Hulle moet ook vir Aäron se seuns spesiale klere maak om te dra wanneer hulle die priester se werk kom doen. 5Alles moet met geweefde linne gemaak word. Daar moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad daarin geweef word.”
Aanwysings vir die skouerkleed
6“Die gedeelte oor die skouers moet van geweefde linne gemaak word. Dit moet met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad geborduur word. 7Dit het twee skouerstukke, die een voor en die ander agter, wat bo-op die skouers aan mekaar kom. 8Ook die gordel moet van dieselfde soort materiaal gemaak word waarop daar met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad uitgeborduur is. 9Vat twee halfedelstene van oniks en graveer op hulle die name van die twaalf stamme van Israel. 10Op elke steen moet ses name gegraveer word in die volgorde waarin hulle gebore is. 11Die name moet graveer word soos op ’n seëlring. Monteer die twee stene dan in goud. 12Werk die gemonteerde stene nou vas aan die skouerstukke as herinneringstekens vir die Israeliete. Aäron sal hierdie name op sy twee skouers voor die Here dra om Hom aan hulle te herinner. 13Die monterings van die stene moet van suiwer goud wees. 14Twee kettinkies van suiwer goud en gevleg soos tou, moet aan die monterings vasgemaak word.”
Ontwerp van die deel oor die bors
15“Maak ’n borssak om daarmee die wil van die Here te bepaal. Dit moet ’n kunswerk wees, gemaak soos die skouerkleed uit geweefde linne geborduur met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad. 16Vou materiaal dubbel om ’n borssak te vorm, 25 sentimeter lank en breed. 17Jy moet hierop vier rye edelstene#28:17 Daar is onsekerheid oor presies watter edelstene hier bedoel word. vaswerk. In die eerste ry karneool, topaas en smarag. 18In die tweede ry kom turkoois, saffier en jaspis. 19In die derde ry kom hiasint, agaat en ametis. 20In die vierde ry kom chrisoliet, oniks en opaal. Almal word in goud gemonteer. 21Elkeen van die stene verteenwoordig een van die stamme van Israel. Elke stam se naam moet daarop gegraveer word.
22“Vir die borssak moet jy van suiwer goud kettinkies maak wat soos tou gevleg is. 23Maak twee goue ringe vir die borssak en werk dit vas aan die twee hoeke van die borssak. 24Die twee goue kettinkies moet jy vasmaak aan die twee ringe by die hoeke van die borssak. 25Maak die ander punte van die kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerstukke van die skouerkleed. 26Maak nog twee ander goue ringe en werk dit vas aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant langs die skouerkleed. 27Maak nog twee goue ringe en sit dit vas aan die skouerstukke onder aan die voorkant van die skouerkleed bokant die gordel. 28Werk dan die ringe van die borssak met blou koorde vas aan die ringe van die skouerkleed. Dit sal bokant die gordel van die skouerkleed wees sodat die borssak nie wegskuif van die skouerkleed nie. 29Sodoende dra Aäron die name van die stamme van Israel in die borssak oor sy hart wanneer hy ingaan in die teenwoordigheid van die Here in die binneste heiligdom. So sal die Here voortdurend herinner word aan sy volk. 30Sit die Urim en die Tummim#28:30 Die grondteks se betekenis is onduidelik. waarmee God se uitspraak bepaal word, in die borssak. Dit moet altyd oor Aäron se bors wees wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron altyd die tekens vir die regspraak in Israel op sy hart voor die Here.”
Die ander klere van die priester
31“Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, moet van blou materiaal gemaak word. 32In die middel moet daar ’n opening vir Aäron se kop wees. Die opening moet ’n omboorsel#28:32 Die grondteks se betekenis is onduidelik. hê sodat dit nie kan skeur nie. 33Maak tosseltjies van blou, pers en bloedrooi garing en werk dit vas aan die mantel met goue klokkies tussenin. 34Die tosseltjies en klokkies moet mekaar afwissel en reg rondom die soom van die mantel vasgewerk word. 35Aäron moet die mantel elke keer aanhê wanneer hy na die Here toe gaan in die heiligdom. Die klokkies sal klingel wanneer hy ingaan en weer daar uitkom. As hy dit dra, sal hy niks oorkom nie.
36“Maak ook ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop soos op ’n seëlring die woorde: ‘Net vir die Here.’ 37Werk die blom met blou garing vas aan die voorkant van Aäron se tulband. 38Aäron sal dit op sy voorkop dra as teken dat hy medeskuldig is aan die oortredings wat Israel oor die offers begaan. Hy moet dit deurentyd dra sodat die Here goedgesind teenoor sy volk kan bly.
39“Aäron se mantel moet van fyn linne gemaak word. Die tulband op sy kop moet ook van fyn linne gemaak word. Jy moet ook vir hom ’n gordel van geborduurde materiaal maak.
40“Maak ook vir Aäron se seuns mantels, gordels en tulbande wat aan hulle waardigheid verleen.
41“Laat Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle en bevestig hulle in hulle ampte. Stel hulle aan om My as afgesonderde priesters te dien. 42Maak ook vir hulle broeke om onder hierdie klere te dra sodat hulle toe is vanaf die heupe tot by die bobene. 43Aäron en sy seuns moet elke keer hierdie klere aanhê wanneer hulle in die tabernakel#28:43 Of tent van ontmoeting. ingaan of na die altaar toe gaan om daar hulle werk te doen. As hulle dit nie aanhet nie, sal hulle sterf. Dit is die vaste reëls vir Aäron en sy nageslag.”

Currently Selected:

EKSODUS 28: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy