YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 2

2
Die Heilige Gees op Pinksterdag op die dissipelkring uitgestort
1Op Pinksterdag#2:1 Grondteks Toe die Pinksterdag aanbreek., sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. 2Skielik was daar in die lug bokant hulle#2:2 Grondteks uit die hemel. ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was.
3Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit. 4Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat.
5Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son#2:5 Grondteks hemel. in Jerusalem gewoon. 6Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het.
7Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, 8en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! 9Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome – 11Jode sowel as proseliete#2:11 Persone uit die nie-Joodse nasies wat die Joodse geloof ten volle aangeneem het., Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!”
12Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra. 13Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê.
Petrus se preek op Pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op. Hy het die skare met ’n harde stem toegespreek: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, neem nou deeglik kennis en luister goed na wat ek gaan sê: Julle moet nou goed luister! 15Party van julle beweer hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie! Dis heeltemal te vroeg daarvoor. Mense is nie nege-uur in die oggend#2:15 Grondteks teen die derde uur. al dronk nie. 16Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het: 17‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:
Ek sal my Gees uitstort op elke mens.
Julle seuns en dogters
sal die woord van God
verkondig#2:17, 18b Grondteks sal profeteer.;
julle jongmense sal gesigte sien,
en julle oumense sal drome droom.
18Ja, op die mans en vroue
wat in my diens staan#2:18a Grondteks op my dienaars en dienaresse.,
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort
en hulle sal my woord verkondig#2:17, 18b Grondteks sal profeteer..
19En Ek sal wonders gee
bo in die hemelruim
en wondertekens onder op die aarde –
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal ’n donker kol word,
en die maan ’n bloedkol,
voordat die groot en heerlike
Dag van die Here kom.
21Elkeen wat die Naam
van die Here aanroep,
sal verlos word.’#2:17-21 Joël 2:28-32.
22“Luister na wat ek gaan sê, geagte mede-Israeliete#2:22 Grondteks manne-Israeliete.! Soos julle self weet, het God in die openbaar by julle bevestig dat Jesus van Nasaret die Here is. Dit is bevestig deur kragtige dade, wonders en tekens wat God Hom by julle laat doen het. 23Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode#2:23 Grondteks mense wat buite die wet is. het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor. 24God het Hom egter van die smarte#2:24 Grondteks pyne. van die dood gered en Hom opgewek, want die dood kon Hom nie in sy greep hou nie.
25“Koning Dawid het die volgende van Hom gesê:
‘Ek het die Here
altyd by my gesien.
Niks en niemand
sal my laat wankel nie,
want Hy is hier reg by my.
26Dis hoekom my hart bly is,
en my tong jubel!
Ja, nog meer:
omdat ek hoop het,
leef ek rustig.
27Ek weet U sal my gees
nie in Hades#2:27a, 31 Of in die doderyk.
agterlaat nie
of toelaat dat u Heilige
in die graf vergaan nie#2:27b Of toelaat dat Hy wat aan U gewy is, vergaan nie..
28U het my die paaie geleer
wat na die lewe lei,
U sal my bly maak
met u teenwoordigheid.’#2:25-28 Ps 16:8-11.
29“Geagte volksgenote#2:29, 37b Grondteks Manne-broers., verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons.
30“Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit. 31Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat:
Hy sal nie in Hades#2:27a, 31 Of in die doderyk.
agtergelaat word nie,
sy liggaam sal nie in die graf
vergaan nie.
32“Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan. 33Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor. 34Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy:
‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand#2:34 Die regeerposisie.
35totdat Ek jou vyande
heeltemal aan jou
onderwerp#2:35 Grondteks ’n voetbankie vir jou voete gemaak. het.’#2:34-35 Ps 110:1.
36“Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”
Die eerste Pinksteroes word ingebring
37Petrus se woorde het hulle diep#2:37a Grondteks in die hart. geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote#2:29, 37b Grondteks Manne-broers., wat moet ons doen?”
38Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode#2:39 Grondteks vir almal wat daar ver is. – almal wat die Here ons God sal naderroep.”
40Petrus het nog lank aanhou getuig en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!”
41Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3 000.
Die eerste gemeente in Jerusalem – ’n besielende voorbeeld
42Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede. 43Diep ontsag het oor elke persoon gekom, en die apostels het baie wonders en wondertekens laat plaasvind. 44Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier#2:46 Grondteks brood gebreek; ’n vroeë aanduiding van die nagmaal., en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet.
47Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.

Currently Selected:

HANDELINGE 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy