Parallel
5
1Moenie te gou praat nie.
Moenie oorhaastig
iets aan God belowe nie.
Onthou: God is in die hemel
en jy is op die aarde.
Laat jou woorde min wees.
2Baie aktiwiteit
gee jou rustelose drome.
Net so kom dwaasheid
van te veel woorde.
3As jy iets aan God belowe het,
moenie versuim om dit te doen nie.
Hy het nie tyd vir dwase nie.
Doen wat jy beloof het.
4Dis baie beter om niks te belowe nie
as om iets te belowe
wat jy nie doen nie.
5Moenie dat jou mond
jou na sonde lei nie.
Moenie jouself verontskuldig
by die verteenwoordiger
van die tempel deur te sê:
“My belofte was ’n fout!” nie.
Hoekom wil jy God kwaad maak
met wat jy sê
sodat Hy die werk van jou hande
vernietig?
6Want soos daar baie drome is
wat sinloos is,
so is daar ook baie woorde.
Maar jy moet ontsag hê vir God.
Rykdom is sinloos
7Moenie verbaas wees as jy sien
arm mense word verdruk
en hulle regte
word in die land misken nie.
Alle amptenare is onder gesag
van iemand bo hulle.
En oor hulle is daar ook weer
’n hoër gesag.
8En onder alles is die voordeel
vir ’n land dit:
dat ’n koning aan die landbou
diensbaar word.
9Mense wat geld liefhet,
kry nooit genoeg daarvan nie.
Mense wat van rykdom hou,
is nooit tevrede
met hulle inkomste nie.
Ook dit is sinloos.
10Hoe meer jy besit,
hoe meer word die eters
wat jou help om dit te spandeer.
Al voordeel wat jou rykdom
vir jou inhou,
is om te sien
hoe dit deur jou vingers glip.
11Mense wat hard werk,
slaap goed,
maak nie saak of hulle baie
of min eet nie.
Maar die skatte van ryk mense
laat hulle nie toe
om rustig te slaap nie.
12Daar is ook nog ’n ander
ernstige probleem
wat ek gesien het:
Party mense gaar besittings op
tot hulle eie ellende.
13Net een ongelukkige transaksie,
en hy verloor die rykdom.
As hy die vader van ’n seun is,
het hy niks om vir sy seun
na te laat nie.
14’n Mens kom kaal
die wêreld in,
so gaan hy ook die wêreld uit.
Daar is niks wat hy kan saamvat
vir al sy moeite nie.
15Dis ook onregverdig:
Soos mense gekom het,
so gaan hulle.
Wat help dit dat hy hom
vir wind afgesloof het?
16Lewenslank lewe hulle in die duister,
in smart, ellende en bitterheid.
17Maar ek het darem
ook iets goeds opgemerk:
Dit is goed dat mense
lekker eet en wyn drink
en hulle werk geniet,
wat hulle ook al
onder die son doen,
gedurende die tydjie wat
God hulle laat lewe.
Dit is hulle deel op aarde.
18En as God aan mense
rykdom en besittings gee,
en die vermoë om dit te geniet,
is dit ook ’n geskenk uit sy hand
dat ’n mens jou werk geniet
en jou deel in die lewe aanvaar.
19Hulle kry min tyd
om na te dink oor hulle lewe,
want God maak
hulle dae vol blydskap.