YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 17

17
1Agitofel het toe by Absalom aangedring: “Laat my tog 12 000 man kies en vannag nog vir Dawid agternajaag. 2Ek sal hom inhaal terwyl hy moeg en moedeloos is. Hy en sy manskappe sal paniekbevange wees en sal almal vlug sodat ek die koning kan doodmaak waar hy alleen oor is. 3Ek sal al die mense na u toe oorhaal, soos ’n bruid wat terugkom na haar man, behalwe die een man na wie u soek#17:3 Hier is die lesing van die Septuagint gevolg.. Die hele volk sal dan vrede hê.” 4Hierdie plan het vir Absalom en al die ander leiers van Israel goed geklink.
Gusai uitoorlê vir Agitofel
5Maar toe sê Absalom: “Bring Gusai die Erekiet in sodat ons kan hoor wat hy hiervan sê.” 6Toe Gusai inkom, vertel Absalom hom wat Agitofel aanbeveel het. Daarna vra hy: “Wat dink jy hiervan? Moet ons Agi-tofel se raad volg? Indien nie, wat beveel jy aan?”
7“Ek dink Agitofel het hierdie keer ’n fout begaan,” sê Gusai. 8“U weet dat u pa en sy manne dapper vegters is en op hierdie oomblik so aggressief is soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Onthou tog dat u pa ’n deurwinterde soldaat is. Hy sal nie by sy troepe oornag nie. 9Hy kruip waarskynlik alreeds weg in een van die klowe of op ’n ander plek. En dan, sou daar in die begin al sommige manne omkom, sal daar paniek onder u troepe ontstaan sodat daar gesê sal word: ‘Daar was ’n groot slagting onder die manskappe van Absalom.’ 10Dan sal selfs die dapperstes van hulle bang word, selfs al het hulle die hart van ’n leeu. Onthou, die hele Israel weet u pa is baie dapper en dat sy manskappe heldhaftige krygers is.
11“Ek beveel aan dat u die hele Israel, van Dan tot Berseba, oproep, ’n menigte so talryk soos die sand by die see. Dan moet u self die troepe lei. 12Wanneer ons dan vir Dawid kry, waar hy ook al is, sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Dan sal daar niks van hom of een van sy manne oorbly nie. 13En as hy dalk na ’n stad toe vlug, kan die hele Israel toue gaan haal en die stad wegsleep tot in die naaste vallei sodat daar nie meer ’n klip oorbly nie.”
14Toe sê Absalom en die leiers van Israel: “Gusai se raad is beter as dié van Agitofel.” Dis die Here wat gesorg het dat die goeie raad van Agitofel verydel word omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.
Gusai laat waarsku Dawid om te vlug
15Gusai het toe Sadok en Abjatar, die priesters, ingelig oor wat Agitofel gesê het en wat hy aanbeveel het. “Maak gou!” het hy gesê. 16“Laat weet vir Dawid dat hy nie vannag by die driwwe na die woestyn moet oornag nie. Hy moet dadelik deurtrek, anders kan hy en sy hele leër uitgewis word.”
17Jonatan en Agimaäs het by die Rogelfontein gewag. ’n Slavin het die boodskap vir koning Dawid aan hulle gebring, want iemand sou hulle dalk sien as hulle die stad binnegaan. 18Maar ’n jong seun het hulle tog gesien en het vir Absalom gaan sê. Hulle het egter weggekom en hulle na ’n huis in Bagurim gehaas. Die man het ’n put in sy binneplaas gehad en hulle het daarin gaan wegkruip. 19Die man se vrou het ’n doek oor die put gegooi en graan daarop gestrooi om in die son droog te word. Niemand sou hulle daar verwag nie.
20Toe Absalom se manne daar aankom, vra hulle vir die vrou: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”
Sy het geantwoord: “Hulle het die spruit oorgesteek.” Absalom se manne het oral rond gesoek, maar kon hulle nie kry nie, en is terug na Jerusalem toe.
21Toe hulle weer weg is, het die twee jong manne uit die put geklim en hulle na Dawid toe gehaas. “Julle moet vannag nog gou die Jordaanrivier oorsteek!” sê hulle. Hulle vertel toe wat Agitofel aanbeveel het. 22Dawid en al sy mense het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek sodat hulle almal teen dagbreek aan die ander kant was.
23Intussen het Agitofel agtergekom dat sy advies nie aanvaar is nie. Hy het toe sy donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan. Daar het hy finale opdragte aan sy familie gegee en homself gaan ophang. Hy het gesterf en is in die familiegraf begrawe.
24Dawid het by Maganajim aangekom. Absalom en die hele leër van Israel het deur die Jordaanrivier getrek. 25Absalom het Amasa in Joab se plek as bevelvoerder van sy leër aangestel. Amasa was Joab se neef. Sy pa was Jeter#17:25a Grondteks Jitra., ’n Ismaeliet#17:25b Volgens Griekse vertalings en 1 Kron 2:17. Grondteks Israeliet.. Sy ma, Abigal dogter van Nagas, was ’n suster van Joab se ma Seruja. 26Die leër van Israel en Absalom het in Gilead kamp opgeslaan.
27Toe Dawid by Maganajim uitkom, het Sobi seun van Nagas van Rabba, ’n Ammoniet; en Makir seun van Ammiël van Lo-Dabar; en Barsillai die Gileadiet van Rogelim 28slaapmatte en erdepotte vir hulle gebring. Hulle het ook koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies, 29asook heuning, botter, skape en kaas vir Dawid en sy mense saamgebring. Hulle het gesê: “Julle moet almal baie moeg en honger en dors wees na julle lang tog deur die woestyn.”

Currently Selected:

2 SAMUEL 17: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy